Sondag 09 Februarie 2020

Tankwa Trek Dag 4

Dag 4 is die "maklike" dag van die Tankwa Trek. Die roete is van vanjaar 'n bietjie aangepas. Waar ons in die verlede die eertse 35 km oop gronpad gehad het, het hulle nou 16 km se jeep track en single track in gebou en voordat ons by die grondpad aansluit.

Ons spring weer 6:55 weg. Die pas is geweldig. Dit lyk of ons besig is met 'n 10 km "sprint"! Aanvanklik is ons op 'n goei plaaspad. Dan word ons afgelei na 'n jeep track en dan 'n afwisseling van single tracks en jeep tracks. Ek besluit en gaan my nie breek nie en ry teen 'n pas wat my pas. Heelwat ryers kom by my verby. Ek is alleen toe ek by die hoof pad uit kom. Daar is ryers voor en agter my, maar ons vorm nie bondels nie. Na 'n rukkie kom twee ouens verby en ek kry dit reg om by hulle te hou. Die groep word al groter en die pas al warmer! Ons ry teen 'n pas wat wissel tussen 25 en 35 kpu. Die pad oppervlakte is goed en redelik gelyk. Ek hou by tot so 'n kilometer van die waterpunt. Hier volg ek die normale prosedure van olie, Coke en peisangbrood. 

Wat nou volg is van die beste single tracks dinkbaar met 'n redelike bult in die middel. Ons spoed oor die single track wissel so tussen 15 en 25 kpu met 'n paar tegniese gedeeltes wat teen minder as 10 kpu aangedurf moet word. Dit hou vir ongeveer 13 kilometer aan en is bergfietsry uit die boonste rakke! Dit word gevolg deur bult af op 'n redelike grondpad en dan 'n enkelspoor teen die hang van 'n berg met 'n angel in die middel om oor die nek te kom. Anderkant die nek behou ons die kontoer op 'n jeep track totdat ons afdaal na Waterpunt 2. 


Hierna is dit 'n mengsel van plaas paaie, paadjies deur vrugte boorde en so hier en daar 'n behoorlike grondpad. Ek tel twee ouens op wat dieselfde pas as ek ry en ons gesels lekker, onder andere oor die Freedom Challenge. Ons ry so vir ongeveer 10 kilometer saam. Ek kom na 74 km en 4:26 se ry tyd by die laaste waterpunt aan. Ek was van mening dat daar nog 14 km oor is, en reken ek behoort nog so 'n uur te ry. Ek ry meesal op my eie met ryers wat by my verby kom, by wie ek nie kan hou nie en ryers by wie ek verby gaan omdat hulle te stadig ry! Niemand ry my pas nie, maar ek is tevrede. Ons is nou weer op redelik lekker enkelspoorjies met 'n paar jeep tracks ingegooi om dit interessant te maak. Die laaste 3 km is dieselfde as dag 2 se einde en ek maak in 5:01 klaar. Die totale afstand was toe net 83 km. Ek eindig die dag 253ste uit 302 spanne en enkel ryers wat klaar maak.

So eindig nog 'n baie aangename en suksesvolle Tankwa Trek. Total tyd 18:47:17; totale afstand 282.1 km; totale meters geklim 4,773




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking