Maandag 06 Mei 2019

AMA Rider 100 miler 2019

Die 11de AMA Rider 100 miler was geskeduleer vir 13 April 2019 en aangesien ek een van die min mense is wat al die vorige 100 milers gedoen het, kon ek nie die een mis nie! Ek het die week voor die wedren in Bellevile gewerk en kon dus my nommer voor die tyd by Sportman’s Warehouse optel. Dit het tot gevolg dat ek dit die Saterdagoggend ‘n bietjie meer rustig vat Malmesbury toe.

Ek het so om en by 07:00 daar aangekom en vir my ‘n Americano gekry om vir my ‘n bieltie ekstra “woema” te gee. Ek was 07:15 reg vir die wegspring. Die wedren het stiptelik 07:30 begin. Die eerste paar kilometer was ‘n rustig rit deur die dorp en toe ons die grondpad, na ongeveer 3 km slaan, begin die wedren in alle erns. Die pad begin ook sommer baie gou klim. Gelukkig is die helling nie te erg nie en ek handhaaf ‘n redelik pas. Na so ‘n rukkie sien ek ‘n ander deelnemer met ‘n 2018 Double Century hemp aan (DC man), min wetende dat ons mekaar nog ‘n paar keer op die dag sal sien!

Die grootste gedeelte van die 100 miler is op goeie distrik paaie, wat elke hier en daar redelik sinkplaat is en verder ‘n paar plaaspaadjies/jeeptracks wat in ‘n goeie toestand is. Tegnies is die vereistes nie baie hoog nie. Daar is dus ook ‘n hele paar ouens wat die wedren met “gravel” fietse aandurf. Die weer is baie goed vir fietsry. Hulle het reën voorspel, maar dit lyk nie of dit gaan reën nie. Aanvanklik is die temparatuur so 14-15 garde Celsius en klim later na 18. 

Ek ry na 1:24 en 31 km deur waterpunt 1, waar ek nie stop nie. Ek het die week voor die wedren ‘n bietjie gesukkel met ‘n stadige lek op my voorband. Toe ek hom Vrydagaand nagegaan het, was hy nog goed styf. So ‘n kilometer voor die tweede waterpunt kom ek egter agter dat hy weer besig is om lug te verloor. Ek haal waterpunt net-net voordat ek verplig is om stilt e hou en hom te pomp. Hulle het gelukkig ‘n goeie pomp en nadat ek ‘n ietsie ge-eet en gedrink het, pomp ek hom hard en val na 2 minute weer in die pad. 

Verlede jaar was ek redelik gelukkig om by ‘n sterk bondel tussen waterpunt 2 en 3 aan te hak en ‘n goeie pas te handhaaf. Vanjaar is ek nie so gelukkig nie en ry ek die meeste van die tyd alleen. Dit sal dan ook duidelik blyk aan die einde van die dag in vergelykking met verlede jaar se tyd.  My voorband hou weer net mooi tot by waterpunt 3, die halfpadmerk. Ek versterk die innnerlike weer, pomp die wiel styf en val na 3 minute weer in die pad. Afstand afgelê is 80 km en tyd is 3:45. Om die wedren in onder 8 ure te voltooi. Moes ek op 3:15-3:30 hier gewees het. Ek kyk dus vandag na ‘n 8:15-8:30 tyd.

Ons is is elke nou en dan twee of drie wat saam ry, maar daar word geensins saamgewerk nie en of die ouens ry vir my weg of ek ry vir hulle weg.

Dit is op hierdie stuk dat ek weer kontak maak met die DC man. So 5 km voor waterpunt 4 is my voorwiel so pap dat ek verplig is om stil te hou en te pomp. Hy hou gelukkig tot by die waterpunt. Hier is daar altyd lekker sop en pasta. Vandag hou ek net by die sop en slrup twee koppies op. Hier is ongelukkig nie ‘n voet pomp nie en ek is verplig om die wiel met my handpomp op te pomp. Ek pomp hom so styf soos ek kan en val weer in die pad. Ek het nou 107 km afgelê en is al 5:06 op die pad.

Op 115 km sluit ons by die Riebeek Wes/Moorreesburg pad aan en ‘n kilometer verder draai ons weer links op ‘n grondpad. Die DC man het net voordat ons by die teerpad aangesluit het, by my verby gekom. Ek kom agter dat ek beslis beter klim as hy, maar wanneer ek my weer kom kry is ons weer in mekaar se omgewing. Hy en ‘n maat trek egter nou onder my uit. Van kilometer 128 tot 138 klim ons gelydelik en ek haal hom weer in. Waterpunt 5 is op 138 km en ek is nou al 6:50 in die saal. Met nog 26 km oor en heelwat klimme, is dit duidelik dat ek nader aan 8:45 as 8:15 gaan klaar maak! Ek vertoef vier en ‘n halwe minuut en kom weer aan die gang. 

In die volgende 6 km klim ons 150 meter en dit is dan ook hier dat ek weer by die DC man verby gaan en, na my mening, die laaste sien van die blikkantien! Dit begin nou liggies reën en die temparatuur val na 11 garde Celsius. Na die klim, wat redelik hitte gegenereer het, daal ons oor die volgende 10 km 100 meter. Die spoed en die reên met die lae temparatuur het nogal ‘n redelike “chill” faktor, maar dit is darem nie te koud nie.
Tot my verbasing kom die DC man teen een van die afgdraendes weer by my verby! Ek bly so 50-100 meter agter hom en sy maat totdat ons die laaste bult slaan. Dit neem my nie lank om hulle verby te gaan nie, en ek handhaaf ‘n goeie pas tot op doe einde en maak so ‘n half minuut voor hulle klaar!


Totale tyd 8:26, byne ‘n volle uur langer as verlede jaar. Wys jou wat ‘n goeie bondel aan jou totale tyd kan doen. 

So eindig my 11de 100 miler.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking