Saturday, March 18, 2017

Eroica SA 2017

Ek het so 'n jaar gelede die eerste keer van Eroica gehoor. Dit is 'n beweging wat in Italië begin is met die doel om wedrenne te reël vir fietse wat voor 1987 vervaardig is en die wedrenne sal in die gees van die oorspronklike Tour de France wees, met ander woorde, geen ondersteuning en van die paaie sal grondpaaie wees. Vir SA is die reël aangepas om fietse wat tot 1999 vervaardig is te laat kwalifiseer. My 1989 Le Jeune, waarmee ek al 26 Argusse gedoen het, kwalifiseer dus. Die eerste wedren is verlede jaar gedurende April in Montagu gehou. Die tweede is gereël vir Saterdag 18 Maart 2017. Ek het daarvoor ingeskryf. Die wedren sou drie afstande hé naamlik 140, 90 en 50 km. Ek het besluit om vir 140 km in te skryf. Ek het die week voor die wedren vir my fiets 28 mm buitebande gekry om die grondpaaie beter te hanteer. Met my eerste oefen rit deur Koeberg Natuurtuin, kry ek 'n papwiel 200 meter voordat ek weer by die teer uitkom! Ek besluit dat dit seker beter sal wees om eerder die 90 km aan te pak eerder as om 140 km op grondpaaie aan te durf. Die Dinsdag voordat die wedren plaasvind, begin my keel krap! Benilyn help darem maar ek besluit om maar eder net die 50 km aan te pak.

Registrasie is vanaf 06:00-07:30 en dit neem 2 uur om Montagu toe te ry vanaf Bloubergstrand, met ander woorde ek moet 04:00 opstaan om betyds te wees. Alles verloop volgens plan en ek kom net na 07:15 daar aan. Registrasie is redelik "low key" en ek kry 'n oulike sakkie met my nommers, 'n kaart wat by die begin, twee punte langs die pad en die einde gestempel moet word en 'n paar eetgoedjies. Die 90 km roete volg dieselfde roete as die 50 km vir die eerste 50 km, gaan dan by die begin verby en uit na die Noord Ooste van Montagu vir 'n verdere 40 km. Ek gesels met die organiseerder en meld dat ek net die 50 km gaan doen. Hy stel voor ek begin saam met die 90 km groep en indien ek wil kan ek na 50 km ophou, maar indien ek so voel kan ek aan ry. So gesê, so gemaak!

Die wegspring tye is 08:00 vir 140 km, 08:30 vir 90 km en 09:00 vir 50 km. Die "stigter" van Eroica het van Italië af oorgekom, met 'n paar vriende en hulle gaan ook ry. Hy "open" die verrigtinge met 'n toesraak in Italiaans, wat vir ons vertaal word. Dinge gebeur egter baie rustig en die 140 km manne spring so ongeveer 08:10 weg. Die 90 km groep kom 08:42 aan die gang. Ons word uit die dorp gelei deur 'n veteraan motor wat in 'n uitekende toestand is! 




Die eerste deel is Oos van Montagu in Talana se rigting. Die eerste 2.5 km is teer, maar dan word dit grondpad. Ek ry saam met die voorste ouens. Deur die eerste drif, op 5.5 km, kry ek my eerste papwiel! Dit neem egter net 4 miniute om 'n ander binneband in te sit en ek is weer oppad, nadat almal by my verby is.
Ek haal die agterste ryers gou in en vorder goed. Op 10 km draai die voorste ryers om. Ons het 'n afdraai gemis! Ons ry 'n 4 km draai! Die pad oppervlakte is goed en ek probeer my bes om die groter klippe mis te ry! Na 24 km kry ons die eerste kontrolepunt. Hier moet my kaart gestempel word en daar is neute, gedroogte perskes, broodrolletjies met spek, koffie en 'n dop of twee brandewyn vir die manne wat van die steker voggies wil hé! Terwyl ek rus maak ek kennis met 'n Brit wat Johannesburg toe gevlieg het, met die Bloutrien Kaap toe gery het, daarna 'n paar dae in die Kaap deurgebring het en nog 'n week langs die tuinroete gaan vakansie hou. Dit is nou die lewe! Ek spandeer 10 minute hier en is gou weer aan die gang. Op 30 km sluit ons by die Barrydale/Monatgu teerpad aan. Van hieraf is dit lekker voet in die hoek terug Montagu toe. Ek kom 2:25 by die begin aan en hou smmmer reguit deur aangesien ek baie goed voel en geen nagevolge van die die vroeëre krapperige keel ervaar nie.

Ons volg die pad verby die Avalon Springs en draai dan af op 'n grondpad Baden en Pietersfontein dam toe. Op 57 km kry ek my tweede papwiel! Hierdie keer neem dit my 7 minute om die band te vervang. Ek het egter net twee spaar binnebande saam gebring en daar was nog 35 km om te ry. Nou is nog meer versigtig om die klippe te mis en vat dit maar redelik kalm. Die pad raak ook redelik stel en ek besluit om maar 'n gedeelte te stoot. Toe ek bo kom besef ek dit is nie "bo" nie! Dit een van daardie paaie wat op en af gaan. Wanneer jy bo kom gaan jy weer in 'n vallei met nog 'n bult daarna. Gelukkig was dit tot 'n mate oë verblindery want onder in die vallei loop ons roete links en vermy ons die tweede bult wat ek gesien het. Ek moet om 'n toe hek gaan en verby 'n par plaashuise waar daar 'n groot hond is wat baie blaf en 'n ent agter my aan draf. Na aanleiding van die verkeerde pad wat ons vroeër vanoggend gery het, begin ek wonder of ek op die regte pad is. My GPS wys geen pad waar ek ry nie maar wel die bult wat ek gesien het. Ek besluit om om te draai en seker te maak. Weer verby die hond wat weer blaf en saam draf. Ek besef egter dat ons ingelig is oor die hek wat toe mag wees en van die paadjiom die hek wat gevolg word deur 'n enkelspoor met baie dorings. Ek is dus reg en draai maar weer om. Die hond jaag my weer, maar die keer is hy meer aggresief en gee my 'n hap. Gelukkig nie enrnstig nie maar darem genoeg om bloed te trek! Ek sal seker maar na die tyd 'n tetanus inspuiting moet kry! Ek stoot en dra my fiets grotendeels oor die enkel spoor om die risiko van nog 'n papwiel te beperk! Die roete gaan om die Pietersfontein dam en oor die damwal en anderkant af moet ek my fiets teen styl trappe afdra. Na die trappe kry ek die tweede kontrole punt. Ek maak my waterbottel vol, kry my stempel en rus lekker terwyl ek 'n boerewors rolletjie eet. Die mense daar sê ek is die eerste ryer wat daar verby kom, dus is ek voor in die 90 km wedren. 

Na 6 minute val ek weer in die pad. Daar is nou nog 20 km oor waarvan die grootste gedeelte teer behoort te wees. Die pad oppervlakte is oor die algemeen goed en na 'n verdere 6 km sluit die pad aan by die pad wat ek 'n uur en 20 minute vroeër gery het. Na 1 km draai my roete regs af in die rigting van die Koo Vallei/Montag pad. Nog 2 km en ek is weer op die teerpad en dankbaar dat ek nie weer 'n papwiel gekry het nie! Die laaste 12 km na die einde toe neem my 30 minute. Ek voltooi die 95 km, wat die 4 km draai insluit, in 5:12 en is die eerste 90 km ryrer wat klaar maak. By Eroica is dit egter baie rustig en daar is geen "verwelkomens komitee" by die einde nie. Trouens, ek moes gaan soek waar ek my laaste stempel kon kry en daar is skynbaar geen rekord of kontrole oor wie wat klaar gemaak het nie. Ek neem 'n paar foto's, drink 'n koeldrank en val in die pad huis toe. 



Ek kom net voor 17:00 daar aan, stort en gaan hospital toe vir my tetanus inspuiting. So eindig my eerste Eroica. 'n Heel interessante ondervinding met baie goeie hereneringe.

No comments:

Post a Comment