Saterdag 08 Februarie 2020

Tankwa Trek Dag 2

Die elite manne spring 06:30 weg. Ons kom 6:55 aan die gang. 

Ons begin weer met van die jeep tracks net agter Kaleo, maar vandag begin sommer gou klim. Daarna volg 'n paar kilometer deur die appel boorde tot wanneer ons die ou wapad roete deur ba die Witzenbergvallei volg. Dit is redelik tegnies en ons klim baie, wat dit nog 'n bietjie moeiliker maak. Ons kruis die teerpad vallei toe en daal af na die vallei met 'n enkelpaadjie wat weerens die ou wa roete volg.

Onder in die vallei volg ons 'n roete regs aan die voet van die berg. Die roete is baie  mooi met heelwat tegnies stukkies en baie op en af. Op 27 km kry ons die eerste waterpunt na 'n kort entjie op die teerpad. Dit word gevolg deur 'n lang klim met 'n redelike maklike gradient. Daarna volg ons weer die voet van die berg. Hier is die roete baie meer tegnies en op en af. Dit verg konsentrasie om momemtum te behou en aan die gang te bly. Dit eindig net na ongeveer 44 km en na 'n kort jeeptrack sluit ons by 'n distrikspad. Na 'n paar kilometer draai ons weer tussen die boorde in. Ek begin agterkom dat my agterband redelik pap is. Dit is egter net 'n paar kilometer tot by die volgende waterpunt en ek besluit om deur te druk. Gelukkig hou die wiel en daar is 'n voet pomp by die waterpunt. Ek laat hom lekker styf pomp en kan sien waar die lek is. Hoop egter dat die "sealant" die gat sal toe maak. Toe ek daar wegtrek is die band nog styf so die "sealant" werk. 


Die volgende groot klim begin nou! Van hier klim ons tot bo op die berg tussen die Witzenbergvallei en Tulbagh. Ons kan self vir Tafelberg in die verte sien. Die daal af na die vallei is baie rof en dit verg goeie konsentrasie om regop te bly. Ek bereik darem die volgende waterpunt sonder enige voorvalle. Nou het ons 6 km teer en dan is die wapad, maar nou in die teenoorgestelde rigting. Alles verloop darem goed en ek handhaaf 'n goeie pas tot by die laaste waterpunt.



Hier vertoef ek nie lank nie en val in die pad om te kyk of ek nie 'n paar manne jan inhaal nie. Ek vorder goed en kry dit ook reg om heelwat ander ryers in te haal, toe ons die laaste enkelspoor met nog 5 km oor bereik. Om iemand by 'n enkelspoor verby te gaan is bykans onmoontlik en ek sit maar die laaste per kilometers agter twee manne wat darem redelik goed is en eindig 261st in 'n tyd van 5:41. Op die stadium is ek 262de met 'n totale tyd van 7:44

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking