Ek het vroeg verlede jaar al ingeskryf vir die Attakwas op 18 Januarie 2025. Dit sou nommer 16 wees. Ek reël met my broer om saam te gaan sodat hy my motor van Oudtshoorn deur kan neem Grootbrakrivier toe.
Ek kry hom so net na 11:00 en ons kom 16:30 in Oudtshoorn aan. Registrasie verloop vlot en ons eet aandete by Die Smitswinkel.
Ek het weer besluit om sommer met die fiets die 10 km na die wespring by Chandelier af te lê. Ek val so net voor 05:45 in die pad en kom 06:15 daar aan. Na 'n koppie koffie, beweeg ek na my wegspring blok. Ek is vandag eerste daar!
Ek is in Groep C en ons begin 06:50. Die roete is so 'n bietjie aangepas by Waterpunt 2 wat die total afstand 3 km langer maak. Ek sien vir Stanley James (ons volg mekaar op Strava en hy ry ook in die Tygerberg omgewing) by die begin. Hy begin 5 minute voor my. Ons begin op tyd en soos gewoonlik ry ek teen 'n gemaklike pas tot by Waterpunt 1. Die roete loop deur Chandelier en is goeie "jeep tracks" met so 'n stukkie op 'n distrikspad net voor die waterpunt. Hulle het gelukkig die lelike bultjie oppad daarheen, waar ek in die verlede 'n stukkie moes stoot, uitgehaal. Langs die pad kom ek vir Ricky, wat 'n gedeelte van die To Hell and Back saam met my gery het, tee. Ek kom na 1:27 by Waterpunt 1 aan. Na 'n glasie Coke, piesangbrood en 'n dadel bolletjie, val ek weer in die pad.
Vanaf Waterpunt 1 tot by 2 ry ons oor die Klein Doringrivier en dan oor die Kandelaarsrivier, waarna daar 'n baie styl klim van 460 na 537 meter oor 'n afstand van 500 meter is. Ek kry dit reg om so driekwart uit te trap, maar dan raak die oppervlakte te rof en ek stoot die laaste entjie. Die grootse gros van die mense wat saam met my ry, stoot meer as helfte van die bult op! Op 41 km kruis ons die Klein-moerasrivier en ry dan parrallel met hom tot net voor die R328 waar ons die Moerasrivier kruis. Waterpunt 2 is nou meer padaf en ons ry so 1 km langs die teerpad tot by die waterpunt. Ek kom na 1:36 hier aan. Na die gewoonlike glasie Coke, piesangbrood en dadel bolletjie, is ek weer oppad. Een waterbottel is vol water en die ander een vol ys!
Ons ry so 'n entjie langs die Safraanrivier, wat ons na 53 km kruis. Net na die kruising is daar 'n 300 meter lange stuk waar tydens ons 30 meter klim. Die eerste groot stoot van die dag, aangesien die pad oppervlakte ook so danig is dat dit baie moeilik is om momentum te behou. Hier loop is vir John Gale raak. Ons ry 'n entjie langs die Safraanrivier en dan begin die groot klim na die ingang van die Attakwaskloof. Hier loop ek vir Stanley James raak. Ons neem fotos by die ingang van die kloof. Daar word weereens 'n groot gedeelte gestoot as gevolg van die gradiënt en die pad oppervlakte. Ons klim van 656 meter tot by 844 meter oor 'n afstand van 1.8 km. Dit is dan ook die "King of the Mountain" en die hoogste punt van die dag. Anderkant af ry ons parrallel met die Kammarivier tot op ongeveer 65 km, wanneer ons hom weer kruis en dan aan sy regterkant ry tot by Bonniedale. Ons is hier redelik ver van die rivier af en kan hom nie sien nie. Net voor Bonniedale is daar 'n baie tegniese afdraend, wat ek, met groot versigtigheid reg kry om af te ry tot onder in die rivier en dan links op na Waterpunt 3. Hierdie 23 km neem my 2:19 en waar my gemiddelde spoed amper 15 kpu was na Waterpunt 2, het dit nou geval na 12.7. My mikpunt vir die dag is 10 uur en dus moet ek 'n gemiddelde spoed van 12.4 kpu handhaaf. Ek is dus nog binne my teiken. Na die gewoonlike verversings en 'n 5 minute stop, is ek weer oppad. Ek loop weer vir Stanley hier raak en ons pak die volgende skof saam aan.
Bonniedale lê op 349 meter en oor die volgende 5 km klim ons tot by 563 meter! Dit neem my 45 minute om die 5 km af te lê. My gemiddelde spoed is nou besig om gevaarlik naby aan my teken van 12.4 kpu te kom. Trouens, teen die tyd wat ek by Waterpunt 4 kom, is dit af na 12.3 kpu. Dryland het dit goed gedink om 'n ekstra waterpunt tussen Waterpunt 3 en die einde in te sit. Dit is gedoen as gevolg van die groot hitte die afgelope paar jaar en dit is dus verblywend om op 98 km te kan stop om water aan te vul. In die verlede was hierdie skof 22.5 km. Stanley het intussen onder my uit gery. Ons is nou op goeie distriks paaie en dit gaan lekker vinnig wanneer daar 'n afdraend kom! Ons ry verby die afdraai waar Waterpunt 4 altyd was. Ons het ook hierdie "ompad" by 'n vorige geleentheid, toe dit baie nat was, gery. Dit gaan dus ook vinniger was wat die stukkie deur die boorde in die verlede geneem het. Net na die aansluiting waar die "boorde pad" by die huidige roete aangesluit, is daar weer 'n groot klim. 1.5 km wat 15 minute neem om te "bemeester"! Hier sien ek heeltyd vir Stanley so 100 meter voor my. Ons was vandag baie gelukkig met die temperature wat so tussen 35 en 38 grade gewissel het. Op 92 km raak dit vir 'n oomblik vas op 40.8, maar val dan gou weer na 29! Baie beter as verlede jaar toe dit tussen 40 en 45 gewissel het. Die volgende waterpunt is by Ruiterbos, waar ons weer die R328 kruis. In die verlede was dit net 'n "spectator point". Hier stop ek vir 4 minute. My gemiddelde spoed het darem nou na 12.6 kpu geklim. Nog gevaarlik naby aan my 12.4 mikpunt! Ek het 'n gemiddelde van 14.7 kpu oor die afgelope 26.7 km gehandhaaf.
Nou begin die laaste skof. Ons trek nou op 97.5 km met nog 27 km om te gaan. Daar lê nog twee baie styl klimme voor, maar oor die algemeen hoort ek nou 'n beter gemiddelde spoed te kan handhaaf. Halfpad teen die eerste groot klim op loop ek weer vir Stanley raak. Hy het op een van die draaie stil gehou om 'n bietjie asem te skep! Bo-oor die tweede laaste groot klim en dan lekker vinnig af na die volgende klim en die laaste waterpunt op 111.5 km. Dinge begin nou vinniger verloop en my gemiddelde spoed is op na 12.8 kpu. Ek het 15.3 kpu oor die laaste 14 km gehandhaaf.
Met 13 km oor voel ek goed. Ek het intussen vir Stanley agter gelaat en sien nou weer vir John Gale so 100 meter voor my, maar ek haal hom nie in nie! Op 119 km draai ons vir 800 meter regs op 'n teerpad an dan links op 'n grondpad vir die laaste 3 km. Twee ouens kom teen 'n redelike spoed by my verby. Ek "haak" by hulle vas en ons haal vir John in. Hulle pas raak egter 'n bietjie te vinnig en John val terug en ek saam met hom. Na 'n rukkie neem ek oor by hom en ry voor. Met 1 km oor merk ek op dat John nie meer op my agterwiel sit nie. Nou is dit net die laaste bult af. Moet maar versigtig deur die draaie. Wil nie nou val so die wedren eindig nie! Alles verloop verder goed en na 9:25:52 maak ek my 16de Attakwas klaar! Dit was voorwaar een van my lekkerste Attakwasse. Die weer was bykans perfek en ek het gevoe ek sukkel nie. Van die begin af teen 'n pas gery wat my pas en die wedren besonder baie geniet.
Wat 'n voorreg om nog gesond genoeg te wees om dit te kan doen. Ek wonder vir hoe lank nog. Die afsnypunt van 11:00 is besig om nader te kruip!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking