Saterdag 08 Februarie 2020

Tankwa Trek Dag 3

Die dag sluit die Du Toit Drop en die Marino Monster in. Die Du Toit Drop is baie lekker en redelike rit van Bo op die Berg af tot op die vlak van Prince Alfred Hamlet. Die Marino Monster is 'n monster klim oor 8 km, gevolg deur 'n baie klipperige en tegnies afdraand van ongeveer 10 km.

Ons spring weer 6:55 weg. Die eerste paar kilometer tot by die hoofpad is dieselfde as gister, maar dan draai ons links en byna onmiddelik weer regs deur die vrugte boorde. Na 8 km kom ons by die bopunt van Du Toit Drop. Soos gewoonlik is daar 'n oponthoud en ons moet wag voordat ons aan die gang kan kom. Dit bly 'n ongelooflik lekker ondervinding om hier af te ry. Dit is redelik uitgery as gevolg van al die deelnemers wat al hier af is en mens moet mooi konsentreer om jou balans te hou. Ek haal darem die einde sonder enige voorvalle.

Na die drop volg 'n stukkie baie vinnige afdraand op 'n goeie pad voordat ons herlei word na 'n enkelspoor deur die veld. Die moeilikheids graad is redelik, maar dit is moeilik om by iemand verby te gaan. Die pas is egter redelik en ons vorder goed. Daar is 'n paar redelike tegniese afdraandes . By een van hulle word ek opgehou wat veroorsaak dat ek my balans verloor, net voordat ek kan stop en ek eindig tussen die bossies. Ek het 'n rukkie van tevore 'n ryer met "13,500 km en 27,500 meter se klim" op sy hemp gesien. Ons begin gesels. Naam is James Texeira, hy is van Jhb en die hemp verwys na 'n rit van Madrid na Lisabon. Kom gou weer aan die gang en na 'n rukkkie kom ons by die eerste waterpunt aan. 

Nadat my fiets se ketting ge-olie is en ek 'n paar glasies Coke afgesluk het, val ek weer in die pad. Die roete van hieraf is baie dieselfde as voor die waterpunt. Ons vorm 'n redelik groot groep en handhaaf 'n  goeie tempo. Na 'n rukkie gaan ons onderdeur die teerpad. Dit word gevolg deur 'n redelike rowwe entjie in 'n ou rivierloop af. Nadat ons deur 'n paar plase is, sluit ons by 'n distriks pad aan wat ons na waterpunt 2 neem.

Olie weer die ketting, drink 'n paar glasies Coke, eet piesangbrood en val in die pad. Van hier klim ons tot bo-op Marino Monster. Eerste op die agenda is die ou Theronsbegpas. Dit is nie baie styl nie, maar klim gelydelik oor 'n afstand van ongeveer 5 km.
Bo kruis ons weer die teerpad en ry deur plaas gronde na die begin die Marino Monster waar waterpunt 3 is. Na die gewoonlike begin die groot klim van die dag. Langs die pad kom ek weer vir James Rexeira tee. Hy sê hy hou van my pas. Dit laat hom aan 'n John Deere dink! Ek ry die hele Monster en stop twee keer om fotos the neem en 'n biejie asem te skep. Dit neem my 1:22 om die 8 km af te lê.



Bogekom volg ek die normale prosedure, laat 'n foto neem en pak dan die tegniese en moeilike roete af aan. Dit neem my 40 minute om die 10 km tot by die distrikspad af te lê. Teen daardie tyd is my gewrigte "sat" van rem en my voorwiel oor klippe te navigeer! Voorwaar nie 'n maklike afdraand nie.
Onder vorm ons 'n groepie en James Texeira is deel daarvan. Ons werk lekker saam en handhaaf 'n goeie pas. Ons verlaat die grootpad en klim op plaaspaadjies en enkelspore. Ons bly by mekaar en ry dat die stof staan. Met 3 km oor tel James 'n probleem met sy waterbottel op en raak 'n bietjie agter. Twee ryers kom verby en ek spring op hulle agterwiele. Met 2 km versnel ek by hulle verby en lê die rieme neer. Met 'n kilometer oor kom een by my verby ek bly by maar oor laaste 500 meter verloor ek die wiel en eindig so 50 meter later. Ek is kaput. 6:43 vir 89 km!  Eindig 231 uit 304 wat die spanne insluit.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking