Sondag 24 Mei 2026

FC Oefening in plek van 360NE


Ek sou op 22 Mei my 13de 360NE gery het, maar dit is gekanselleer as gevolg van die onlangse oorstromings in die Oudtshoorn omgewing. Ek beplan toe maar 'n oefen rit vanaf Blouberg oor Bridgetown, Piketberg en Moorreesburg. Ek nooi vir Mike Smit saam en ons vertrek Vrydagoggend 09:00 vanaf Bloubergstrand.


Dag 1 het heel goed verloop met so 'n ligte reëntjie verby Philadelphia. Dit klaar gelukkig gou op en ons stop in Malmesbury vir 'n Steer burger vir middagete. Die weer is eintlik perfek vir fietsry en ons trek net na 16:00 in by Bridgetown waar ons hartlik ontvang word deur Anso Lotter. Ons gaan kyk na die "verwoesting" wat die onlangse vloed by Bridgetown aan gerig het. Op die hoogte van die vloed het die water toe by Bridgetown se grasperk opgestoot. Dit is omtrent 3 meter hoër as normaal! Sy voorsien 'n lekker pasta gereg vir aandete en ons kom vroeg in die bed. Dag se afstand was 110 km en dit het on 7:21 geneem met 1,168 meter se klim.


Dag 2

Na 'n goeie nagrus en lekker ontbyt, val ons 08:12 in die pad. Die mis lê dik, maar die weer is weereens perfek vir fietsry. Ons stop by Misverstanddam om te kyk hoe die water oor die wal stort. Daarna ry by Die Brug oor die Bergrivier. Oppad Piketberg toe kom ons die deelnemers aan 'n "Gravel" fiets wedren, tee. 


Ons stop 11:11 in Piketberg by die "Crasy Cat" vir middagete. Na lekker koffie en French toast, val ons 11:50 weer in die pad. Nou lê Versfeldpas en 'n rowwe pad af na Goedverwacht voor. Dit neem ons ongeveer 1 uur om die pas uit te klim tot by die afdraai na Goedverwacht. Die eerste paar kilometer is 'n pad na 'n toring op die einde van die berg en die is in 'n goeie toestand. Groot gedeeltes is sement. Ons sukkel 'n bietjie om die afdraai Goedverwacht toe te kry want die paadjie het in onbruik verval en is redelik toe gegroei. Ons kan darem die eerste paar kilometer ry maar later raak dit te styl en rof en ons is verplig om te stoot. Ons "verloor" gereeld die pad maar my Garmin wys hom darem en dan tel ek hom weer op. Dit neem ons ongeveer 2 uur om 8 km af te lê! Ons bereik Goedverwacht teen 16:00. Met nog 40 km Moorreesburg toe, gaan ons nie voor 19:00 daar aankom nie!


In Moravia wys die padwyser links na Koringberg. Ek onthou dat ek laas regs gegaan het, maar my selfoon se battery is pap so ek volg maar vir Garmin wat ook links wys! Nadat ons te ver is kom ek tot die gevolgtrekking dat ons eintlik verkeerd is. Sal nou maar van Niewedrift af met die N7 Moorreesburg toe moet ry. Gelukkig is die "ou pad" vir groot gedeeltes nog rybaar, dus hoef ons vir die gedeeltes nie op die N7 te ry nie. Teen 18:20 is daar nog 15 km oor en moet ons ligte aan skakel. Ons haal die kruin van die laaste bult voor Moorreesburg en draai op 19:00 af dorp toe. Ons blyplek is reg op die einde van die dorp aan die Suid Oostelike kant en dit neem ons nog 'n verdere 15 minute om daar te kom. Na 11:01 en 106 km met 2,005 meter se klim, bereik ons ons blyplek. Dit was 'n lang dag en beslis goeie "FC" oefening! 


Dag 3. Ons kom 08:12 weg. Oor die N7 en sommer gou bult op. Gelukkig 'n redelike gradiënt. Dit is weer mistig en baie aangename fietsry weer. Ons handhaaf 'n goeie pas en gaan na 22 km by die plek verby waar ons Vrydag afgedraai het Bridgetown toe. Nou is op dieselfde pad as Vrydag, net in die teenoorgestelde rigting. Die pad is baie stil. Na 44 km is ons in Malmesbury en stop by Seattle vir koffie en iets om te eet en kom na 23 minute weer aan die gang. Nou is dit meesal teerpad tot by die huis. Net voor Philadelphia steek die son vir die eerste keer sy kop uit. Na 107 km en 7:03 kom ons in Bloubergstrand aan.


Dit was nou 'n goeie naweek se FC oefening. Dinsdag oor twee weke begin ek.