Woensdag 23 Mei 2018

AMA Rider 100 miler

Die 10de AMA Rider 100 miler was geskeduleer vir Saterdag 19 Mei. My voorbereiding was goed en na my goeie 36ONE was ek vol vertoue dat ek ‘n goeie tyd sou ry.  Ek het Donderdag my nommer in Bellville gaan afhaal. Die gevolg was dat ek so ‘n half uur later kon slaap voor ek die Saterdagoggend Malmesbury toe vertrek het. Daar aangekom het ek my fiets aanmekaar gesit en toe ‘n “Americano met warm melk” gekoop om my reg te kry vir die wedren.

Ons begin 7:29. Aanvanklik moet ons 3 km deur die dorp agter ‘n bakkie aan ry wat opsy trek sodra ons die buitewyk aan die Suid Ooste kant van Malmesbury bereik. Ons klim dan onmiddelik 160 meter in die volgende 4.5 km, wat die veld goed uitsprei. Bo op die bult hak ek by ‘n paar ander ouens aan en ons vorm ‘n lekker groepie wat ‘n goeie pas handhaaf.
Nie lank hierna nie moet ons Welgemeend  se bult aandurf wat weer ‘n klim van 170 mtere oor ‘n afstand van 4.9 km is. Dit “skommel" die groepe weer goed op met ouens wat by my verby kom, maar ek gaan self ‘n paar verby. Net nadat ons bo is vorm ons ‘n groep van vyf wat lekker saamwerk. Vier van ons hou nie by die eerste waterpunt stil nie en storm voort.
Ons het by waterpunt 1 van die distrikspad afgedraai La Rhine toe. Die volgende 10 km is op plaas paadjies met ‘n hele aantal bulte en afdraandes, maar niks ernstig nie, met die gevolg ons bly bymekaar. Ons gaan ook ‘n ryer of twee verby en ‘n paar sluit ook by ons aan met die gevolg dat ons gedurig groter word, maar dan val een of twee weer af so die groep wissel so tussen vier en agt. Op 41 km draai ons links op die Perdeberg teerpad en na 3 km kruis ons die R45  wat Paarl met Malmesburuy verbind en ry weer plaaspaadjies vir ‘n verdere 4 km, waarna ons links draai op ‘n goeie breë grondpad. Na nog 4 km, wat ‘n paar lekker opdraandes en die gevolglike afdraandes insluit, draai ons weer links na die 2de waterpunt en die eerste groot klim van die dag.  Ek hou stil en eet ‘n muffin en drink ‘n paar glasies Coke. 

Na twee en ‘n half minute val ek weer in die pad, maar teen die tyd is almal saam met wie ek gery het, al reeds weg. Ek kan hulle egter almal sien en sit skouer aan die wiel om te kyk of ek hulle kan in haal. Ek kry dit reg en teen die tyd dat ons bo is, sluit ek by die voorste drie aan en ons laat ‘n paar van die ander agter. Ons ry lekker saam. Die drie manne het seker die ou oomie jammer gekry, want elke keer wanneer iemand van vooraf terugval, sluit hy weer voor my by die groep aan. Die gevolg is dat ek net moet sorg ek bly by.  Ons tel drie ander deelnemers langs die pad op, maar net twee, waarvan een ‘n dame is, hou by. Die pas is so ‘n bietjie hoog na my smaak, maar ek besluit om deur te druk. Dit gaan so aan vir die volgende 30 km en ons kom na drie uur vyf en twintig minute by Delico, die halfpad waterpunt aan. Dit is vir my ongeveer ‘n halfuur vinniger as verlede jaar. Ek vertoef net een minuut 24 sekonds en val weer in die pad. Die res van die groep is nog besig by die waterpunt toe ek vertrek.

Ek merk op dat die dame so ‘n paar honderd meter agter my is. Dit is altyd beter om in ‘n groep te ry en ek kyk gereeld om om te sien of sy my nie inhaal nie, maar dit gebeur nie. Ek druk dus maar aan. Na seker so ‘n half uur se ry hoor ek fietse agter my. Toe ek om kyk sien ek die res van van my ou groep plus ons dame. Ek val maar weer agter in en ry lekker saam. Ek moet myself gedurig druk om nie af te val nie, maar ek hou by. Ons is nou ‘n groep van vyf met drie manne wat die pas aangee en ek en die dame wat die agterhoede dek! Dit neem my 1:11 om die 28 km na die volgend ewaterpunt af te lê. Hier is daar lekker sop en noedel slaai vir die wat daardie energie wil in kry. Ek besluit om eder vir die sop te gaan. Ek is al reg om te ry, maar die ander manne is nog besig. Ek het egter my les geleer en besluit om eder te wag as om my energie verniet te vermors. Ek drink dus ‘n tweede koppie sop.

Die manne neem ‘n bietjie lank en na 6 minute besluit ek om maar stadig aan te stoot. Ons dames vriendin was toe al weg. Ek ry baie rustig en na so vyf minute is ons weer ‘n groep. Dit neem ons ‘n verdere vyf minute om die dame in te haal en weer ‘n groep van vyf te vorm. Die profiel van die 100 miler se tweede 50 myl is ‘n gelydelike styging met so ‘n paar afdraandes, maar ons klim heelwat langer as wat ons daal. Dit is dus ‘n groot “grind” maar ons handhaaf ‘n pas van so ongeveer 15-20 k.p.u. Van 128 km tot 138 km klim ons gelydelik en die groep val uit mekaar.
Ek kom tweede by die laaste waterpunt aan, maar kom na 2 minute weer eerste weg. Na ‘n hele rukkie kom die twee sterk manne van ons groep by my verby, maar nou is hulle pas net te veel vir my. Ek haal ‘n paar ander manne op die bult wat volg, in en laat hulle agter. Ons klim nou weer heelwat totdat ons 'n lang afdraande op 148 km slaan. My verbasing is groot toe ons “dame” by die laaste bult weer langs my in trek. Ek hou haar darem in sig en gaan haar verby teen die afdraande. Hierdie afdraande is 10 kilometer lank en word deesdae gevolg deur ‘n 5 kilometer klim na die einde toe. My verbasing is groot toe een van die groep wat ek na waterpunt twee agter gelaat het, by my verby kom! Ek en hy en die dame bly by mekaar tot by die einde. Hulle het egter geen respek vir ouderdom nie en gaan net voor my oor die eindstreep.

So eindig ‘n baie aangename 100 miler in die goeie tyd van 7:29!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking