Sondag 08 Maart 2020

2020 CTCT

Sondag 8 Maart was dit tyd vir my 29st Cape Town Cycle Tour, wat altyd Die Argus was!

My wegspring tyd was 06:50 en ek en Danie Kotze is weer met MyCiti in stad toe. Ek het so om en by 06:10 by my wegspring blok aangekom. Die weer was perfek in die stad. Lekker koel en geen wind nie. Die weervoorspelling het gesê daar gaan 'n 20 kpu wind by Simonstad waai, so ons kon 'n "briesie" in daardie omgewing verwag.

Ons het stiptelik 06:50 begin. Ek het redelik voor begin, so daar het aanvanklik heelwat deelnemers by my verby gekom. Ek is nou op 'n stadium waar ek ry om dit geniet en myself nie te ooreis nie! Die kompiterende gees veroorsaak egter dat ek elke nou en dan myself 'n bietjie druk en saam met 'n groep ry wanneer hulle by my verby kom. Ek hou goed by 'n paar groepe en ry na 1:15 by Jubilee Square in Simonstad verby. Dit is goed genoeg vir 'n tyd van so 3:40-3:50 vir die hele roete, indien ek die pas kan handhaaf. Dit pas goed by my mikpunt vir 'n tyd vir die dag.

Soos in die verlede is dit interessant om te sien hou dieselfde deelnemers in jou omgewing bly. Hulle kom verby, maar na 'n ruk haal ek hulle weer in. Dit is veral op die bulte wat ek weer deelnemers sien wat op die gelykpad by my verby gekom het.

Ek gaan die halfpad merk verby in 1:53. Dit gee 'n tyd van 3:46 vir die hele afstand, so ek moet net so volhou.
Ons handhaaf 'n goeie pas van die Kaappunt afdraai tot by Soetwater. Dit weer 'n geval van vasbyt en by groepe hou en dan maar weer 'n bietjie terugval totdat 'n ander groep verby kom. Op die pad tussen Seaview en die Sun Valley 4-rigtingstop, kom 'n idioot deur ons groep teen 'n baoe hoër spoed as wat ons ry. Die gevolg is dat een deelnemer vir hom uitswaai en een van die verkeers "cones" in die pad tref en neerslaan. Met die val raak hy my agterwiel, maar gelukkig be-invloed dit my nie verder nie. Ek vermoed hy het redelik hard geval en ook 'n paar ander saam met hom grond toe laat kom!

Ek handhaaf 'n goei pas teen Chapman's Peak uit en gaan heelwat ander deelnemers verby. My gemiddelde spoed hier is so tussen 10-15 kpu. Met 29 km oor is my tyd 2:52. Indien ek dus die laaste 29 km, wat Chapman's Peak en Suikerbossie insluit, binne 'n uur kan aflê, sal ek in 3:52 klaarmaak. Nou vir die stukkie deur Houtbaai en dan Suikerbossie! Hier kom my gemiddeld spoed af na so 9-12 kpu, maar ek haal nog steeds heelwat deelnemrs in. Daar heers 'n feestelike atmosfeer langs die pad met musiek en mense wat ons aanmoedig.

Anderkant af is die finale been einde toe met meesal afdraende en gelyk pad. Daar is lekker bondels waar ek kan byhou en ons ry teen 25-35 kpu verby Oudekraal en deur Kampsbaai. Elke nou en dan wil ek die groep laat gaan, maar dan byt ek weer vas en ry saam! Die laaste stukkie deur Seepunt gaan teen 'n dolle 30-40 kpu en ek maak in 3:45 klaar.

So eindig CTCT (Argus) nommer 29. 'n Baie lekker dag, met uitstekende weer geen teespoed nie. Oppad huistoe word ons aangejaag deur 'n redelike ontstuimige Suid Oos. Ons is dankbaar dat hy eers laat oggend begin waai het. Die ouens wat laat begin het sou hom beslis moes trotseer!

Ek eindig 5,817 uit 22,270 en 45 uit 451 in my ouderdomsgroep van die wat klaarmaak. My tyd is better as verlede jaar, maar my possisie is swakker en daar het minder mense klaargemaak.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking