Sondag 30 November 2025

Seweweekspoort Dag 1


28 November tot 2 Desember is tyd vir die Seweweekspoort toer. Ons was 8 maar een moes onttrek agv siekte. Drie van Stanford en vier van die Kaap. Die Stanford manne is Johan Schoeman, Hannes de Villiers en Alan Simpson. Ons basis is Sandrivier aan die noorde kant van Seweweekspoort. Ek en Mike Smit ry saam en ontmoet "toevallig" vir die Stanford manne by Diesel en Creme in Barrydale. Ons kom net voor 17:00 by Sandrivier aan en Danie en Willie arriveer so 'n half uur later. Die gasvrou heet ons welkom met 'n skinkbord pas gebakte vetkoekke. Daar is ook twee vas gebakte brode, wat ons vooraf bestel het. Ek en Mike is verantwoordelik vir aandete van pasta met maalvleis en slaai. Ons spreek af om môre oggend 08:00 te begin ry. 







Ons kom 07:50 aan die gang. Na 'n aanvanklike klimmetjie links met die grootpad af is dit basies afdraend tot by Amalienstein. 'n Afstand van ongeveer 28 km. Dit is 'n besonder mooi pad deur die poort. Die padoppervlakte is baie goed en die rots formasies is asemrowend. Ons stop vir fotos en om ietsie om te eet en dan die laaste stukkie tot by die R62. Reguit oor en deur Amalienstein en uit aan die ooste kant met 'n lekker grond paadjie. By 'n kruising draai ons regs en terug so 'n entjie met die R62 na Frikkie se Gat. Hier kry ons gemmerbier en koffie. Na so 'n kwartier val ons weer in die pad.



Terug soos ons gekom het, maar reguit oor die kruising terug Amalienstein toe. Ons stop by 'n winkel sodat Mike vir hom 'n tandeborsel kan koop. Dan terug soos ons gekom het, oor die R62 en dan weer met Seweweekspoort terug Sandrivier toe. Waar dit netnou alles af was, is dit nou alles op! Die volgende 25 km klim ons voortdurend tussen 4 en 9%. Dit het natuurlik ook 'n invloed op ons gemiddelde spoed. So halfpad deur die kloof stop ons weer vir verfrissings en dan is dit weer skouer aan die wiel vir die laaste 19 km. 


Ons bereik die einde van die kloof met nog 9 km oor huistoe, maar dit is weereens net bult op en nou styg die gradiënt ook. Ek handhaaf 'n goeie pas oor hierdie laaste paar bulte, wat net nie wil ophou nie! Na 5:10 en 71 km met 1,033 meters se klim, kom ons by ons bestemming aan.  'n Goeie dag se oefening!




















 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking