Dinsdag 03 Mei 2022

Brandkop MTB

 Saterdag 30 April 2022

Carine het voorgestel ons "deel" die naweek saam met haar, Henk, sy broer en skoonfamilie op Nieuwoudville waar die Brandkop MTB en Trail Run op 30 April plaasvind. Dit het redelik met ons besoek aan die Oos Kaap vir 'n troue ingepas en ons arriveer dus op Vrydag 29 April in Nieuwoudville vir die wedren op Saterdag 30 April. Carine reël dat ons Vrydagaand almal "burgers" saam met Henk se familie eet en ons kry hulle dus daar.

Ek het die vorige Woensdag op Nooitgedacht in Victoria Wes distrik gery. Dit was baie lekker, maar daar was ongelukkig 'n magdom duweltjies, met die gevolg dat ek nie my fiets se wiele behoorlik styf kon kry nie.  Ek het ook nie genoeg "sealant" by my gehad op die lekke te stop, nie. Ek reël toe om te kyk of die ouens by die wegspring my die Saterdagoggend kon help. Ek is net na 06:15 weg na die wegspring, so 20 km Noord van Nieuwoudville op die Loeriesfontein  pad. Daaraan gekom sê die ou van "Bike and Tackle" hy sal albei bande "dokter". Dit werk toe en ek koop ook 'n spaar bottle "sealant" vir die wis en onwis.

Ons spring so net na 07:08 weg. Die "racing snakes" is gou weg, maar daar is 'n groep van 12 wat teen 'n lekker pas ry. Die eerste 9 km is plat pad en ons bly by mekaar. Die eerste blut is so 800 meter lank met 70 meter se klim en val die groep uitmekaar. Dit word gevolg deur 'n afdraend en dan weer 'n gelyk stuk van so 4 km. Hierna begin die groot klim! Van 14 tot by 34 km klim ons aanhoudend. Die aanvanklike klim is kwaai en die oppervlakte is baie rof, met die gevolg dat dit moeilik is om momentum te behou. Vanaf km 14 to 17 klim ons 230 meter. Hierna raak die klim meer gelydelik. Ons ry die meeste van die tyd op "jeep tracks". Dit neem my 3:00 om die eerste 38 km af te lê. Teen die pas gaan ek sukkel om binne my mikpunt van 6 uur klaar te maak. Ek vertrou egter dat die tweede helfte van die wedren meer afdraendes sal hê en dat ek die orige 42 km in 3:00 sal kan aflê. Die pad opervlakte maak dit moeilik om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf.

Dit was toe dat ek verdwaal! Net na 38 km ry ek deur 'n pan. Daar is 'n pyl in die middel van die pan, maar die wys regop in die lug op. Ek aanvaar dit beteken reguit aan en die spore in die sand wys dat ander deelnemers ook so gedink het. Na 40 km sien ek egter geen spore nie. Ek draai om en ry terug pan toe om 'n afdraai te soek, maar kry niks. Ek ry weer aan tot waar ek vroeër omgedraai het en ry nog verder maar kry steeds geen spore of borde nie. Ek draai maar weer om ry terug, deur die pan totdat ek weer die inkomende spore verloor. Ek ry heen en weer op soek na die regte pad. Na 17 km 1:10 uur se soek kry ek spore en volg dit. Na 'n rukkie besef ek dit is die pad weermee ek gekom het. Ek besluit egter dit is beter om terug te ry soos ek gekom het, as om verder na die regte roete te soek!

Ek onthou toe dat ons vroër 'n stukkie op 'n baie goeie distrikspad gery het. Ek maak die gevolgtrekking dat die regte roete die pad in 'n suidelike rigting moet kruis. By die pad gekom, draai en suid en na 'n verdere 4 km kry ek weer die regte roete. Nou kan ek weer in alle êrens voort ry, op die regte pad! Die vraag is nou, hoe lank gaan my 80 km wedren wees! 

Na 78 km kry ek 'n waterpunt! Ek wou eers verby ry, maar kan nie die vriendelike uitnodiging vir 'n koeldrank en iets om te eet, van die hand wys nie. Hulle stel voor ek volg die grootpad, maar ek wys dit van die hand. Ek wil darem graag die "groot afdraend" na die einde toe aandurf. Na so 'n minuut of twee is ek weer oppad.



Die "groot afdraend" is toe, na my mening, nie vergelykbaar met die "groot opdraend" wat ons na 17 km aangepak het nie. Die profiel is volgens my Garmin is ook meer geleidelik. Op 95 km is ek terug op die pad waarmee ons begin het en na 99.2 km haal ek die eindstreep. Dit na 6:59 in die saal. Indien ek dus nie die 17 km "verdwaal" het nie, hoort ek teen ongeveer 5:45 klaar te gemaak het, wat so 15 minute vinneger as my mikpunt sou wees! Dit blyk ook dat baie van die deelnemers probleme gehad het om die regte roete te volg en dit is hoekom ek die spore in die sand na die pan gesien het!

So dit was maar 'n alleen rit, maar goeie oefening vir die 36ONE oor twee weke!








Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking