Maandag 10 November 2025

Groot Karoo Toer - Marlu na Allemanskraal


 

Tyd vir die Groot Karoo Toer wat deel is van "kondisionering" vir die Freedom Challenge. 

Ek en Marc en Llise Dodds sou ry, maar Marc se program is te vol so hy onttrek. Llise moet vir Marc Saterdag help so sy sal eers Sondag by Allemanskraal by my aansluit. 


Ek ry Saterdag Marlu toe. Aangesien ek 06:00 wil begin ry, oorweeg ek om nie rugby te kyk nie. Die plan verander en ek besluit om eerste kwatier te kyk, dit verander na eerste helfte en eindig met die hele wedstryd. Wat 'n goeie besluit!


Ten spyte die laat gaan slaap kom ek 06:10 weg. Die weer is idiaal vir fiets ry, bietjie bewolk en lekker koel. Vandag ry ek grongpad van Marlu oor Mount Stewart en Jansenville. Links by die hek uit en al links van die berg noord van Steytlerville. Pad is in 'n goeie toestand en ek handhaaf 'n goeie pas tot by die Steytlerville/Mount Stewart pad. 



Terwyl ek so ry sien ek 'n bokkie wat skynbaar in die heining tussen die pad en die veld, vassit. Hy probeer vorentoe en dan agter toe maar vorder nie. Ek besluit om te kyk of ek kan help. Gelukkig is die 'n steenbokkie, dus kleinerig. Ek kry dit reg om hom vas te druk en onder beheer te kry sodat hy my nie skop nie. Hy het deur die ogiesdraad van die heining probeer kom en sy kop deur gekry maar sy lyf is te groot. Toe hy sy kop probeer terugtrek, toe hak sy horings vas. Ek moet nou probeer om sy kop terug te kry. Na 'n lang se gesukkel, slaag ek eindelik om die horings terug deur die ogiesdraad te kry en die bokkie te bevry. Hy kies natuurlik die hase pad. Hoop nie hy maak weer dieselfde fout nie. My goeie daad vir die dag is gedoen!


Ek het al baie die padwysers na Mount Stewart gesien, maar nog nooit daardeur gery nie. So vandag is die dag. Die pad Mount Stewart is ook in 'n baie goeie toestand. 


By Mount Stewart stop ek om 'n paar foto's van die vervalle plek, wat 'n spoorweg stasie was, te neem. Dit is regtig tragies om te sien hoe 'n eens netjiese spoorweg dorpie, agteruit gegaan het. 






Vanaf Mount Stewart to so 20 km anderkant Jansenville ondervind ek die meeste sinkplaat wat ek al op enige van my fiets toere ondervind het. Van hulle is redelik klein, maar die meeste is besonder groot en loop regoor die pad tot teen die rant! Dit bemoeilik die ry en is ook baie uitputtend. Dit dryf my tot rasenery! 


'n Gedeelte van die pad loop deur die Noorsveld Conservatory. Onder ander verby 'n huis wat beslis iets besonders was met vier slaap kamers, eetkamer, later aangeboude braai kamer en tennisbaan. Tans is alles verwaarloos!



Ek vertoef hier om een van my broodjies te eet. In Jansenville stop ek om my tweede broodjie en 'n gekook eier, te eet, saam 'n Coke. Dan durf ek die laaste 70 km aan. Dit was 91 km met 725 meter se kllim tot in Jansenville en dit het my 6 uur geneem. 


Die pad van hier tot by Allemanskraal is 'n gelydelike   klim. Niks ernstig nie, maar onophoudelik! Die pad kronkel al langs die rivier op en dan 'n bult uit met die Karoo vlaktes uitgestrek voor my. Met 14 km oor na Marais Siding, waar ek na Allemanskraal moet afdraai, merk ek geboue op en "aanvaar" dit is Marais Siding. Toe ek daar kom, toe is dit 'n plaas en Marais Siding is 9 km verder, agter nog 'n lekker styl bult! Ek moet maar net daaroor, daar is geen ander opsie nie.


Net voor Marais Siding is daar 'n T-aansluiting en ek draai links. Na 1.25 km sien ek dat ek besig is om langs die treinspoor te ry en dit is nie reg nie! Ek kyk weer na my kaart, wat ek nie gedoen het toe ek by die T-aansluiting gekom het nie en sien dat ek die afdraai na Allemanskraal gemis het! Dus maar terug en met regte pad Allemaskraal toe waar ek, na amper 12 ure se ry, in klok.


Baie interessante dag. Ek moet erken dat ek 'n paar keer regtig gesukkel het om "vol te hou". Die pad was rof, ek was vol pyne van al die geskud en dan was die pad nog lank ook!


Data vir die dag: Tyd 11:58:06; Afstand 163.3 km; meters geklim 1,350

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking