Sondag 16 Januarie 2011

Attakwas 2011

Saterdag 15 Januarie 2011 en die Attakwas is hier. Hulle het vanjaar besluit om die wegspring in groepe op te deel. Aangesien ek 'n Grand Master is, spring ons toe laaste weg, 15 minute na die Elite manne. Ek en Kabous Marra het met die wegspring lekker gesels en toe ons ons kom kry is ons heel agter! Dit het my egter nie te veel bekommer nie, aangesien ek geweet het dat die groep gou uitgestrek sou raak. Die feit dat ons apart weggespring het, sou darem ook help om die aanvanklike "verkeer" beter te maak. Dit was toe ook so en alhoewel die begin pas 'n rustige 15 k.m.u., oor 'n redelike gelyk area was, kon ek redelik gou teen 'n pas ry wat vir my gemaklik was. Die weer was heel aangemaan met 'n redelike temperatuur. Ek het vemoed dat dit later in die dag redelik warm sou word. Met die ry het dit heel goed verloop. Ek kon voor die eerste waterpunt agter kom waar hulle vanjaar se roete, wat 14 km korter was, verander het. Gelukkig het hulle 'n baie klipperige stuk uitgesny. Soos verlede jaar was die eerste waterpunt aan die voet van 'n 75 meter klim oor 'n afstand van 900 meter. Die eerste stuk kan gery word, maar dan raak die klippe so erg dat jy verplig is om af te klim en te stoot. Iets wat nogal heelwat op die Attakwas gebeur. Ek en Kobous het nie spesefiek saam gery nie, maar elke nou en dan sien die een die ander is daar en dan gesels ons weer 'n stukkie. Volgende was die Outenikwa Natuur Reservaat aand die beurt. In hierdie stuk het Kobous onder my uit gery en ek het hom nie weer gesien nie. Die hele roete is baie op-en-af. Na die Outenikwa kruis ons die R328 en dan volg die Attakwas. Op hierdie stadium was my gemiddeld 15.5 k.p.u. en ek was oppad na 'n tyd van net onder 8 uur. Hier klim jy 460 meter oor 'n afstand van ongeveer 18 km en verloor in totaal 550 meter, so dit is alles of op of af! Baie min gelyk pad. Op een van die klimme het my Garmin 26% aangetoon (Dit was terwyl ek gestoot het)! Daar is ook 'n paar gedeeltes waar die terryn te rof is om te ry en dit geld vir op sowel as af! Net na die Attakwas gaan die roete deur Bonniedale, waar die derde waterpunt is. Hier kry jy onder andere 'n Spur Burger en dit is lekker koel in die skaduwee onder die bome. Die afdraand na Bonniedale is egter baie rof en die ouens wat daar afry is defenitief in die minderheid. Ek het wel een of twee gesien wat dit maak, maar die meeste van ons loop maar. Daar was twee jaar gelde self 'n foto van Kevin Evans wat sy fiets daar afgestoot het! Op hierdie stadium het my gemiddelde spoed geval na 14.5 k.p.u. Na Bonniedale verander die roete van "jeep tracks" na grondpad. Ongelukkig is dit nog altyd "op en af". Daar is veral een bult net voor die laaste waterpunt wat teen 'n helling van 21% styg! Na die waterpunt is daar 10 km oor met 'n finale klim wat op 42 meter begin en op 188 meter eindig oor 3 km. Die laaste twee kilometer is gelukkig afdraand en dit is 'n groot verligting om by die einde aan te kom. 'n Paar vergelykings tussen vanjaar en verlede jaar: Afstand 12 km korter (volgens my meter); tyd 37 minute korter; gemiddeld spoed is af van 15.4 na 15.2 maar meters geklim per 1 kilometer is op vanaf 21.92 verlede jaar na 22.41 vanjaar. Finale uitslag 205de uit 815 inskrywings waarvan 644 begin het en 563 klaar gemaak het. 4de in ouderdoms groep. Die wenner se tyd was 42 minute vinniger as verlede jaar! Gemeet aan hulle tyd van 5:01:50, sou my soort gelykke tyd ongeveer 60 minute vinniger gewees het. Ek kon dus beter gedoen het. Kliek op die aangehegde GarminConnect link vir my detail van die Attakwas. Die Attakwas bly 'n baie aangename en moeilike uitdaging en ek sien uit daarna om dit weer in 2012 aan te pak. Attakwas by philipler at Garmin Connect - Details

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking