Dinsdag 17 Maart 2020

Eroica SA 2020

Die naweek van 13-15 Maart was weer Eroica naweek. Ek en Sue het weer by Squirrels inbespreek en ons vat die pad Montagu toe so om en by 12:30. Verkeer was dik en ons kom net na 16:00 in Montagu aan. 

Registrasie verloop glad en ons meld by Squirrels aan. Nadat ons afgepak het vertoef ons saam met die gasheer en sy vrou op die stoep te same met Norman wat van Howick in Kwazulu-Natal af kom en ook verlede jaar hier gebly het. Net voor 19:00 stap ons af na die registrasie area, waar aandete bedien word.



Die Eroica Classica deelnemers spring 08:00 weg. Ek leen 'n voetpomp en pomp my fiets se wiele 6 bar. Nadat Stan Engelbrecht ons eers weer ingelig het oor die roete en wat daarmee saam gaan, spring ons 08:08 weg. Soos gewoonlik word ons deur 'n ou motor uit die dorp begely tot by die eerste afdraai. Vandag is dit 'n De Soto wat uit die laat vyftigs dateer. Hy ry voor tot by die Ashbury afdraai en van daar is ons op ons eie met nog so 'n kilometer se teer en dan begin die grondpad. 

Die oppervlakte is redelik goed maar ons moet mooi kyk om die groter klippe te vermy. Ek is veral versigtig vir die afdraande want dit is moeiliker om klippe te vermy wanneer jy vinnig ry. Daar is vyf deelnemers voor my en hulle trek gou 'n groot gaping op my. Na 'n rukkie gaan ek een van hulle verby nadat hy 'n papwiel gekry het. Daar is 'n waterpunt na 20 km en ek hou stil. Daar is water en vrugte. Ek neem 'n peer. My waterbottels is nog vol genoeg.

Na 24 kilometer is ek by Oubergpas. Dit gaan maar sukkel-sukkel want my kleinste rat is nie klein genoeg nie of ek raak te oud! Ek sal moet kyk na die moontlikheid om 'n groter rat agter te kry of om my voorste klein ring kleiner te maak, maar vandag is dit skouer aan die wiel sit en trap! Dit neem my 28 minute om die 3 km af te lê en ons klim 310 meter. Teen die bopunt haal ek iemand amper in, maar voordat ek hom kan vang is ons bo en hy trek onder my uit.

Op 30 km kom die eerste Nova Eroica, vir deelnemers met "gravel" fietse, by my verby. Hulle het duidelik nie probleme om vinnig oor die rowwe oppervlakte te ry nie. Op 34 km draai ek links op die pad Hoek van die Berg toe. Hier is al die "gravel" manne in 'n groep en staan rustig en gesels. Ek stoot aan op die pad waarvan die opoervlakte nou redelik goed is. Ek kan dus 'n goeie pas handhaaf. My spoed wissel so van 20-30 kpu met so 'n paar bultjies waar dit af kom tot net onder 10. Waterpunt 2 is net 'n bakkie wat water het en aangesien ek nog genoeg water het, druk ek aan. 

Na 'n rukkie kom ek agter my voorwiel is papperig. Hy stamp egter nog nie deur nie en ek druk aan. Na nog so 'n paar kilometer besluit ek om stil te hou en die wiel te pomp. Ek is nou al vir 2:42 aan die dang en het 43 km afgelê. Die wiel hou die lug goed en ek vorder mooi. Ek haal die deelnemer, wat ek aan die bopunt van Oubergpas gesien het, in en gaan hom verby. Kort daarna moet ek weer stilhou en pomp en hy gaan weer by my verby. Die wiel het 6 km gehou en dit is nog 14 km na die volgende waterpunt. Ek pomp hom die keer 'n bietjie stywer in die hoop dat ek die volgende waterpunt op 65 km sal haal. Daar kan ek dan 'n ander binneband in sit. Ek gaan weer my mede ryer verby. Die wiel hou beter. Ek sien nog twee deelnemers voor my en ook die volgende waterpunt in die verte. Die wiel is nou redelik pap maar ek is vol vertroue dat ek darem die waterpunt sal haal. Ek gaan die ander twee voor die waterpunt verby en kom daar aan met 'n redelike pap wiel. 

Ek neem 'n glas koeldrank en vervang die binneband. Hulle het nie 'n pomp nie, dus gebruik ek 'n CO2 bommetjie om die wiel styf te kry. Ek eet van die slaaie wat daar beskikbaar is, drink nog 'n glas koeldrank en maak my waterbottels vol. 'n Hele klomp Nova manne kom aan asook die drie Classica deelnemers wat ek ingehaal het. Ek vertrek voor hulle. Die stop duur 13 minute.

Dit is net 500 meter na die afdraaipad na die R310 wat van die N1 na Montagu loop. Hier daar ek links. Nou is dit 20 km verby Leeuwenbosfontein tot by die R310. Die pad oppervlakte is redelik goed en behalwe vir 'n goeie klim verby Leeuwenbosfontein, is daar nie enige ander ernstige bulte nie. Dit neem my 1:04 om die 20 km af te lê. Ek draai links, Montagu se rigtimg op die R310. Daar is so 'n 2 km klim en dan is dit meesal afdraend oor die volgende 10 km tot by die laaste waterpunt, insluitend Rooihoogtepas waarvan die draaie nie te skerp is nie. Ek haal my maksimum spoed van 63 kpu hier. 

Waterpunt 4 is altyd 'n hoogtepunt. Hier is koue water, koue bier, koue Coke, koffie, roosterkoek, droëwors, biltong, gedroogte mango, neute en dadels! Ek drink twee Cokes en eet 'n roosterkoek met kaas en konfyt. So tussen deur eet ek biltong en droëwors. Ek neem 'n stuk droëwors saam vir padkos en stop 'n mango stuk in my mond. Intussen is my waterbottels weer volgemaak. Die mense lig my in dat ek 2de in Eroica Classica is, maar die deelnemer voor my is al 20 minute gelede daar weg. Die derde deelbemer in Classica kom daar aan net voordat ek vertrek. Die stop duur ook 13 minute.

Nou is daar nog 40 km huis toe en dit sluit Burgerspas, wat net afdraend is, in. Die res is redelik gelyk met so 'n paar kleiner bultjies. Ek handhaaf 'n pas van so 20-40 kpu. Net voor Montagu gaan ek verby twee groepe van die 60 km deelnemers wat besig is om papwiele reg te maak. Die laaste 7 km is of gelyk of 'n gelydelike afdraend. Dit is voorwaar lekker om 'n wedren met so 'n einde klaar te maak.

Ek kom na 7:04:21 en 136.95 km by die eindpunt aan. Voorwaar 'n lekker dag in die saal en my 30 jarige Le Jeune het foutloos geloop.

<iframe src='https://connect.garmin.com/modern/activity/embed/4654730574' title='Montagu Eroica SA 2020' width='465' height='500' frameborder='0'></iframe>

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking