Ons is baie be-indruk met ons "basis verblyf" in Calitsdorp. Johan het ons weer "getreat" met Picanha steaks vir aandete. Ons verkas 21:30 kamers toe en beplan om 07:00 die volgende oggend te begin ry.
Ons kom 07:11 weg. Die eerste 40 kilometer tot by die Volmoed pad is gelyk teerpad. Die teer is perfek en daar is baie min verkeer. Ons kon die grondpad via Calitsdorp Spa geneem het, meer dit sou 'n hele paar kilometer by die dag se 117 km gesit het. Ek was ook nie bewus dat die hele pad nou geteer is nie. Dit was in die verlede grootliks 'n pad wat uit sement blokke bestaan het. Ons het altyd van die "sement pad" gepraat. Ons het meer as 20 kpu gemiddeld gehandhaaf en ons het selde meer as 30 kpu gehaal, wat wys hoe "gelyk" die pad was.
Na net minder as 2 uur se ry kruis ons die Volmoed pad en kry ons eerste stukkie grondpad. Die pad is sommer onmiddelik interessanter met 'n paar styler bultjies, draaie en modderpoele! Ons ry verby granaat boorde en lusern lande. Ons gemiddelde spoed verminder gou. Na 4 kilometer kruis ons die R328 wat Oudtshoorn met Mosselbaai verbind. Die toestand van die grondpad is goed en na 'n verdere 6.5 km draai ons regs op die N12 wat Oudsthoorn met George verbind.
'n Kort entjie oor die Olifantsrivier en dan links op 'n redelike grondpad al langs die Oranjerivier. Dit is eintlik 'n baie mooi pad. Bietjie klipperig maar mooi met rooi sandsteen kranse regs van ons. Na 3.5 kilometer kom ons by 'n 1.5 meter hoë gesluite hek. Daar is egter heelwat "lewe" en ek roep een van die werkers en vra of hulle kan reël dat iemand die hek kom oopsluit. Nou moet ek noem dat daar geeh teken aan die Oudtshoorn kant van die pad was nie, maar hier is daar 'n groot "Privaat pad" teken met ander relevante inligting en reg onder"Gebruik op eie risiko"! So die pad mag gebruik word, lyk met of mens vooraf tiestemming moet kry. Na 5 minute kom 'n man uit die kantoor. Ek vra of hy asseblief die hek kan oopsluit. Hy sê botweg "Nee". Ek smeek hom met my hande in "gebeds vorm" maar hy volstaan met "Nee". Ons begin "argumenteer" onder andere oor die feit dat daar geen teken aan die anderkant is nie. Ek sê as hy nie oopmaak nie, klim ons oor die hek. Jy dreig om dan die polisie te skakel. Ons "snou" mekaar nog "'n paar "beledigings" toe en hy stap drygende nader. Onder "druk" van my kollegas draai ons maar om. Langs die pad terug is daar 'n moontlikheid om langs die heining deur te kom, maar as gevolg van die moontlikheid van nog gesluite hekke of hoë heinings besluit ons om maar liewer terug te gaan na die grootpad.
Op die brug oor die Olifantsrivier "plot" ek gou 'n alternatief om anderkant "die probleem man" se pad aan te sluit. Ek kry 'n roete deur due lande wat ons ook deur 'n konsertinahek neem. Alles verloop goed tot by die teerpad. Hier word ons gekonfronteer deur 'n twee meter lemmejiedraad gesluite hek! Ek soek deurkom plek, maar daar is niks. Die manne draai om maar ek sê ek gaan nie opgee nie. Ek soek rond vir ander opsies maar kry niks. Ek kyk na die hek en sien daar is 'n gaping tussen die hek en die grond. Ek haal die voorwiel af, plaas die pedaal tussen die hek en kantpaal en skuif eers die fiets en toe die wiel onderdeur die hek. Geluklig kan ek langs die kant, waar daar 'n gaping tussen heining langsaan en die lemmetjies draad is, oor klim. Wolla! Ek is deur. Voor ek begin ry haal ek 'n klomp duweltjies uit my bande. Toe ek klaar is, kom die ander agter my om die draai.
So 'n paar kilometer die pad af, dan regs oor die Olifantsrivier met 'n laagwaterbrug. Gelukkig loop die rivier nie nou strek nie. By ons "vriendelike boer" se plek verby en links terug op die regte roete. Die teerpad verander in grond. Die pad vleg tussen die koppies deur. Ons ry verby 'n brouery, wat ongelukkig toe is. Koue bier sou nou baie welkom gewees het!
Ons pak die ergste klim van die dag aan. 'n Paar kilometer verder draai ons links en ry verby die Kamannasiedam. Dit word gevolg deur 'n lekker afdraend, onder deur die vallei en dan die laaste klim van die dag. Die begin baie geleidelik maar eindig baie skerp. Nog so 30 kilometer oor. Die "draaie" as gevolg van die gesluite hekke, het ongeveer 9 km by die dag se afstand gevoeg.
Ons ry Dysseldorp binne. Na 'n gesukkel kry ons 'n oop winkel. Cokes "all round" en ons is weer oppad. By Le Roux moet ons 'n stukkie op die teerpad ry om oor die treinspoor te kom. Anderkant af is ons weer op grond. Die roete loop nou tussen plase deur. Oral op die heings is tekens wat sê "volstruise geen toegang" maar dit is vir die kampe nie op die pad nie. Bo op die bult stop 'n boer, wat van links van 'n plaas kom en gaan gal af omdat ons die volstruise "verjaag". Ons gesels mooi met hom en hy verduidelik, 'n klein bietjie teesinnig, hoe ons kan ry. Sê selfs dat daar 'n plek is waar ons die fietse deur 'n heing sal moet tel.
Ons ry lekker verder. By 'n T-aansluiting draai Mike links en ek volg hom. 'n Entjie verder wys my Garmin ek moet regs gaan. Voor my is een "moerse" bult. Ek begin trap! Toe ek amper bo is lui my selfoon. Dit is Danie! Ek gaan nie nou stil hou nie. Reg bo hou ek stil en kyk af na my Garmin. Ek is op die verkeerde pad! Moet maar omdraai en terug gaan. Onder volg ons die regte roete. Na 'n ruk kom ons weer by 'n T-aansluiting. GPS wys links wat nog 5 km tot by De Rust is en wat die pad is wat die boer verduidelik het. Daar is ook regs 'n opsie wat omtrent 8 km sal wees. Ek en Mike gaan links en Johan en Danie gaan regs!
Ons kom by 'n hek wat duidelik "Geen toegang" aandui, maar daar is 'n spasie regs wat spesifiek is vir fietse. Dit is waarna die boer verwys het. Ons tel ons fietse deur en ry aan. Ons ry veby nog 'n "geen toegang" teken, maar die pad is oop. So vorder ons tot in De Rust. Ek en Mike gee mekaar 'n "fist bump". Ek sê vir hom ek sou nie verbaas gewees het indien ons weer 'n gesluite hek of hoë heining gekry het nie, maar gelukkig was daar niks.
Ons blyplek is so 'n kleintjie die straat op. Twee verheugde fietsryers "klok in". Johan en Danie kom so 25 minute later ook daar aan. So eindig 'n heel gebeurtenus volle dag!