Saterdag 22 Junie 2024

Tulbagh toer Dag 1

 



Wat is nou lekker daaraan om 'n Saterdagaand alleen by die huis te sit? Aangesien daar die naweek ook nou nie eintlik noemenswaardige sport, waarin ek belangstel, op TV is nie, het ek besluit om Saterdag Tulbagh toe te ry en Sondag terug te kom. Ek kry plek by Villa Tarentaal, so 2 km N-O  an Tulbagh. Vrydagaand pak ek my sak en kry my fiets reg.


Saterdagoggend 07:25 begin die wiele rol. Dit het Vrydagaand lekker gereent, maar ek sien die weervoorspelling was reg en wanneer die son op kom is dit bewolk maar daar is geen teken van die moontlikheid van reent nie. Ek volg die pad Melkbosstrand toe en dan onderdeur die N7 deur na die ou Malmesbury pad. So 2 km in die pad af is daar 'n grondpad wat net voor die nou bruggie, oor die Mosselbankrivier, by die Philadelphia pad aansluit. Ek besluit om die pad te neem, indien die hek oop is. Ek het die opsie nou al 'n paar keer gebruik en nog nie enige probleme opgetel nie. Dit skakel ook 'n slegte stukkie teer, uit.


Daarna is dit deur Klipheuwel toe, Slent pad af tot ny die Leeuwendans afdraai en dan deur na Perdeberg pad by Windmeul. Links op die Paardeberg pad en na 'n kort entjie regs op 'n grondpad wat my deurneem na die R45. Dan regs en links op die Lady Loch pad. Na 4 km is dit weer links op die Haasendal pad. Die baie reën van Vrydagaand het die grond paaie redelik modderig gemaak, maar oor die algemeen is die oppervlakte baie goed met 'n poel water so elke hier en daar. Ek stel vir my die doelwit om Du Vlei voor 13:00 te bereik. Indien ek dit haal, stop ek daar. Indien nie, sal ek dit moet oorweeg om deur te ry. 



Dit blyk egter dat ek my met die afstand Du Vlei toe misgis het. Dit is toe so 15 km verder. Ek kom 14:30 daar aan en besluit met nog net 35 km oor, kan ek myself bederf met 'n middagete stop. Na 'n Coke, hoenderslaai en koffie, val ek weer in die pad. Die stop het 29 minute geneem. 


Van hier is dit al langs die treinspoor Gouda toe. Hier is heelwat poele water en die netto resultaat is nat skoene! Ek handhaaf darem 'n goeie tempo en stoot my gemiddelde spoed op met 0.6 kpu. Deur Gouda en dan weer langs die spoor af. Ek onthou van ons "Post Covid" rit Ceres toe dat die kruising van die teerpad 'n bietjie "hike-a-bike" gehad het en dit is weer so. Ons het laas ook gesukkel om die ou Nuwekloofpas, langs die treinspoor op te tel nadat ons oor die teerpad is en ek het nou dieselfde probleem. Na 'n rukkie kry ek die pad maar die is so toe gegroei dat ek binne 100 meter  my tot die treinspoor moet wend om vordering te maak. Teen die tyd wanneer die ou pad meer rybaar is, is ek so ver bo die pad dat ek besluit om maar liewer op die spoor te bly. Die klippe tussen die dwarslêers is ook lekker hoog op gevul, so ek handhaaf 'n redelike pas. Ek volg die opsie tot by Tulbaghweg. 



Daar is 'n grondpad deur Tulbagh toe so 'n bietjie nader aan die nuwe Nuwekloofpas wat ek wou verken, maar my tyd is nou min en ek ry met die teerpad tot in Tulbagh. Ry deur die dorp en kry die Villa Tarentaal afdraai. Ek arriveer daar na net meer as 9 en 'n half uur se ry en 136 kilometer. Ek vra waar 'n lekker restourant is en kry 'n aanbod van kerrie en rys wat die gasvrou self gemaak het. "What a bargin". Nou hoef ek nie dorp toe ry vir aandete nie. Ek het, tydens die bespreking, ook gevra of sy Weetbix vir ontbyt kan verskaf en sy het dit ook bevestig. So alles werk mooi uit. Môre beplan ek om weer so 7:30 in die pad te val.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking