Maandag 24 Junie 2024

Tulbagh toer Dag 2



Ontbyt is gereël vir 06:45 en ek word bedien met Weetbix, eiers op roosterbrood en 'n koppie Ricoffy. Ek pak my sak en vertrek 07:20. 


Dit is teerpad tot by die Montpellier afdraai. Dan volg 'n 3 km aanloop na Oudekloof plaas. Vanaf die opstal is daar 'n sement pad na 'n toring bo-op een van die koppies agter die plaas. Die gradiënt van die pad wissel tussen 12-17%! Ek stop op die seksie om my reënbaadjie, wat ek aangetrek het om warm te bly, uit te trek. Ek ruil ook my warm handskoene vir gewone handskoene. Na so ongeveer 2 km op die sementpad, is daar 'n grondpad wat regs afdraai in 'n westelike rigting. Dit is die begin van die res van Oudekloofpas. Die pad klim nog vir 200 meter en begin dan daal. Die pas word glad nie meer gebruik nie en is baie meer toegeroei as to ek in 2020 saam met Leon en Johann hier gery het. Dit is so erg dat ek verplig is om die grootse gedeelte te stoot want ek kan nie sien waar die klippe is nie en wil nie hier val nie, veral gesien dat ek alleen is en niemand sal kan help nie! Dit neem my dus heelwat langer om die af gedeelte te doen as wat ek beplan het. Onder moet ek oor 'n hek klim en nou is ek binne die gebied van die windplaas. So halfpad oppad hek toe, kom daar 'n bakkie my te gemoed. Hy stop toe hy langs my kom om te hoor vanwaar ek kom. Ek lig hom in dat ek met die Oudekloofpas oor die berg gekom het. Hy sê dit is 'n sekuriteitsgebied en ek mag nie eintlik hier wees nie! Sy stemtoon is gelukkig baie vriendelik en hy verduidelik vir my hoe ek moet ry om by die hek te kom. Die hek is net 'n "boom" met 'n gaping langsaan waar ek kan deur. Toe ek by die kantoor verby ry is daar "verbasing" met die vraag "waar kom jy vandaan?" Ek is egter al ver verby en besluit die sekuriteitsman kan haar inlig!




Links op die Gouda/Moorreesburg pad en dan regs op die Môredou pad oppad Riebeek Wes toe. Die modderpoele is vandag heelwat minder as gister en die padoppervlakte is ook meer verm. Ek volg my ou roete oor "agterpaaie" tot by PPC se sement fabriek langs Riebeek Wes. Dan so 'n paar kilometer regs op die Porterville pad. Net na Ongegund draai ek links op 'n grondpad en na 4 kilometer weer links op die Riebeeksrivier pad. Die gesukkel oor die Oudekloofpas het my gemiddelde spoed erg geknou en dit staan nou net oor doe 10 kpu! Teen die pas gaan ek eers na sononder in Bloubergstrand aankom. Daar is nou ook 'n "lekker" klim oor die nek na Riebeeksrivier toe. Anderkant af gaan dit lekker vinnig en net voor die R46 stop ek by Nuweplaas Padstal vir middagete. Na 40 miniute is ek weer aan die gang. 



Vier kilometer met die R46 af en dan links en regs op 'n plaaspad. Hier is 'n teken wat sê "Geen toegand" maar die hek is oop en ek het al 'n paar keer met die pad gery en nog nooit "probleme" opgetel nie. Na 7 kilometer tussen die landerye deur, kruis ek die R45 en ry met die Lammerskloof pad oor na die R302., 'n afstand van 13 kilometer wat weereens 'n lekker klim insluit. Na die klim draai ek links by Welgemeend om nou verby 'n paar hoender batterye te ry. Op 'n punt waar ek altyd links geraai het, is daar nou 'n konsertinahek, maar reguit aan is daar 'n goeie pad langs 'n wingerd en ek volg die. Na 500 meter loop die pad egter in 'n "verkeerde" rigting en ek is verplig om oor 'n heining te klim om op koers te bly. 'n Kilometer verder sluit ek weer by 'n groot grondpad, wat my afneem na die R302, aan. 



My tyd raak min en ek besef die donker gaan my vang voordat ek by die huis is. Ek besluit dus om my gebruiklike pad verby Windvogel en al langs die treinspoor af vandag te "mis" en hou met die R302 aan tot by Klipheuwel. Vandaar is dit regs en met dieselfde pad as waarmee ek gisteroggend gekom het, terug Bloubergstrand toe. Verby Blaauwberg plaas oppad Melkbosstrand toe, word ek geseën met die mooiste sons ondergang! Volgens my Garmin sak die son 17:45 en dit is nou presies 17:45! Ek het dus 'n halfuur om by die huis te kom voordat dit heeltemal donker is. Ek het darem ligte, so dit sal nie 'n "kriesis" wees indien die donker my inhaal nie. Toe ek Bloubergstrand binne ry, verdwyn die laaste stukkie "skemer". 




Na 139.99 km en 11:06 se ry is ek eindelik tuis. Dit was nou voorwaar 'n lekker uitstappie en ek sal dit weer doen. Volgende keer sal ek net mooi moet dink of ek weer die ou Nuwekloof en Oudekloof passe sal aandurf. Alby raak nou redelik onrybaar en die deurgang deur die windplaas is ook 'n probleem.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking