Saterdag 01 Junie 2024

360NE 2024



 Vrydag 24 Mei 2024 was weer 360NE tyd en dit sal nommer 10 wees!

Ek, Johann de Bruyn en Annemarie Muller vertrek Donderdag net na 12:00 uit die Kaap oppad Oudtshoorn toe. Egbert Robertson, Malan Muller, hulle vrouens en Fred Lowe is ook oppad. Ons bly almal by Hlangana Lodge, regoor die begin van die 360NE. Aandete is by die Spur. Ontbyt is ook by die verblyf ingesluit en ons stap daarna oor na Kleinplaas om te registreer. Ek gebruik my prysgeld van verlede jaar se derde kom in die 70+ groep om vir my 'n 360NE baadjie te koop. Daarna is ons terug lodge toe om te "chill" tot so 13:00 wanneer ons begin regmaak vir die begin van die wedren.



Ons tree se 14:40 aan in die wegspring area. Ek knoop 'n gesprek met die persoon langs my aan en daar kom ons agter dat ek sy rymaat mekaar ken! Hy is Dimmie Dimilander wat ek gedurende die 1990tigs by CBMC ontmoet het. Ek het so 20 jaar gelede ook saam met hom in 'n helikopter vanaf George lughawe gevlieg. Watter klein wêreld leef ons nie in nie!


Die wiele begin 14:59, volgens my Garmin, rol. Die eerste paar kilometer is 'n neutrale sone en ons ry lekker rustig. Na 7 kilometer draai ons regs op 'n grondpad en die klim begin. Nie te dramaties nie, maar wel opdraend. Dit hou vir 9 kilometer aan. Bo kry ek vir Malan en hou by hom stil. Ons delibeer 'n rukkie en wonder waar die ander is, dan besluit ons om aan te ry! Dit is nou 'n lekker lang afdraend van 30 kilometer. Aanvanklik daal ons vinnig, maar oor die laaste 10 km is die daling minimaal. Ons kruis ook die R62 en sluit later aan by Oudtshoorn/Kammanassie Dam pad. Net voor die dam is waterpunt nommer 1. Dit het my 2:30 geneem om die 55 km af te lê. Hier loop ek en Malan mekaar weer raak. Ons draai hier regs op die Heimersrivierpad en begin onmiddellik klim. Ons klim 180 meter in 6 kilometer. Van hier tot by Louvain, waar waterpunt 2 (kontrolepunt 1) is, gaan ons óf op óf af! Ek voel besonder goed en bly by 'n groep ander ryers. My hartspoed bly so tussen 110 en 130 en ek voel nie dat ek bo my vermoeë moet ry om by te hou nie. Ek kom na 5:25 by Louvain aan en het nou 102 km af gelê teen 'n gemiddelde spoed van 19 kpu! Ek spandeer 27 minute hier om 'n paar koppies sop te drink en nog warm klere vir die nag op te tel. Ek trek ook warm waterdigte sokkies en ander skoene aan.



Die roete van Louvain na Heimersrivier is aangepas en ons gaan nie meer tot by Harold en dan met Paardepoort af nie. Hulle lei ons met 'n enkelspoortjie onderdeur die N9 en ons sluit aan by die Eseljag pad wat weer aansluit by 'n gedeelte van die pad waarmee ons vroeêr tussen Heimersrivier en Louvain gery het. Na 129 km en 7:16 se ry klok ek by die Heimersrivier waterpunt in. Ek is binne 6 minute weer aan die gang. Op 152 km en na 8:40 bereik ek waterpunt 4 en stop vir 5 minute. Alhoewel die pad nie gelyk is nie daal ons van 633 meter by Louvain na 302 meter teen die tyd wat ons by die R328 tussen Oudtshoorn en Mosselbaai aansluit. Op 174 km en 9:49 se ry kom ek by Volmoed en waterpunt 5 (kontrolepunt 2) aan. Hier kry ek 'n bord spaghetti bolognaise en warm sjokkelade. Ek loop ook weer vir Malan hier raak. Die dames is ook hier om te help. Na 24 minute vertrek ons saam, maar hy laat my baie gou agter. Ek sien nie kans om sy pas te probeer handhaaf nie.



Volmoed is op 266 meter en oor die volgende 14 km klim ons tot by 542 meter. 'n Meedoenloose opdraend van so 10 km gevolg deur 'n heeltydse op en af tot op die hoogtepunt. Dan begin ons gelydelik afdaal na die Gouritsrivier, maar daar is darem waterpunt 6 op 212 km. Ek is nou al vir 12:40 aan die gang. Van die Gouritsrivier, waar ons op 106 meter is, klim ons weer na waterpunt 7 wat op 309 meter sit oor 'n afstand van 16 km. Afstand staan op 240 km en tyd op 14:47. Nou kom Rooiberg! Vandag neem dit my 1:20 om die 7 km af te lê, wat 'n gedeelte se stoot insluit! Bo stop ek weer vir 5 minute. Die reën wat in April geval het, het die pad anderkant af redelik rof gemaak. My hande pyn en my nek is seer, maar ek moet net aanhou! Na 280 km en 18 uur in die saal, kom ek by waterpunt 9 (kontrole punt 3), Calitsdorp aan. Fred Lowe en die dames is weer hier om te help. Fred olie my fiets se ketting en help my om Saline Solution te kry om my kontaklense af te spoel. Ek vertoef 36 minute waartydens ek twee pannekoeke eet en ander sokkies en skoene aantrek. Malan vertrek net toe ek hier aankom. Hy is dus tans so 'n half uur voor my. 


Ek het verwag om so 7 uur oor die laaste 80 km te neem. Calitsdorp lê op 232 meter en oor die volgende 40 km klim ons, gelydelik, tot by 753 meter. Na 320 km in die bene is dit rof. Nou pyn alles en al wat die bene laat draai is deursettings vermoeë. Die einde is in sig en nou moet daar net deur gedruk word! Wildehondekloof is vanjaar baie rof en gedeeltes van die pad is lelik verspoel, so ons moet dit maar gemaklik vat en versigtig oor die rowwe gedeeltes ry. Teen hierdie tyd het ek en Dimmie Millander weer by mekaar uitgekom. Ek was voor hulle, maar hulle het my teen die laaste bult ingehaal. Deur die kloof trek hulle onder my uit. Ek het net nie die krag om by hulle te probeer hou nie! Ek "skip" oudergewoonte die laaste waterpunt aangesien daar net ongeveer 14 km oor is. In Calitsdorp het ek gereken en sal in so 25:30 uur klaar maak. Met 40 km oor het daardie syfer afgekom na 25 uur en nou staan hy op 24:30! So ek het beter as verwag gedoen oor die laaste 80 km. Dit het beslis nie so gevoel terwyl  ek gery het nie! Nou ry ek net so vinnig moontlik, al die pyne inaggeneem. Teen die tyd wat ek die teerpad bereik het ek nog 30 minute oor om die laaste 7 km af te lê indien ek onder 24:30 wil klaar maak. Indien ek dus meer as 14 kpu kan handhaaf sal ek my mikpunt bereik. Die enigste probleempie is daardie laaste bult net voor Oudtshoorn! Ek kry dit reg om hom teen 14 kpu uit te ry en handhaaf so 20-25 op die geykte gedeeltes!


Na 24:24 en 359.7 bereik ek die eindstreep. 360NE nommer 10 in die sakkie! Watter voorreg! Halleluja!! 







Egbert en Annemarie maak in 27:51 klaar. 'n Baie goeie prestasie, veral indien in ag geneem word dat Annemarie die laaste 130 km met 'n seer knie moes ry. Dit is wonderli wat adrenalien kan doen!



Ek het darem my prys vir my 10de 360NE gekry!




Oppad terug huis toe gesels ons natuurlik oor die wedren. Johann het by kontrole punt 1 flou geraak terwyl hy nog op sy fiets was! Gelukkig was dit nie te ernstig nie en na 'n dag se rus voel hy beter. Annemarie het net voor waterpunt 8 geval toe sy verblind is deur 'n ambulans se ligte! Ten spyte van 'n seer knie, het sy saam met Egbert klaar gemaak. Dit is nou wat ek noem "guts"! Sy is egter vas oortuig dat sy nie weer hieride "mal" uitdaging gaan aanvaar nie. Een is genoeg. Johann kom egter met 'n ander "angle"! Hoekom doen hulle nie die "Relay in 2025 nie? Hy sal die Roooiberg gedeelte ry. Annemarie sê sy sien  kans vir die Louvain/Volmoed skof. Daar word ook name genoem van wie die eerste en laaste skof kan aanpak, maar dit sal ons vir later hou!










Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking