Sondag 12 Februarie 2017

Tankwa Trek Dag 1


Ampal Biltong en Nutri Pick, wat my klere vir BB2BB geborg het, het onderneem om my inskrywingsgeld vir die Tankwa Trek te borg.

Donderdagmiddag net voor 14:00 vat ek die pad Kaleo, net anderkant Ceres in die Koue Bokkeveld, toe. Ek kom so net na 17:00 daar aan. Kry parkering onder 'n koelteboom, registreer en kies 'n tent. Omtrent al die tente is in die koelte onder akkerbome wat mooi in rye geplant is. 

Aandete is 18:00 en "race briefing" 19:00. Toe ek wil gaan stort kom ek agter dat ek nie 'n handfiek en seep gebring het nie! Daar is gelukkig 'n redelik skoon afdroogdoek, wat ek vir my fiets gebruik, agter in my motor. Hy sal maar die naweek as "handdoek" moet dien!

Ek stel my wekker vir 05:15, maar raak net voor 05:00 wakker. Staan op, skeer(kop), borsel tande, sit kontaklense in en gaan eet. Beweeg wegspring toe do 06:15.

Ek is in groep C, die laaste groep en ons spring 06:40 weg. Die eerste 3 km is op plaaspaaie, wat die groep "rek" maar nie genoeg nie. Ons kom by die eerste "single track" en kom tot stilstand. Vordering is stadig en dit neem ons 'n hele tydjie om die volgende 6 km af te lê. Teen daardie tyd het ons redelik uitgedprei en ons vorder goed. Ons ry onder andere oor die teerpad wat ek gery het vanaf Kareekloof na Witzenbergvallei. Ons ry egter nie op die teer nie, maar met "single tracks" wat eers links en dan regs van die teerpad loop. 

Aan die begin van die Witzebergvallei draai ons Noord en kom na 'n rukkie by die eerste waterpunt. Ek drink twee bekertjies water, neem 'n eet dingetjie en val weer in die pad. Ek tel twee Duitsers op en ons gesels so 'n bietjie. Hulle vertel dat hulle vroeër die week in die sneeu gery het. Nou is dit amper 30 en dit is net na 08:00! Wanneer ons afdraai van die teerpad, laat ek hulle agter. 

Die volgende twee uur se ry is meesal enkel gelid met baie tegniese klimme en afdraandes. Ek vorder egter goed en op 45 km, halfpad, staan my tyd op 3:08 en ek behoort in 6:15 klaar te maak, indien tweede helfte nie moeiliker is nie. 

Na 'n rukkie begin ons egter klim. Dit is aanvanklik nie 'n moeilike klim nie, maar hy is lank! Die eerste gedeelte is deur 'n plantasie wat lekker koelte gee, maar later is ons op die rug van die berg en bak ons in die son. Die rug is ook baie ongelyk met 'n paar lelike klimme. Die laaste gedeelte is ook heeltemal kaal as gevolg van 'n brand. Die uitsig is onverbeterlik. Oppad af sluit ons aan by die pad wat ek gery tydens BB2BB, maar die keer af, wat baie rof is!

In die leegte is daar 'n waterpunt onder die bome. Na 'n kort stop vat ek weer die pad. Daar is nog net meer as 20 km oor, maar ons moet nog oor die Witzenbergnek op waar ons vanoggend af gekom het!  Dit is net voor 12:00 en in die kloof is dit ongelooflik warm! Aan die einde van dag sien ek dat die maksimum temperatuur van 46 grade Celsius hier gemeet is! Ons klim die nek, kruis die teerpad, gaan anderkant gedeeltelik teen die rant af en klim weer terug na die teerpad waar die laaste waterpunt is. Daar is 'n groot kom met water en al die ryers wat stop staan nader vir 'n beker koue water oor die kop om af te koel! 

Die laaste 10 km einde toe is oor privaat grond met vrugteboorde en landerye tot 3 km van die einde. Dan is daar 'n ongelooflike stukkie "single track" oor die rantjie agter Kaleo wat onbesktyflik mooi is. Ons ry onder andere tussen 'n paar Cederberg rotse deur 'n natuurlik boog vorm. Baie, baie mooi.

Na 6:48 in die saal voltooi ek die 90.2 km en eindig 63ste uit die 99 Solo deelnemers wat klaar maak. Eerste in Grand Masters. 



Sent from my iPhone

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking