Hennie
de Clercq, Hoffie Conradie en ek het weer vir vanjaar se Trans Baviaans,
“Repeat, ingeskryf. Die relings was dat ons weer by Lucia op Willowmore bly en
na die tyd so ‘n paar dae saam met Hennie-hulle op Natures Valley deurbring.
Danie Kotze willig weer in om die bestuurder van ons ondersteuningsvoertuig te
wees.
Donderdagaand
skakel Hoffie om te laat weet dat hy griep onder lede het en dus moet onttrek!
Ons vertrek Vrydagoggend 09:10 uit die Kaap en ontmoet vir Hennie en Helena by
Terdici Deli, op Swellendam net na 12:00. Na ‘n ligte middagete vertrek die vrouens
Natures Valley toe en ons vat die pad Willowmore toe. Ons kom net na 17:00 in
Willowmore aan, registreer, gee houer vir Bergplaas in en ry na Lucia-hulle
toe. Die vorige naweek was daar 47 mense wat oorgebly het. Hierdie naweek was
daar net 21 en die mense in Sandkraal het vir hulle self kos gemaak.
Na
‘n goeie ontbyt ry ins Willowmore toe en kom so ongeveer 08:30 daar aan. Pak
fietse af, sit ligte op en beweeg 09:00 na die wegspring area. Weer is heerlik
met ‘n temperatuur van 7.5 grade Celsius.
Ons begin 10:00 en vir die eerste die
eerste 7 kilometer is dit ‘n geval van saam met die stroom ry tot by die R332.
Vandaar sorter die groepe uit en ryers van soortgelyke sterkte vorm bondels.
Daar is ‘n ligte windjie uit die NO, maar dit pla nie eintlik nie. Die manne
wat die vorige naweek gery het, het baie gekla oor die sinkplaat, maar dit voel
vir my nie erger as vorige jare nie. Die kloof is droog en daar is geen water
waar ons oor die eerste paar laagwater bruggies ry nie. Ons handhaaf ‘n goeie
pas en bereik waterpunt 1 by Vero’s Restourant na 2:35. Na 10 minute vat ons
weer die pad.
Van
waterpunt 2 tot 3 is meesal afdraand en ons gemiddelde spoed van 21.9 k.p.u.vir
die 52.21 kilometer is ‘n aanduiding daarvan. Die natuurskoon is baie mooi en
dit is ‘n groot voorreg om deur die Baviaanskloof te kan ry. Die kloof is baie
droog. Hier en daar is daar ‘n poeletjie, maar dit is maklik om die modder te
vermy. So halfpad na waterpunt 3 lig Hennie my in dat hy nie gaan klaar maak
nie. Hy moet net besluit of hy tot by punt 3 of eder punt 4 gaan ry. Ten spyte
daarvan handhaaf ons ‘n redelike goeie pas oor die Grasnek pas.
By die
waterpunt aangekom, parker ek my fiets en gryp ‘n sosatie. Ek sien Hennie
gesels met die beamptes en neem aan dit is oor sy onttrekking. Ek stap nader om
te verneem wat die prossedure nou is. Hennie bevestig dat hy hier ophou en die
beampte lig my in dat ek nie op my eie kan aangaan nie, maar by ‘n ander span
moet aansluit. Daar is twee ouens wat reg maak om weer te begin en ek vra of by
hulle kan aansluit. Hulle stem in, ek gryp my fiets, groet vir Hennie en is
binne 4 minute weer aan die gang! My nuwe spanmaats is Lukas en Bernard.
Die
volgende skof begin met ‘n klim van so 55 meter en ek gee die pas aan, maar die
twee manne is op my hakke. Ons handhaaf ‘n goeie pas en dit lyk of Lukas die
sterkste van die twee is aangesien hy elke keer voor Bernard is wanneer ons oor
die twee “fangs” ry. Die volgende klim is die Holgat Pas. Ook bekend as Mother
of all climbs (MAC). Ek voel goed en vat voor!. Ek gaan heelwat ryers oppad
boontoe verby. Die son is besig om onder te gaan en ek bereik die parker terrain
aan die bopunt van die pas, net voor die son ondergaan. ‘n Klim van 360 meters
oor ‘n afstand van 7 km wat my 40 minute neem. Daar wag ek ‘n rukkie vir my
nuwe spanmaats en is redelik verbaas toe Bernard ‘n paar minute voor Lukas daar
aan kom. Laasgenoemde kla dat sy bene kaput is.
Ons pak die laaste 4 kilometer
na Bergplaaas aan en kom na 8:25 en na 142 km daar aan. Ons gemiddelde spoed
tussen waterpunt 3 en 4 is 9.9 k.p.u.! Ek kry my houer en trek my “leg warmers”,
n warm top en my Seals Skins beanie aan. Daar is ook lekker sop en ons hoor die
laaste stukkie kommentaar oor die Springbokke se wedstryd teen Argentinië in
die agtergrond. Lukas en Bernard neem heelwat langer as ek om al hulle dinge
gedoen te kry en ons val na 36 minute weer in die pad.
Die
Combrinck Pas af in die donker is altyd ‘n uitdaging, maar ons bly by mekaar en
is gou op die goeie pad wat ons Hadley toe neem. Die toestand van die pad hier
is beslis beter as aan die begin van die kloof en ons ry teen ‘n lekker pas.
Hierdie is my gunsteling deel van die Trans Baviaans. Die pad oppervlakte is
goed en die bulte en afdreandes, wat nie te lank is nie en wissel mekaar goed
af. Daar is ook heelwat gelyk gedeeltes waar ons ‘n goeie pas kan handhaaf. Dit
neem ons 1:32 om die 33.3 km af te lê wat ons ‘n gemiddelde spoed van 21.7
k.p.u. gee. Ons arriveer 20:30 in Hadley. Ek kry my “power banks” by Danie
sodat ek my Garmin en selfoon kan laai om seker te maak die batterye hou tot by
die einde. Ete bestaan uit ‘n “tjip rol” en gegeurde melk, waarvan ek ‘n hele
paar drink. Lukas se lig het die gees gegee en hy moes die laaste gedeelte in die
donker ry. Hulle ondersteuningsvoertuig het gelukkig ‘n spaar lig vir hom en ek
help hulle om die op die fiets gemonteer te kry. Ons val na 26 minute weer in
die pad.
Die
volgende skof bestaan hoofsaaklik uit die “never ender”, ‘n bult van 7
kilometer met ‘n 200 meter klim. Die klim is nie so erg nie, maar die bult hou
net nie op nie. Dit neem ons 30 minute om tot bo te kom. Dit word gevolg deur ‘n
paar “undulations “ oor die volgende 7 kilometer wat ons ‘n verdere 25 minute
neem. Dit sluit ook die “onbemande” punt in. Dit is ‘n kontrolepunt waar ons
moet stilhou en ‘n plakkertjie moet kry om te bewys ons was daar. Uit die aard
van die saak is daar niemand nie, net ‘n lig en ‘n tafel met die plakkers. Ons
bereik die laaste waterpunt teen 22:30 na 12:30 in die saal. Ons vertoef 7
minute en pak die laaste skof aan.
Daar
is nog 28 kilometer oor en die aard van die laaste gedeelte is so danig dat ons
nie in onder 14 uur sal kan klaar maak nie. Die roete volg nou ook ‘n “jeep
track” wat redelik tegnies is en ‘n lekker klim insluit. Van 214 to 220
kilometer is ‘n baie goeie distriks pad en ons handhaaf ‘n pas van tussen 30 en
40 k.p.u. Ek ry meesal voor aangesien dit my 5de Trans Baviaans is en ek die pad
beter ken as my spanmaats. My geheue laat my ‘n klein bietjie in die steek en ons
kom onverwags by ‘n T-aansluiting aan! Gelukkig is dit ‘n skuins aansluiting en
ek kry dit reg om te stop net waar die pad eindig. Niks ernstig nie en ons is
gou weer aan die gang. Vanaf 220 kilometer volg ons ‘n “single track” langs die
treinspoor wat ook ‘n redelike helling het. Dit is nou 23:48 en daar is geen
manier waarop ons hierdie laaste 6 kilometer in 12 minute gery gaan kry nie!
Gelukkig is daar nie veel ander ryers voor ons nie en ons pak die laaste
gedeelte met hernude ywer om te sien hoe na aan 14 uur ons kan klaar maak. Ons
gemiddelde spoed val na 14-16 k.p.u. as gevolg van die helling. Ongelukkig kom
ons op ‘n paar stadiger manne af net voor die einde en moet toe maar agter
hulle sit aangesien dit bykans onmoontlik is om hier by iemand verby te kom. Ek
kry dit reg om net voor die einde verby te kom maar my spanmaats sit agter die ouens
vas. Ek wag net voor die einde so 2 minute vir hulle en ons ry na 14:12:27 oor
die eindstreep.
So
eindig my 5 de Trans Baviaans. Ek het regtig baie lekker gery en die wedren
geniet. Die stuk tussen waterpunt 4 en 5 en die laaste 12 kilometer was vir my
die hoogte punte van die wedren.
Sondagoggend 10:00 is ek terug in Jeffreysbaai om my skild vir die voltooiing van 5 Trans Baviaans wedrenne te ontvang.