Dinsdag 20 Februarie 2024

Harold na Gouritsrivier

Ek kom 06:20 aan die gang. Die eerste ding wat ek “beproef” is my knie, wat vanoggend heelwat beter voel. Ek is bewus van hom, maar dit pla my nie so baie soos die vorige dag nie. Die volle afstand vir die dag is 120 km en dit is, grotendeels, deel van die 36ONE se roete. Met die 36ONE word dit egter in die nag gery en nou kry ek die geleentheid om in die dag te sien hoe die wêreld lyk. 

 

Die weer is goed en ek ry rustig. Toe ek deur Zebra ry, hoor ek ‘n “ping”. Ek hou stil maar sien niks wat die geluid kon gemaak het nie. Dit het egter vir my net soos ‘n speek wat gebreek het, geklink. Ek hoor dan ook na ‘n rukkie later iets wat soos ‘n gebreekte speek klink. Ek hou stil en stel vas dat ek wel ‘n speek gebreek het. Gelukkig is dit nie ernstig nie en kan ek sonder probleme aan ry. 


Ek bereik Volmoed na 4:36 en 56 km. Ek het al, met vorige geleenthede, ‘n paar keer by La Plume op Volmoed gestop, maar die diens was so swak dat ek besluit om eder ‘n winkel te soek. Daar is egter niks anders beskikbaar nie en ek moet maar, noodgedwonge, weer La Plume toe gaan. Word ek nie aangenaam verras nie! Die brooedjie wat hulle aanbied is uit die boonste rakke en ek is binne 30 minute weer op die pad. 

 

Terwyl ek daar sit en rus, loer ek oop WhatsApp en sien dat Leonico net ander kant Uniondale is. Ek skat dat ons so om en by Gouritsrivier by mekaar sal uit kom, aangesien hy van Heimersrivier af dieselfde pad as ek ry. Net na Volmoed is daar ‘n klim van 8 km. Nie baie styl nie, maar aanhoudend! Bo loer ek waar Leonico is en sien dat by Kandelaarsrivier is. Intussen karring ek maar voort. Op 75 km hoor ek ‘n motor agter my en aanvaar dat dit een van die “locals” is. My verbasing is groot toe ek sien dat dit Leonico is. Hy hou langs my stil. Ek sê vir hom dat ek nou ‘n probleem het. Hy snap dadelik wat ek bedoel en sê, “ja teen die onderkant van die bult”! Die bult is toe 5 km lank en dit is alles afdraand! Onder by die spruit stop ek en laai my fiets in die motor. Met ‘n knie wat nie 100% is nie en kan doen met ‘n bietjie rus, is dit sekerlik die beter besluit. Met 80 km vir die dag en 7:40 in die saal was dit 'n goeie uitstappie. Dit is nog 40 km van Vanwyksdorp af en 21 km na Gouritsrivier toe. Net voor ons oor die Gouritsrivier gaan is daar ‘n huis op linkerkant waar ek in April 2021 water gesoek het. Ons stop gou hier en ek bevestig dat daar wel ‘n watertenk buite is, so indien ek April hier deurkom  kan ons ons waterbottels hier volmaak. Die Gouritsrivier loop ook so sterk dat ek self daar water kan kry, maar dit is ‘n ope vraag of dit nog die geval in April sal wees. 

 

Ons kom net voor 16:00 op Rooiberg aan waar ons afpak, lekker rus en ‘n heelike aandete kry. Ek sou graag einde April hier wou bly, maar hulle het daardie week ‘n konverensie en is dus vol.

 

So eindig die “recci”. Alhoewel ek nie die volle afstand van 480 km gedoen het nie. Het ek ‘n goeie 4 dae se oefening in gekry. Ek het ook die gewig van my rugsak reg gekry.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking