My poging om vanjaar ‘n span vir die DC in te skryf het
weereens misluk en alhoewel ek ‘n “tentatiewe” uitnodiging gehad het om by ‘n
Gauteng span aan te sluit het ek daarteen besluit as gevolg van ‘n redelik vol
fietsry program. Woensdag voor die wedren kry ek egter ‘n Whatsapp van Leon
Erasmus wat my uit nooi om saam met hulle te ry. Ek gaan hoor by die
wederhelfte (ja dit is nog goed om na 42 jaar se getroude lewe toestemming te
vra) en sy stem in dat ek mag ry. Gelukkig is ek redelik fiks, maar was maar
bekommer oor hoe ek die pas gaan volhou saam met die jong manne. Leon het
verlede week genoem dat hulle strategie gaan wees om al 12 saam klaar te maak.
Dus was daar hoop vir my.
Ek werk tans by ‘n kliënt is Brackenfell en reël
met my broer, wat die ondersteuning gaan behartig, om my 15:00 daar op te tel
oppad Swelledam toe. Soos gewoonlik sluit die roete wat hy volg ‘n paar
grondpaaie in en ons kom 18:00 by Kam’Bati, 20 kilometer duskant Swellendam,
waar ons gaan kamp, aan. Nadat ons ons staanplek bevestig het, skiet ons gou
deur Swellendam toe sodat ek die nodig verandering kan doen as plaasvervanger
in Leon se span, genaamde “Flash”!
Ons is 19:30 terug by die kamp, slaan tente op
en ontmoet ‘n paar ander manne wat deel van die span is en ook daar kamp. ‘n
Vuur word gemaak en ons wag vir Leon wat die vleis bring. Hy was weg op
besigheid en het eers 17:30 op Kaapstad lughawe geland. Terwyl die ander manne
braai, wag en en Leonico vir Leon wat ons vleis moet bring! Hy en Niel Rossouw
kom 22:00 daaraan en ons eet eers 23:00! Ek is onmiddelik tent toe om ‘n
slaappie in te kry terwyl van die ander manne besluit om aan te gaan met
“kuier”. Hulle het eers na twaalf in die bed gekom.
Ons wegspring tyd is 05:55 en ons moes 30 minute
voor die tyd daar wees. Die gevolg is dat ons in die omgewing van 04:00 moes
begin roer. Ons kom ongeveer 05:00 weg en is 05:30 in Swellendam. ‘n Paar manne
moet nog verstellings aan hulle fietse doen en ons kom drups gewyse by die
wegspring hokke aan. Teen die tyd dat ons moet deurgaan is Corne en nog ‘n manne
nog oppad van die parkeer plek af. Hulle daag uiteindelik op en ons gaan deur
na die wegspring area.
Die groot tog begin offisieel om 05:57! Die pas
is redelik gemaklik en ek het geen problem om by te hou nie. Die weer is bykans
perfek met ‘n begin tempratuur van 11 grade Celsius en geen wind nie. Die
eerste 28 kilometer is ‘n lekker opwarmings rit en dan kom Tradouwpas, wat heel
skaflik is. Oor die volgende 16 kilometer klim ons 226 meter, met ‘n paar klein
afdraandtjies in gegooi net om die ‘n bietjie makliker te maak. Na die
aansluiting by die Barrydale/Montagu pad (R62), is daar ‘n gelydelike gradieënt
tot aan die voet van Op de Tradouw, die groot klim van die DC wat na 59
kilometer aangedurf word. In die volgende 4 kilometer klim ons 245 meter.
Ons handhaaf ‘n goeie pas en ek ry self ‘n stukk
voor! Bo-op die pas is daar ‘n geleentheid om eet en drinkgoed by ‘n pakstoor
te kry. Die “offiële” besluit is dat ons gaan verby hou, maar ‘n paar manne
dring daarop aan om voorrade op te tel met die gevolg dat party van ons verby
ry en by die uitgang wag vir die wat afgedraai het. Ook net lank genoeg om ‘n
bietjie water af te slaan. In die volgende 9 kilometer daal ons 250 meter. Ons
“vlieg” letterlik die bult af. My maksimum spoed was 76.8 k.p.u. Dit was
asemrowend, maar ek wil nie by wees indien daar iets teen daardie spoed verkeerd
gaan nie! Die volgende 30 kilometer tot in Montagu is gelydelik af met so ‘n
paar kleiner klimme net om die spoed te breek. Ons bereik Motagu na 3:40 met
104 kilometer agter die blat.
As gevolg van die padwerke deur die
Kogmanskloof, het die organiseerders besluit om ‘n neutrale sone van Motagu tot
by Ashton te handhaaf. Niemand mag vinniger as 30 k.p.u gemiddeld ry nie en ons
moes in enkel gelid ry. Dit neem ons 23 minute om die 11 kilometer te ry. Ons
ry die Ashton “ruskamp” binne na 4:04 en 115 kilometer. Ons mag 30 minute hier
vertoef en maak ten volle daarvan gebruik. Waterbottels word weer volgemaak en
mae word met allerlei lekkernye gevul. Wanneer ons hierdie neutral sone verlaat,
staan die horlisie op 4:34, maar ons offisiële ry tyd is nader aan 3:34. Daar
is nog ongeveer 90 kilometer oor en ‘n tyd van onder 7 uur is beslis ‘n moontlikheid.
Die pad van Motagu na Robertson en af Bonnievale
toe is redelik gelyk en die “trein” loop dat dit klap! Dit neem ons 50 minute
vanaf Ashton tot by die ysterbrug net voor Bonnievale. Van hier af begin dinge
moeiliker raak met heelwat bulte en ‘n windjie wat van vooraf begin stoot. Ons
arriver na 6 uur in die saal en 163 kilometer op die pad by die laaste
“ruskamp”. Die keer stop ons net vir 26 minute.
Die laaste 40 kilometer het ‘n hele paar
“knoppe” en ons sal moet skouer aan die wiel sit om onder 8 uur op die pad in
te kom. Ons finale tyd sal heel wat vinneger wees as gevolg van die neutral
sones. Die windjie wat waai is darem nie ‘n te groot problem nie en help om
dinge so ‘n bietjie af te koel. Teen die laaste bult voor die Drew afdraai, tel
Jaco problem met sy voorste ratte op. Na ‘n gesukkel kry hy dit reg om die
ketting op die groot rat te kry. Hy besluit om vooruit te ry aangesien hy
verwag om teen van die bulte op te sukkel as gevolg van die fiet dat hy net sy
voorste groot rat kan gebruik. Die res van ons volg teen ‘n redelike pas. n Pas
wat vir pary manne ‘n bietjie problematies raak met die gevolg dat Leon ‘n paar
keer die voorste manne moet vra om die pas nie so “warm” te maak nie. My bene
hou goed en ek hang in die middle rond, uit die wind en agter van die groter
manne wat die pas aangee.
Ons draai regs op die Ashton/Swellendam pad na
7:06 in die saal en 182 kilometer agter die blat. Nou bly daar net 20 kilometer
oor met drie lastige opdraendes tussen ons en die einde. Ons handhaaf weereens ‘n
goeie pas en die kilometers vlieg verby. Almal wonder wat van Jaco geword het
en ons hoop net dat hy vir ons voor die eindstreep wag sodat ons as ‘n span van
twaalf oor die eindstreep kan ry.
Die DC het deesdae ‘n minder aangename angel in
die stert! In die laaste kilometer is daar ‘n klim van 35 meter na die
eindstreep toe. Ons vreugde was groot toe ons vir Jaco net voor die einde sien
en as span van twaalf saam oor die streep kon ry.
Totale ry tyd was 7:55 met ‘n offisiële tyd van
6:36. ‘n Baie aangenaam rit en ‘n span waar daar goeie samewerking en kameradie
was. Dit was ‘n voorreg om weereens ‘n DC te voltooi!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking