Dinsdag 14 Februarie 2023

Tankwa Trek Dag 2

 Ek het nie baie lekker geslaap nie met baie onderbrekings en die toilet lig wat van die een kant en die maan van die ander kant in ons tent skuin. Ontbyt is vanaf 05:00 en ek gaan eet net voor 06:00. Ek spring weer in D weg en ons kom net voor 07:00 aan die gang. 


Almal wat stadig is is in die groep en ons bly redelik naby mekaar. Ons volg jeep tracks aan die Weste kant van Kaleo tot by die teerpad. Daar neem hulle ons met ’n baie lae “culvert” onderdeur die pad. Dan volg ons weer ’n jeep track teen die hang van die berg. Ons gaan onderdeur die teerpad na die Witzenberg vallei en ry met die ou wapad. Dit is redelik rof met ’n paar lekker styl gedeeltes. Bo gaan ons oor die teerpad en dan weer anderkant af met die “single en jeep tracks” wat basies die ou wapad volg. Onder in die vallei draai ons regs op die Hanekoms se “single tracks”. Ons ry lekker met ’n paar lekker afdraendes wat gereeld gevolg word deur opdraendes. Alles is egter rybaar. 

Na 26 km bereik ons die eerste waterpunt. Ek drink ’n paar koppies Coke en eet ’n halwe piesang terwyl iemand my waterbottel vol ys en water maak. Net na die waterpunt is daar ’n rouwe jeep track teen die heuvel uit. Bo gekom draai ons links om die volgende klomp “single tracks” van die Hanekoms te volg. Dit is baie rof, baie tegnies met ’n paar kwaai kort klimme wat my verplig om af te klim en te stoot. Dit is egter ’n goeie uitdaging vir ons tegniese vermoëns en baie vervullend. 

Na omtrent 15 km sluit ons by ’n goeie distriks pad aan en handhaaf ons ’n goeie pas. Ons word afgely na ’n “jeep track” langs die rivier en deur vrugteboorde. Dit eindig met ’n kort en uitdagende klim na waterpunt 2 op 48 km. Ek gaan weer vir die standaard koppies Coke en piesang. Ek neem ook ’n blokkie fudge en vul weer my waterbottel met ys en water.

Hierdie waterpunt word gevolg deur ’n lang geleidelike klim deur ’n denne plantasie. Wanneer ons uit die plantasie kom, gaan ons oor na ’n “jeep track” wat teen die kant van die berg op en af kronkel. Elke keer wanneer ek dink ons is nou bo, volg daar nog ’n klimmetjie. Na wat soos ’n ewegheid gevoel het, begin ons daal.


Die pad is baie rof en ek moet mooi konsentreer om my balans te behou. Ons begin nou in die Witzenberg vallei afdaal. Hier het hulde ’n baie interessante “feature” ingebring deur die roete deur ’n natuurlik gat in ’n rots te laat loop. Dit word gevolg deur ’n rouwe plaaspad en dan deur ’n bos waar waterpunt 3 in die verlede was, na die teerpad. Na 5 km op die pad word ons weer met plaaspaadjies omgelei na waterpunt 4. Ek volg die gewone prosedure en val gou weer in die pad. 




Ons gaan weer met ’n “culvert” onderdeur die teerpad en pak die ou wapad waar ons vroeër afgekom het, in die teenoorgestelde rigting aan. Die is maar ’n “grind” maar die einde is in sig en ek moet deurdruk. Ons ry nou alles wat ons vanoggend gery, maar net anders om! Die temperatuur het sedert ons die teerpad bereik het nog nie onder 43 grade Celsius gedaal nie. Gelukkig was die maksimum net 45! Dit kon erger gewees het. Na 75 km kom ons by waterpunt 4, wat in ’n plantasie is, aan. Ek stop net vir die nodige en val weer in die pad. Nou is die einde behoorlik in sig.

Ek het al vantevore die “jeep track” wat ons gebruik op ’n elektroniese kaart gesien en gedink dit is ’n pad wat mens kan ry. Nou weet ek! Daar is egter 'n paar elktroniese hekke waardeur mens sal moet kom indien jy dit op 'n ander geleentheid wil ry. Ons gaan weer met die lage “culvert” onderdeur die pad en dan is dit voet in die hoek einde toe. Die pad deur die rotse net bo die swemgat bly besonders en is ook redelik uitdagend. Daar is gelukkig geen verdere uitdagings en ek bereik die einde sonder enige probleem. 

Ek voltooi die 87:97 km in 6:46:51 met 1,621 meter se klim.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking