Dinsdag 17 Januarie 2012

2012 Attakwas

Saterdag 14 Januarie en weer tyd vir die Attakwas. My mikpunt was om in onder 8 uur klaar te maak. Om dit reg te kry moet ek 'n gemiddelde speod van 15.5 k.p.u. volgens my Garmin handhaaf oor die 121 km.

Voorbereiding het goed verloop met geen "dratiese" oefen program nie. Al wat 'n bietjie "abnormaal" was, was die 118 km wat ek op Saterdag 7 Januarie afgele het.

Ek, Danie Kotze en my broer is Vrydag middag 13:00 uit die Kaap weg. Ons was net voor 19:00 in Oudtshoorn. Val gou by Pick n Pay in en koop braaigoed vir die aand. Daarna het ons ons nommers by Kleinplasie gaan haal en so teen 19:30 by NA Smit Vaklansieoord ingeboek. Lekker gebraai en was voor 22:00 in die bed.

Saterdagoggend 05:15 opgestaan en teen 06:00 by Chandelier aangekom vir die 06:30 begin. Vanjaar het ons weer in groepe weggespring. Die eerste groep was die vinnige manne, daarna volg 'n groepe wat skynbaar mense is wat al van tevore gery het en dan die res. Ek was in die tweede groep. Die eerste paar kilometer is nie te moeilik nie, behalwe vir die "verkeer". Die meeste ouens het egter 'n redelike pas gehandhaaf en na die eerste uur was my gemiddelde spoed 18 k.p.u. Die Attakwas roete is egter een wat geleidelik begin met die werklike angel in die middel. Alhoewel daar 'n paar lellike bulte op die einde is, kan 'n goeie gemiddelde spoed gehandhaaf word. Die roete bly baie mooi met wisseling van droe Klein Karoo na die fynbos van die Attakwas Kloof en die digter bosse aan die see se kant van die Outeniekwa berge. Die pas wat ek gehandhaaf het was deurgans heel goed. My fiets het geen probleme gegee nie en ek het die meeste tegniese gedeeltes sonder enige moeite aangedurf. Die bult net na die eerste waterpunt was nog altyd moeilik en ek het nog elke jaar die laaste derde gestoot. Vanjaar weer. Van daar tot by die kruising van die Oudtshoorn/Mosselbaai pad het ek 'n goei pas gehandhaaf. Daarna volg die Attakwaskloof met 'n paar erstige klimme en rowwe afdraandes. Hierdie terrein het egter veroorsaak dat my gemiddelde spoed by Bonniedale, na 65 km. geval het na 14.4 k.p.u. Ek moes dus aanvaar dat ek nie 8 ure gaan breek nie, of ek moes baie hard werk oor die laaste 55 km. Om sake nog verder te be moeilik klim ons 222 meter in die volgende 6 km. Nie idiaal om die gemiddelde spoed te laat styg nie! My oog bly op die gemiddelde spoed en die bly onder 15 k.p.u. Daar volg gelukkig 'n paar lekker afdraandes voor die eerste van die laaste twee groot bulte en ek sien dat my gemiddelde stadig begin klim. Halfpad teen die bult trek Gavin Viljoen langs my in met die opmerking "tell me this is the top" en ek antwoord "no chance of such luck" en ek sien hom nie weer nie! Aan die voet van die laaste bult is dit op na 15.3 k.p.u. Daarna is die pad meesal gelyk of met 'n helling waarteen 'n goeie gemiddelde spoed gehandhaaf kan word. My moed styg saam met my gemiddelde spoed wat nou op 15.5 staan. Aan die bopunt van die finale afdraand weet ek dat ek in minder as 8 uur gaan klaar maak. Dit is ook so en my tyd is 7 uur 53 min vir die 121 km. Ek sou later sien dat Gavin Viljoen, wat 5 minute later as ek begin het, my met 7 sekondes klop!



Weereens 'n baie lekker wedren met fantastiese waterpunte, goeie weer en van die mooiste natuurskoon.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking