Sondag 11 Februarie 2018

Tankwa Trek Dag 1

Een van my kliënte het my vanjaar weer vir die Tankwa Trek geborg. Ek het Donderdagoggend my laaste oefen rit gehad en het net na 13:00 begin oppak. Toe ek egter by my fiets kom is my agterwiel heeltemal pap! Ek het nou al 'n hele rukkie probleme net die wiel, maar besluit om hom op te pomp en ekstra "sealant" saam te neem. Ek kry heelwat trokke op due pad en kom eers na 16:00 by Kaleo, aan die bopunt van Gydopas, aan. Kry 'n tent in die skadu baie naby aan waar ek verlede jaar was. Dra al my begasie tent toe, insluitend my fiets. Die agterwiel is nog styf, maar nie soos toe ek by die huis weg is nie. Ek besluit om 'n kans te vat en weer te pomp net voor die eerste dag se wedren begin. Ons het 'n heerlike aandete van skaapboud, hoenderpastei, rys, pampoen tert, blomkool en brokkelie, mengelslaai, afgerond met 'n keuse van verskillende soetgoed as nagereg.

Ek het my wekker vir 04:45 gestel, maar die nense begin al net na 04:30 beweeg. Na ontbyt pomp ek my agterwiel en sit af na die wegspring. Vir een of ander onverklaarbare rede is ek groep A ingedeel. Ek besluit ek sal maar agterlangs staan en die vinnige manne voor laat ry. Dit is toe ook so en na 2 km is ek heelagter saam met 'n paar ander stadiger manne. By die eerste bult gaan ek 'n paar van hulle verby. Na 20 minute kom die voorste manne van groep B by my verby.

Die eerste deel van die roete is "jeep tracks". Dan volg goeie en redelike tegniese "single tracks" wat aanvanklik die ou ossewa roete na die Witzenbergvallei volg. Ons ry op en af oor die uitlopers van die berg en moet hard konsentreer as gevolg van die tegniese graad van die roete, maar dit is 'n asngename uitdaging. Na 23 km kry ons die eerste waterpunt wat gevolg word deur nog tegniese "single tracks" oor die rante. Dan draai ons links en dan in 'n suidwestelike rigting na die westekant van die vallei na waterpunt 2.

Dit word gevolg deur die aanloop na die groot klim van die dag, deur 'n dennebos toe bo-op die berg wat die Witzenbergvallei van die Tulbaghvallei skei. Baie klim werk en 'n paar baie rowwe gedeeltes tot bo-op die top wat gepaslik die "Pearly Gates" genoem word!
Anderkant af is lekker tegnies en uitdagend, maar alkes is rybaar behalwe vir ongeveer 30 meter wat net te styl en te veel los klippe het. Dit bring ons by waterpunt 3.

Na so 'n paar kilometer op 'n teerpad sluit ons by die roete aan waarmee ons gekom het oor die ou ossewapad oor die nek na die bopunt van die Gydopas en waterpunt 4. Op hierdie gedeelte sluit daar twee manne by my aan wat einde verlede jaar die Munga gedoen het. Ons gesels so 'n bietjie daaroor en hulle sê hulle ry banjaar weer! Nou is dit die "drag" huistoe! Ons vorm 'n "trein" van ongeveer 7 en laat die wiele sing. Die laaste 2 km is deur die rotse bet agter Kaleo. Redelik tegnies en ongelooflik mooi.

Na 5:29:48 voltooi ek die dag se 83 km in 189de plek. Baie lekker en my agterwiel het gehou!


Terwyl ek die middeg sit en onspan, ontmoet ek vir Andrew Keevy wat in Atlantic Beach, so 10 km noord van my, bly. Ons gesels veral lekker oor die feit dat die populêre musiek van die 60's en 70's net soveel stukke beter is as vandag se musiek.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking