Na gister se "monster dag" kan ons vandag uitsien na 'n meer "redelike" dag. Omtrent 145 km maar met minder as 900 meter se klim.
Ons kom 06:19 aan die gang. Ek wou 'n pad reg suid van Pienaarsbaken deur 'n paar plase af na die Erasmuskloof pad neem, maar Jaco Loots raai my af on dit te doen want die laaste gedeelte is kwaai verspoel. Ons ry dus met die plaaspad af N9 toe, draai links en dan so 5 km met die N9 tot by die afdraaipad wat ons deur Erasmuskloof sal neem.
Dit is weereens 'n grondpad met 'n lekker gladde oppervlak en ons handhaaf 'n goeie pas. Die eerste gedeelte is oor 'n gelykte en dit is hoekom dit so lekker gaan. Na 23 km begin ons die klowe binne gaan en die pad word onmiddelik moeiliker. Daar is heelwat kort bultjies, maar die oppervlak bly goed. Die klimme laat ons gemiddelde spoed gou val. Die ongewing raak nou al mooier terwyl ons deur die klowe en langs rivierlope ry. Ons ry ook verby Letskraal, die huis van waar Andries Pretorius sy Groot Trek begin het.
Die pad klonkel al met die vallei op. Elke nou en dan is daar so 'n "toetser" om ons hartklop op te stoot en dan weer 'n lekker afdraend. So gaan dit tot op ongeveer 30 km, dan kom nog een van daardie "never enders"! Hierdie bult krul vir 15 km teen die rant op. Die gradiënt wissel so tussen 4 en 11 grade, so die meeste van die tyd trap ons maar. So elke nou en dan voel ons lus om ander spiere te oefen en dan stap ons. Dit neem ons net kort van 2 uur om die 15 km af te lê.
Nou is dit basies bult af tot by Graaff-Reinet. Die pad plat so elke nou en dan af en dan is dit weer bult af! Ons kom na 5:50 se ry en 89 km, in Graaff-Reinet aan en stop weer by Coldstream. Hier rus ons vir 35 minute en val dan weer in die pad. Dit is nou 12:45 en die temperatuur staan op 40 en sal bo 40 bly tot 16:30! Die maksimum het by 45.7 gedraai en dit was toe 14:30! Die pad Allemanskraal toe is nie moeilik nie, maar redelik eentonig met heelwat sinkplaat.
Ons stop met voor Kendrew om weer ons water aan te vul. Verby Kendrew, oor die Sondagsrivier en nou is ons op die laaste been Allemanskraal toe. Die hitte keil ons op en hier is geen teken van skaduwee nie. Ons kry wel 'n paar bloekom bome en stop net om 'n bietjie uit die son te kom. Dan val ons weer in die pad.
Net na Kendrew kruis ons die Sondagsrivier en ek stop om my "buffs" in 'n waterpoel nat te maak sodat ek kan afkoel. Daarna oor die treinspoor en ons ry aan die linkerkant van die spoor. Die pad is redelik gelyk en ons buur meedoënloos voort in die hitte. Met nog so 15 km oor kom ek agter Llise is nie meer agter my nie en ek kan haar ook nie sien aankom nie. Ek het nou twee opsies: ry aan en kry vir Elsa om Llise met die bakkie te kom haal of draai om. Sy mag dalk omgeval het as gevolg van die hitte dus moet ek so gou moontlik by haar uitkom, dus draai ek om. Na net meer as 'n kilometer sien ek haar aan gery kom! Wanneer ek by haar kom sê sy dat sy naar gevoel het toe maar afgeklim en 'n bietjie gestap het. Ek vra hoekom sy my nie geroep het nie! Sy het, maar ek het haar nie gehoor nie! Sy sê ek moet aan ry, sy sal op haar pas aankom! Dit is nie vir my 'n opsie nie en ons lê die laaste 15 km rustig saam af. Na 10:10 kom ons by Allemanskraal aan. Die temperatuur is nog steeds bo 40!
So eindig nog 'n gebeurtenisvolle dag in die Groot Karoo! Na die tyd sê Llise dat dit nou net sowel is dat sy eers 'n dag later by my aangesluit het want sy is nog nie reg vir 4 sulke lang dae agter melaar nie, veral nie in die hitte nie!
Data vir die dag: tyd 10:10; afstand 143.22; meters geklim 901.



Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking