FC2026 Dag 12 Brosterlea na Romansfontein
John en Gill Graaf het gisteraand so 'n paar minute na ons op Brosterlea aangekom. Ons het tydens aandete oor een gekom om so 05:30 te begin sodat ons teen sonsopkoms by die Emdale afdraai kom en dit in daglig aandurf.
Die wiele begin 05:40 rol. Ek en Tilla begin op ons eie aangesien die ander twee nog nie reg was nie. Die navigasie was goed en die son maak sy verskynning net nadat ons by Emdale in gedraai het. Ons word getrakteer met 'n asemrowende sonsopkoms. By die eerste hek sluit die Graafs by ons aan en ons ry "sporadies" saam. Die roete om die koppie agter Emdale is heel interessant en lekker om te ry. Ons moet weer deur 'n spruit maar die het min water. 'n Entjie verder moet ons egter deur 'n dam wat ons skoene behoorlik nat laat word!
Na die omsirkeling van die berg sluit ons vir 'n kort entjie op 'n distrikspad en dan links op 'n rowwe "jeep track" wat ons na die Stormberg neem. Ons stoot groot gedeeltes maar kan darem ry wanneer ons die plato bereik. Dit neem ons tot bo op Stormberg. Anderkant is die weer 'n groot "gescramble" die berg af tot by 'n ou "blokhuis" langs 'n treinspoor. Van hier ry ons met plaas paadjies tot by Vegkoppies waar Hannes en Marie ons verwelkom. Die Graafs kom so 'n paar minute na ons daar aan. Ons word getrakteer met roer eiers en wors vir middagete. Ons vertoef 56 minute en kom net na 12:00 weer aan die gang.
Ek en Tilla is weer op ons eie en ry lekker saam. Eers 'n stuk plaaspad, dan 'n stukkie op 'n teerpad gevolg deur grond. Die grondpad is goed en die wind is gunstig. Verder die pad af moet ons weer deur 'n plaas en die navigasie mooi dop hou. Ons kry dit goed reg en net voordat ons die distrikspad na Romansfontein kry, hoor ons 'n homeltuig bo ons. 'n Rukkie verder sien ons vir Chris Fisher wat die homeltuig beheer en ons afneem. Ons stop en gesles 'n stukkie en dan is dit links op die distrikspad Romansfontein toe.
Dit is 'n goeie pad maar daar is 'n paar "knoppies" wat ons moet trotseer. Die laaste 3 km Romansfontein toe is afdraend en ons arriveer 16:00 daar.
Data vir die dag: tyd 10:10:23; afstand 86.41 km; klim 924 meters.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking