Dinsdag 20 Desember 2011

Leeuwenboschfontein

Leeuwenboschfontein
Dit is 15 Desember en ons vertrek teen 10:00 Leeuwenboschfontein toe vir 'n naweek van ontspanning en fietsry, weg van selfone af en in die wye vlaktes van die Karoo. My seun en sy gesin vergesel ons vir die naweek. Dit het ons ongeveer 3 uur geneem om die 220 km af te lê. Ons was aangenaam verras met ons aankoms daar. Alles was mooi skoon en ruim met 'n lieflike groot grasperk voor die huis en 'n dam. Die heuwels in die omtrek het dit duidelik gemaak dat die drie dae se ry 'n paar "klimme" gaan insluit. Registrasie is gedurende die middag afgehandel en aangesien ek voor 30 November ingeskryf het, het ek 'n persoonlike nommer gekry. Wegspringtyd is bevestig vir 07:00 om seker te maak dat ons nie te warm kry en probleme met die slange optel nie. Dit is duidelik gemaak dat dit 'n naweek is om te geniet en dat "wen" nie ter sprake is nie.

Dag 1
Vroeg opgestaan en gereed vir 70 km in die Karoo. Daar is ‘n redelike “byt” in die lug! Ons loop ook vir Sieg en Marlise Visser asook Rob Moffat van ons Double Century span daar raak. Ons word ingelig dat daar geen "sand" op die roete is nie. Die eerste 10 km is op 'n goeie distrik pad en ons gemiddelde spoed was in die hoë twintigs. Daarna is ons die veld in en ry op "minder gebruikte" veld paadjies en nie te lank nie of ons tref die sand. Die "Maan mannejies" het dit seker die vorige aand kom strooi! Alhoewel daar 'n hele paar sand kolle was, waar afklim en stoot die voorland was, was die lengtes nie ernstig nie. In sekere gevalle kon ons met goeie momentum deur kom en in ander gevalle het 'n "detour" deur die veld gehelp. Net voor die eerste waterpunt op 30 km was daar 'n redelike klim. Vanaf km 32 word ons verras met 10 km se geleidelike afdraand. Tydens hierdie 10 km handhaaf ons 'n gemiddelde spoed van in die dertigs. Dit word gevolg met 'n soortgelyke klim vir die volgende 6 km. Waterpunt twee volg en daarna is dit 'n redelike gemaklike klim vir die volgende 16 km. Die laaste 5 km het 'n paar ernstige klimme en afdraandes ingesluit en dit was voorwaar aangenaam om oor die laaste bult die eindpunt te sien. Na 69 km en 4 uur en 2 minute bereik ek die einde. Voorwaar 'n baie aangename rit met 'n bietjie van alles om dit interessant en genotvol te maak.
Die res van die dag ontspan ons lekker op die gras, roei op die dam en sluit af met 'n braai. Teen 22:00 slaap almal.

Dag 2
Weer vroeg aan die gang. My seun, Adre, se tweeling maak seker dat almal teen 06:00 wakker is! Ek het dit ook reg gekry om hom te oortuig om sy eerste bergfietswedren aan te durf en aangesien dit in die gene is, besluit hy hy om die lange te probeer! Die begin is redelik gaoties aangesien die hek by die eertse afdraai toe is en daar onsekerheid heers of ons moet afdraai of nie. Gelukkig word dit gou uitgesorteer en daar trek ons, deur die veld op ‘n redelike rowwe veld paadjie, terug oor die groot pad en deur die veld teen die berge uit. Op 11 km begin die klim. Ons kilm 400 meter in die volgende 8 km. Hierna volg ‘n 7 km redelike gelyk rit gevolg deur 12 km se afdraand, waar groot dele redelik “rof” is. Teen die tyd los ek vir Adre en vat die pad einde toe. Die laaste 10 km is lekker glad en eindig met 5 km op die distrikspad. Daar is egter ‘n “angel” in die einde. Die roete gaan verby die afdraai na Leeuwenboschfontein en draai ‘n entjie verder af na die kampterein. Nie ‘n probleem nie, maar dan kom die “verassing”. Na die kampterrein draai ons nie regs met die pad na die eindpunt nie, maar ons gaan reguit bult op! 30 meter se klim in 300 meter. Die afdraand eindpunt toe maak egter die klim die moeite werd! 47 km in 3 uur 6 minute. Adre kom so ‘n kwartier later in.
Saterdagaand is ons deel van ‘n heerlike samekoms van vriende rondom ‘n spit. Die word vooraf gegaan deur ‘n “lucky draw” waar almal wat teenwoordig is, iets kry. Die vleis was “voortreflik” gaar gemaak.

Dag 3
Nog ‘n voortreflike dag met fantastiese weer. Ongelukkig het Sue, my vrou, begin siek word en voel glad nie baie goed nie, met die gevolg dat sy nie veel geslaap het nie. Die dag se roete begin met ‘n rowwe “jeep track” agter die die plaas uit, oor die vliedtuig aanloopbaan terug na die grootpad, deur die kloof waar ons die eerste dag gery het en deur die eerste paar “sand stukkies”. Op 14 km draai ons gelukkig links en volg ‘n beter pad wat baie van dag 1 se sand,‘n paar bulte en daardie lekker afdraand uitsluit. Vanaf kilometer 14 to 30 klim ons 300 meter. Die volgende 18 km is redelik konstant met geleidelike op en af dele en terrain wat wissel van veld paadjies na ‘n deel op ‘n distrikspad. Dit eindig met die afdraai na Kopbeenkloof en die laaste waterpunt op 49 km. Die laaste 11 kilometer sluit ‘n paar “hairy downhills” met groot klippe en en heelwat draaie in. Tydens hierdie stukkie “jaag” ek en Theo mekaar. Ek is sterker teen die bulte, maar hy is ‘n doorn teen die afdraandes. Hy ry onder my uit oor die rowwe afdraandes en dan haal ek hom in teen die bulte. Ons ry saam oor die groot dam se wal en durf die laaste kilomtere kop-aan-kop aan. Dit blyk toe dat ek so ‘n bietjie meer “spoed” op die gelyk pad het en ek klop hom met so ‘n paar sekondes op die eindstreep. Niks ernstig nie, maar baie lekker en opwindend.

So eindig ‘n voortreflike naweek op Leuwenboschfontein. Ons het dit so baie geniet dat ons sommer onmiddelik die huis vir volgende jaar bespreek. Die naweek word afgesluit met ‘n goeie middagete by Die Ou Kombuis in Monatgu.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking