Dinsdag 31 Januarie 2023

Nature's Valley na Soetkraal in die berge

Ek, Leon, Hennie de Clercq en ‘n vriend van Hennie het op 6 Januarie die pad na Soetkraal aan gedurf. Soetkraal is ‘n nedersetting halfpad tussen The Craggs en Louterwater, diep binne die berge tussen die twee plekke wat veroorsaak dat mense òf oor Kareedouw  óf oor die Prins Alfredpas moet ry om hulle te verbind. Die pad is nie baie duidelik op karate aangedui nie, maar Tracks4Africa toon dit wel aan. Dit is egter ‘n pad wat net met ‘n hoë grondvry hoogte voertuig aan gepak kan word. Dus bring maar die bakkie of die 4x4. 

Ons het so net voor 08:00 in die pad geval. Hennie en sy vriend was op E-bikes en ek en Leon op gewone foetse. Die eerste 20 km was teer, maar dan begin ons klim en die pad verander na ‘n goeie grondpad. Op 22 km ry ons verby ‘n bosbou stasie en dan begin die klim ernstig raak en die pad verander na ‘n jeep track. Ons klim oor die volgende 13 km van 250  na 910 meter. Dele van die pad oppervlakte is goed, maar daar is dele wat baie rof is. 

Die reën van die vorige aand het gesorg dat die pad goed nat was met heelwat poele. Gelukkig was hulle nie te diep nie, maar 'n paar het gesorg dat ons behoorlik moes trap om deur te kom. 

Net na die eerste kwaai klim het dit liggies begin reën en ek het begin bekommerd raak dat ons deurnat so raak, maar gelukkig was dit van korte duur. Die lug was nog steeds toegetrek wat gehelp het om dit koel te hou. 


Die pad was nogal 'n baie interessante uitdaging en elke nou en dan moes ek diep "skep" om momentum te behou. Twee keer was ek nie suksesvol nie, gelukkig net vir so 20 meter of so. 


Daar het ook 'n Fortuner by ons verby gekom en ons het gewonder of hy oppad Soetkraal toe was. Ons het hom egter, net voordat ons omgedraai het langs die pad gekry. Blykbaar was die mense op 'n staptoer.


Bo-op die kop het ons 'n lieflike uitsig oor Soetkraal gehad. Almal was dit egter eens dat ons nie kans gesien het om vandag die bult af na Soetkraal met die terug rit wou uittrap nie, so ons draai net daar om. 



Die terugtog was heelwat makilker met 'n paar uitdagende afdraendes, maar almal oorleef dit. Onder by The Craggs stop ons vir 'n koffie voordat ons die teerpad terug Nature's Valley aandurf. 


Na die tyd stem ek en Leon saam dat ons die hele pad tot by Louterwater sal wil aanpak op 'n bolgende keer.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking