Sondag 12 Mei 2019

Platteklip Gorge


In voorbereiding vir die Freedom Challenge Race Across South Africa, wat ek op 18 Junie begin, het ek besluit om van die huis af Tafelberg toe te ry, my fiets Platteklip Gorge uit te dra, met Ecco Valley af tot by die sementpad wat van die water resovoirs op die berg afloop Constanianek toe en dan terug huis toe.

Saterdagoggend 11 Mei 06:22 val ek in die pad. Dit neem my 2:03 om die 27 km tot by die voet van Platteklip Gorge af te lê. Tot hier was dit 'n gemaklike ry wat eindig met die klim teen die voorkant van die berg op tot by die begin van die Platteklip Gorge voetpad.

Ek tel my fiets op en balansseer hom op my rug en begin klim. Aanvanklik is daar heelwat boompies en struike wat die lewe moeilik maak aangesien die fiets daaraan vashaak. Ek moet dan dwars draai om deur te kom. Ek vorder goed tot by ‘n vurk waar links na Duiwelspiek gaan en regs na Platteklip Gorge.



Op hierdie stadium is daar nie te veel mense wat die roete stap nie. Ek kom 'n swartman teen, wat goed nat gesweet is en die berg af kom. Ek sal hom later weer tee kom, aangesien hy die berg 'n paar keer op en af is! Hoe hoër ek klim hoe ooper raak die terrein wat my beweging makliker maak, maar dit val saam met 'n styler helling! Daar is egter ook afplattings en somtyds kan ek self my fiets stoot, maar kort voor lank hoor ek die gevreesde klank van lug wat uit 'n band ontsnap! Een van die drade, wat hulle gebruik om klippe aan die onderkant van die paadjie in plek te hou, het met verweer gebreek en die skerppunt steek 'n gat in my band. Gelukkig seël die gat vanself na 'n rukkie sonder dat daar te veel lug verlore gaan. Hierna besluit ek om maar weg van die drade te bly met my fiets se wiele.

Die mense tal op die roete begin nou vinnig vermeerder en ek moet elke nou en dan op sy staan sodat mense, op of af, kan verby kom. Ek kry ook heelwat navrae oor hoekom ek dit doen. 'n Hele aantal mense bevestig dan ook dat hulle al van die Freedom Challenge gehoor het. Ek kom heeltyd agter dat iets nat is op my rug. Een van die mense lig my toe in dat dit my waterbottel is wat oop is en bied aan om dit toe te maak. Gelukkig het ek ook water in my rugsak se houer gesit, so dit is darem nie 'n krissis nie. Ek eet ook 'n energie sakkie se inhoud en sluk dit af met water.



Ek neem redelik gereeld 'n ruskans en vorder na wense. Elke nou en dan kom ek 'n gedeelte tee waar die klim kwaai is en is dit maar net 'n geval van skouer aan die wiel sit en voortbeur! So driekwart teen die berg op kom ek weer die swartman tee onderwyl hy 'n bietjie rus. Hy neem 'n paar foto's van ons twee en ook 'n paar van my met my selfoon. Op hierdie stadium is ek al 1:56 aan die klim. My mikpunt was tussen twee na twee en 'n halfuur van onder tot bo te neem.



Ek is nou byne bo en kom vir Francois Bothma tee. Hy het al 5 Sani2C en 2 Joburg2C wedrenne voltooi. Hy wil ook nog eendag die Freedom Challenge doen. Ons gesels lekker en neem aan die bopunt afskeid van mekaar. Ek rus 'n bietjie en eet 'n appel. Dit het my 2:39 geneem om Platteklip Gorge uit te klim. Die hoogte was 374 meter by die pad en is 1,019 meter hierbo.


Nou moet ek met Ecco Valley af tot by de sementpad wat Constantianek meg die Woodhead resovoir op die berg verbind. Alhoewel dit nie so styl is nie, is daar 'n paar baie styl gedeeltes en die hele roete is onrybaar. Gelukkig kan ek darem my fiets meeste van die tyd stoot.
Daar is selfs een gedeelte van ongeveer 10 meter waar ek met my een hand aan 'n ketting moet vashou en my fiets in die ander hand dra! Na 'n verdere een uur vyf en veertig minute bereik ek die sementpad. Ek daal in die tyd van 1,019 meter tot by 726 meter. Ek rus eers terwyl ek nog 'n energie sakkie en 'n appel verober. My voete is nou ook al redelik gaar en ek sien met verligting uit daarna om weer te kan ry!


Die pad is 'n baie goeie sementpad wat eers oor die rug van die berg loop en dan met 'n asemrowende stukkie engineurswerk teen die hange van die berg bokant Kirstenbosch loop en by die Contanstianek jeeptrack aansluit.
Hier tel ek die Kirstenbosch MTB roete op en ry daarmee tot by Nuweland. Dan deur Rondebosch en Woodstock terug huis toe. In Woodstock versterk ek eers weer my kragte met 'n liter Coke en twee samosas! Die wind is van agter deur Paarden Eiland en Milnerton en die bene voel heel goed na die dag se oefening. Ek klok by die huis in na 9:14 in die saal!

1 opmerking: