Danie en Willie is vroeg op en ry voor 07:30. Die res van ons maak gereed vir die Bosch Luys Kloof rit en ons kom net na 08:00 weg.
By die groot pad weer links in Seweweekspoort se rigting. Verby die afdraai poort toe en bult op na Bosch Luys Kloof toe. Die pad in die kloof af is besonder mooi. Dit kronkel teen die bult af. Die eerste 2 km is heelwat styler as die laaste gedeelte. Net nadat die pad begin afplat, sien ek twee koedoe bulle en hou stil om hulle dop te hou. Hulle begin die kloof uit stap en ek sien net elke nou en dan 'n beweging tussen die bosse totdat hulle heelbo is en dan sien ek die wonderlike silhoeët wanneer hulle op die horison stop en ek kan net die horings teen die agtergrond van die lug sien. Wanneer die ander by my aansluit, is hulle weg.
Ons ry rustig af tot by die "lodge". Hulle is nie oop vir dag besoekers nie, maar ons kan water by hulle kry op ons pad terug. Ons vat die pad af Gamkaskloof dam toe. Dit is 12 km tot by die dam. Dit is 'n mooi pad met geen ernstige bulte nie. Ons ry so 'n entjie verby die waterfiskaal se huis. Daar stop ons en eet verversings en wonder oor die watervlak en die water wat ons hoor uitloop.
Oppad terug stop ons by Mnr Fox, die waterfiskaal, se huis. Mike herinner hom daaraan dat hy en Pieter Reinders die grond in 2004 wou koop toe dit vir R450,000 in die mark was. Hulle het R400,000 aangebied en was bereid om Mnr Fox, wat met volstruise geboer het en op die grond gewoon het, aan te laat bly. Die eienaar aanvaar toe Gerhard Rademeier se volle aanbod met die versoek dat Fox 30 dae het om van sy volstruise ontslae te raak en pad te gee. Hy maak toe so, maar aangesien die waterfiskaal kort te vore weg is en sy huis leeg gestaan het, trek hy daar in. Hy word later aangestel as die nuwe waterfiskaal en is nog steeds daar!
Na ons gesprek met hom, ry ons terug "lodge" toe. Hier word ons water bottels met ys en koue water gevul en dan pak ons die terug tog teen Bosch Luys Kloospas, aan. Dit is net minder as 8 km waarvan die laaste 2 km die stylste is. Dit neem my 1:45 om die 8 km teen 'n gemiddelde spoed van 4.5 kpu af te lê. Die temperatuur draai by 46.2 grade celsius! Bo "konsolideer" ons weer en pak dan die pad af na die Seweweekpoort aansluiting aan, maar ons moet eers deur die Bosch Luys Kloof hek gaan. Gelukkig is die kode op 'n kennisgewing by die hek. Oppad stop ek by 'n poel water om my "buff" nat te maak sodat my kop kan afkoel.
Net verby die aansluiting is daar konstruksie werk aan die pad en ek en Johan stop om weer ons water bottels vol te maak. Die ander drie ry aan. Nou is daar nog die 2 km bult oor en dan 'n paar ops en afs tot by die huis. Ek kry dit nie reg om die afstand wat ek na die ander verloor het toe ek my waterbottel vol gemaak het, uit te wis nie en kom so 5 minute later by ons huisie aan.
Nog 'n goeie dag se oefening en 'n besonder mooi rit agter die blad!
Data: afstand 65.24 km; tyd 6:12; meters geklim 1,258.








Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking