Maandag 09 Mei 2011

Nog 'n lang dag


Maandag 2 Mei was 'n vakansiedag en dus weer 'n geleentheid om 'n goeie dag so oeffening vir die Freedom Challenge in te kry. Pak sak die vorige aand om die effek van die volle gewig te ervaar. Klaar gepakte sak weeg 11kg! Ek spring 07:06 weg met die doel om so tussen 11 en 12 ure in die saal te spandeer, ongeveer 150 km te ry met voldoende klimme in. Roete begin by my huis in Bloubergstrand. Oor die Weskuspad en Noord van Parklands deur die bosse na die N7. Dan op met Hillcrest en af na Contermanskloof. Halfpad teen Contermanskloof af kom ek agter my waterbottel is leeg. Gelukkig het ek darem water in my rugsak gehad. Besluit om by Contermanskloof winkel 'n Coke te koop om bottlel vol te maak. Daar aangekom vind ek egter dat hulle besluit het om nie op die vakansiedag oop te maak nie. Gelukkig is daar 'n kraan en kan ek my bottel met water vul. Halfpad teen Contermanskloof se bult uit kry ek 'n kortpad na die Vissershokpad en van daar na Malanshoogte, verby Fair Cape Melkery, Adderleyweg, Klipheuwel en verby die drie windkragopwekkers. Neem afdraai na Leeuwendans en met grondpaaie na die agter Paarl pad en dan na die Eenzaamheidpad, waar ek weer water kry, deur na Klapmuts. Net voor Klapmuts draai ek regs en ry al langs die N1 op 'n goeie grondpad tot by die Stellenbosch/Klipheuwel aansluiting. Van daar na Joostenbergvlakte waar ek my voorrade aanvul met 'n Coke en 'n Lunchbar. Nou deur na Fisantekraal, oor die Spes Bona pad na D'banvale en die Vissershokpad. Dan volg ek die "groen roete" van Meerendal na Contermanskloof, verby die Telkom mas en met Hillcrest se rooi roete af na die Tiekiedraaipad. Nou is dit afdraand huistoe. By die Killarney Hotel bars 'n rëenstorm los. Gelukkig is my reënbaatjie naby en ek hou gou stil om dit aan te trek. Nou rëen dit honde en katte. Gelukkig is dit gou verby en die res van die rit huis toe is rustig. Arriveer 17:34 na 11:28 ure in die saal met 155.36km en 1954m se klim teen 'n gemiddeld van 12.5m/km, ongeveer dieselfde as die Freedom Challenge se gemiddeld. Goeie dag en ek het nooit gedaan gevoel en 'n redelik goeie gemiddelde hartklop gehandhaaf. Die volgende twee uitdagings is MTN se Saronberg wedren by Tulbagh oor twee weke en dan Dirtopia se 100 miler by Malmesbury. Daarna sal ek dit redelik rustig vat tot 12 Junie wanneer ek wegspring.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking