Sondag 09 Junie 2024

House on the Hill toer dag 2


Ons begin weer vroeg roer en kom 07:12 aan die gang. 2 km anderkant House on the Hill (HotH), op die pad Heidelberg toe, draai ons links. Ons begin sommer gou klim en dit sal dan ook die orde van die dag wees. 


Aanvanklik dink ek dat vandag kort skerp klimme sal wees, maar dit verander gou in lang klimme met 'n hele paar "kickers" oppad na die kruin toe. Die eerste groot klim is 2.71 km met 132 meter se klim. Dit word gevolg deur een van 3.59 km met 294 meter se klim en so gaan dit aan. Ons gemiddelde spoed val tot 7.5 kph. Hierna raak dit darem meer redelik en ons kry ons gemiddelde spoed op na 10 kpu. 





Ons ry verby die Korintedam, waar daar ook 'n vakansieoord is. Ek was glad nie bewus van die bestaan van die twee nie. Van die pad af lyk dit heel goed. Die laaste paar kilometer Riversdal toe is lekker afdraand en ons gemiddelde spoed styg na 11 kpu. By die teerpad Riversdal toe besluit ons dat ons die 3 kilometer Riversdal toe sal ry vir 'n lekker koppie koffie by die Ou Meul. Daar gekom geniet ons elkeen twee koppies koffie en deel 'n porsie skons. Na 31 minute val ons weer in die pad. Dit is amper 12:00 en ons het nog 75 km om te ry!


Die volgende 25 km is teer en sluit Garciapas in. Net voor ons die pas pak, stop ons om van ons warm klere uit te trek aangesien die temperatuur besig is om te styg. Garciapas se gradiënt wissel so tussen  4 en 9% met die gevolg dat ons 'n goeie gemiddelde spoed kan handhaaf. Dit neem ons 55 minute on die 11 km van die begin tot einde van die pas af te lê. Anderkant hoop ons om by Muiskraal te stop vir water, maar die is egter bot toe. Nie 'n groot verlies nie gesien hulle gebrek aan noemens waardige opsies wat eetgoed betref. Dit spaar ook tyd. 



Ek het vanoggend, na 5 km agter gekom ek het my waterbottel by die huis vergeet. Mike bied toe se spaar bottel vir my aan. My plan was om sommer 500 ml water by Ou Meul te koop, maar dit het ook vergete gegaan. Die plan was toe om by Muiskraal vol te maak, maar dit kan nou ook nie gebeur nie. Sal maar vir stroompie oppad Gysmanshoekpas toe, moet wag. Die geluk tref ons egter so 15 km voor die pas in die vorm van 'n lekker sterk lopende spruit waar ons ons water voorraad kan aanvul. 


So 23 kilometer anderkant Muiskraal draai ons link op die Gysmanshoekpas pad. Die eintlike klim begin eers na 4 kilometer. Die klim gedeelte van die pas is 3.68 km en ons klim 300 meter! Dit is 'n gemeddelde van 81 m/km. Dit is kwaai in enige man se taal. Die gradiënt wissel so tussen 10-17%! Die bene voel egter goed en ek is na 38 minute bo. Dit is my vierde keer hier op en die eerste keer wat ek die pas uit ry sonder om te rus of 'n gedeelte te stoot. Bo gekom eet ek die res van my toebroodjie en drie dadels. 


Die pad anderkant af is redelik rof, so versigtigheid moet gehandhaaf word en die spoed moet binne perke van die oppervlakte gehou word. So 'n ent af stop ons weer by 'n stroompie vir water. Dan is dit weer bult af. Ek stop weer om my warm baadjie aan te trek. Die temperatuur is besig om te daal en dit raak koud!


Met nog so 16 km huis toe, draai ons regs Heidelberg se kant toe. Nog net twee klimme en 'n lekker afdraand dan is ons by die huis. In tussen is daar ook 'n paar lekker ander afdraandes en 'n dieperige waterpoel om deur te gaan. 


Die eerste opdraand is 1.92 km met 129 meter se klim. Daar is 'n gedeelte wat 14% is. Op die eerste draai is daar 'n teken, op 'n baie "flimsy" draadheining wat sê "gevaar buffels geen toegang". Ek moet erken dat ek nie graag daar sal wil wees indien daar 'n buffel naby is nie want daardie heining gaan hom beslis nie stop nie. 



Die waterpoel het vandag ook 'n lopende revier gedeelte, maar die stroom is nie baie sterk nie. Ek laat vir Mike eers deurgaan aangesien ek beplan om deur te ry en dan moet hy my afneem. Hy roep my nadat hy deur is en ek begin trap. Hoe verder, hoe dieper. Ek moet trap dat dit klap om momentum te behou. Die water is tot oor my knië! Gelukkig is daar nie veel van 'n stroom nie en ek maak dit! Dit was amper! 



Die poel word gevolg deur die laaste bult. 3.99 km met 264 meter se klim. Na 33 minute is ek bo. Nou is dit 3 kilometer huus toe en alles bult af. Ek haal 'n maksimum van 65 kpu! Daar is 'n paar draaie waar ek versigtigheid aan die dag lê, maar die meeste van die tyd is dit holder ster bolder die bult af. Ek maak die einde sonder enige voorval.


Die dag se afstand was 114.54 en dit het ons 10:21 geneem. Ons het 2,593 meter geklim. 


So eindig die eerste House on the Hill toer. Dit is 'n toer wat ek beslis weer sal doen, met so een of twee aanpassings. Mike is heel opgewonde en voel dat ons moet kyk na die moontlik om 'n besigheid daarvan te maak en gereelde toere in die ongewing te reël. Beslis iets waarna gekyk kan word!







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking