Sondag 09 Junie 2024

House on the Hill toer 7 Junie 2024






Ek en Mike Smit vertrek Vrydag 7 Junie 2024 Heidelberg toe vir die eerste House on the Hill toer. Die plan is om Saterdag 'n sirkel roete oor Suurbraak en dan Suid van N2 en terug te doen. Ongeveer 120 km. Saterdag van House on the Hil (HotH) na Dwarsrivier 10 km Noord van Herbertsdale. Dan óf Rooiberg toe en die volgende dag terug na HotH of direk HotH toe. Die baie reën in aanloop tot ons beplande toer, veroorsaak dat ons die Dwarsrivier en wat soe volg, moet kanselleer as gevolg van 'n vol Gouritsrivier. Ons besluit om nog dag een te doen en dag twee aan te pas na HotH, Ou Meul RIversdal, Garciapas en Gysmanshoekpas.


Ons kom net na 17:00 by HotH aan. Ek het vir aandete gereël en ons kry hoenderpastei, beet en "pickled peaches". 


Saterdagoggend val ons net na 07:00 in die pad. Voor 08:00 moet ons die Duiwenshokrivier vir die eerste keer kruis. Hy loop redelik strek en ek is verplig om halfpad deur af te klim en verder te stoot. Mike moet sy e-bike deur dra omdat die watervlak te hoog is. Die tweede kruising is vlakker en ek ry gemaklik deur. 



Na so 'n uur se ry kry ons die eerste groot bult. 'n Klim van so 3 km waar tydens ons 250 meter klim. Bo gekom is ons stom geslaan deur die mooi natuurskoon. Ons neem die Grootvadersbos afdraai want Tracks4Africa wys daar is 'n pad deur na Suurbraak. By die hek word ons in gelig dat dit nie die geval is nie en moet ons noodgedwonge omdraai. Die uitsig van net voor die hek in 'n S-O rigting het die "draai" die moeite werd gemaak.




Oppad Suurbraak toe maak ons 'n draai by Flekvieh, waar ek tydens BB2BB2 gebly het aangesien ek hulle nog nie betaal het nie omdat ek nog nie 'n faktuur gekry het nie. Daar is egter niemand wat ons kan help nie en ons ry aan.


In Suurbraak draai ons links N2 se rigting. Dit is 'n redelike klim deur die dorp maar anderkant word ons weer geseën met 'n goeie pad met 'n goeie mengsel van redelike bulte, gevolg deur die kenmerkende afdraandes. Net anderkant die N2 kruis ons die treinspoor wat toon dat 'n trein baie lanklaas daar verby gekom het. Ons stop vir 'n "breek" en eet van ons toebroodjies. 


Hierna is die topografie tipies van die wêreld. Bulte gevolg deur afdraandes wat tussen landerye deur kronkel. Ons kry 'n "kortpad" wat aanvanklik goed lyk, maar na 1 km minder belowend. Ons besluit om eder om te draai voordat ons ons vasloop. Die pad sluit aan by 'n teerpad wat skynbaar die oorspronklike die N2 was. Ons gaan weer oor die N2 en volg weereens 'n redelike goeie pad tussen die landerye deur tot by die R322. 


Hier het ons 'n keuse van links of regs. Albei ly na dieselfde eindbestemming. Ons kies regs. Na 'n paar km word die pad 'n teerpad. So 'n kilometer die pad af, draai ons links op 'n grondpad. Na 'n rukkie kom ek agter dat dit pad is wat ek tydebs BB2BB2 gery het toe ek 'n afdraai gemis het. Hier is egter baie paaie in die omgewing wat gevolg kan word en by dieselfde bestemming uitkom. 


Ons sluit by die pad aan wat ons vroeër die oggend gery het en wel tussen die twee kruisings van die Duiwenhoksrivier. Die keer kry ek dit reg om sonder probleme deur te ry. Anderkant is ons bult op en dan reguit HotH toe. 



Ons arriveer na 117 km en 9:56 in die saal. Na 'n lekker bier, was ons fietse. Aandete is saam met die eienaars van HotH. 'n Vriendin verjaar en hulle hou 'n "build a buger" aand en het ons genooi om saam te kom eet. Dit is 'n heel gesellige aand en na 'n paar burgers is ons terug huis toe. Ons moet in die bed kom want die volgende oggend moet ons weer vroeg in die pad val.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking