Woensdag 29 Mei 2019

Riebeek Kasteel FR oefenrit

Soms gebeur dinge op snaakse en/of interessante maniere. My fietsry maat, Mike Smit stuur die dag voor verkiessingsdag vir my 'n foto van 'n fiets by Cycles Direct wat hy dink net reg is vir my. Ek lag dit af en los dit daar. Oppad om te stem noem ek dit vir Sue. Sy sê so in die verby gaan "hoekom koop jy hom nie?". Dit skop my gedagtes in rat en ek begin sommetjies maak. My huidige fiets is al 5 jaar oud en het meer as 50,000 km gedoen. Die diens om hom reg te kry vir die Freedom Challenge gaan my R5,000-R10,000 kos want daar is baie onderdele wat vervang moet word en ek kan darem seker so R15,000-R20,000 vir die oue kry. So, wanneer jy sulke somme begin maak en met my vrou se goedkeuring, neem dit my nie lank om dié besluit te neem nie. Teen Vrydag 10 Mei is die transaksie gefinaliseer en ek neem op Woensdag 15 Mei besit van 'n nuwe Specialized Stumpjumper!

Ek en twee vriende het Saterdag 4 Mei van Bloubergstrand Voolvleidam toe gery. Dit het my gedagtes aan werk gesit en ek werk toe 'n rit van Bloubergstrand verby Hermon oor Riebeek Kasteel en terug Bloubergstrand toe, uit as oefening vir die Freedom Challenge. 'n Rit van so ongeveer 190 km en soos dinge nou uitwerk sal ek  dit met die nuwe fiets kan doen.

Ek kom Saterdagoggend 06:18 weg en ry ons die gewone pad deur Parklands Noord verby Cipla na Malanshoogte oor Occultdale tot by Klipheuwel. Van hier ry ek met die nuwe Slent teerpad tot by Paardeberg en dan deur tot by die R45 tussen Malmesbury en Wellington.

Daar is 'n grondpad aan die oorkant van waar die Paardebergpad by die R45 aansluit, wat onder andere vir die AMA Rider 100 miler gebruik word en ek ry met die pad aan. Na 'n rukkie kom ek egter by 'n hek, wat gesluit is, aan. Ek besluit om die kans te vat en tel my fiets oor die hek en ry aan. Ek ry verby die plaashuis sonder dat iemand my stop en na nog 'n ent deur die lande kom ek by 'n groot distrikspad aan. Hier draai ek links en volg die pad tot by die R46 tussen Hermon en Riebeek Kasteel. Hierdie pad word ook vir die 100 miler gebruik. My plan was om oor die pad te ry en met 'n ander grondpad Riebeek Kasteel uit die Noord Ooste te nader. Ek besluit egter dat dit net te lank gaan neem en ry met die teerpad tot in Riebeek Kasteel. Ek kom so ongeveer 12:00 daaraan.

Die dorp is rustig en ek kan nie die versoeking weerstaan om by 'n Restourant in te val vir 'n vinnige ete en koffie nie. Ek bestel hulle "crousant en eier special" en koffie. Ek skakel vir Sue en sy is baie jaloers dat sy nie saam met ‘n krousant kan eet nie! Die diens is nie wonderlik omdat daar 'n bestelling vir 'n groterige tafel was net voor ek gekom het, dus vertoef ek 35 minute.

Ek is net na 12:35 weer aan die trap. Die nuwe fiets ry baie lekker en ek is 'n sewende hemel! Ek ry deur Riebeek Wes en net verby PPC draai ek links op 'n goeie grondpad. Na 'n verdere 5 km sluit ek weer by die 100 miler se roete aan net na die plek waar die laaste waterpunt gewoonlik is. Ek draai links op die Riebeeksrivier pad. Van hier is daar 'n lekker klim en dan afdraand na die R46 tussen Riebeek Kasteel en Malmesbury.


Na so 3 km op die teerpad draai ek links en dan gou weer regs tussen die geploegde koringlande deur.



Die pad loop grotendeels op die rug van die rant maar daal so elke nou en dan in 'n vlakte gevolg deur 'n redelike bult. Na 8 km kruis ek die R45 tussen Malmesbury en Wellington. Ek volg ‘n goeie distrikspad oor die nek aan die regterkant van Paardeberg tot anderkant af. Hierdie is weer ‘n gedeelte wat deur die 100 miler gebruik word, mar dan in die teenoorgetelde rigting. Onder by die plaas Welbeloond, daar ek links en ry deur die wingerde, tel my fiets weer oor ‘n hek en verby ‘n paar hoender batterye tot ek weer ‘n goeie grondpad optel wat my deur neem na die R302 tussen Malmesbury en Klipheuwel. Na 9 kilometer draai ek regs Wintervogel toe en ry met die grondpad tot by die Malmesbury/Klipheuwel treinspoor. Die volgende 9 kilometer tot by Klipheuwel is met die dienspad al langs die treinspoor.

Ek kom 16:30 by Klipheuwel aan laat vir Sue weet ek sal nog so twee uur op die pad wees. My bene voel nog goed en my boude hou. Aangesien dit ‘n Freedom Challenge oefenrit is, ry ek met my saalsak met reën klere en gereedskap, wat onder my saal is en met ‘n volle rugsak soos wat ek op die Freedom Challenge gaan saamneem. Die liggaam en boude moet gewoond raak aan die ekstra gewig! Ek is nou terug op die pad wat ek vroeër vanoggend gery het, net in die teenoorgestelde rigting. Oor Occultdale en Malanshoogte, verby Cipla en Parklands Noord na Bloubergstrand. Ek trek 18:30 weer by Nautilus in na ‘n goeie dag se ry op die nuwe fiets. Wat ‘n voorreg!

Total tyd 12:15; 185.92 km; 1,899 meter se klim. Die weer was perfek!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking