Saterdag aand het ons eers lekker rugby gekyk by ons blyplek en toe by Harries gaan eet. Ons reël vir ontbyt by Housemartin maar dit word op naweke eers vanaf 08:00 bedien. Na 'n lekker ontbyt val ons 08:45 in die pad.
Ons ry eers so 'n stukkie op die Willowmore pad en draai net oor die rivier regs om suid-oos agter om De Rust te ry. Die paaie is in 'n baie goeie toestand en wanneer ons wes draai blaas daar 'n lekker windjie van agter. Ons moet oor 'n paar laagwater bruggies, maar by almal is die water onder die pad oppervlakte. Met die wind van agter handhaaf ons 'n goeie pas. Daar is ook nie enige ernstige bulte nie. Ride with GPS laat ons 'n paar draaie ry net na Dyseldorp. Bo op die bult net voor die Kamanassiedam wil hy ons weer deur die "veld" neem en ek besluit om by die groot pad te hou.
Dit bring ons by die teerpad na Karoo Lusern Slaghuis uit. Die is ongelukkig toe, anders het ons vir biltong en droeëwors gestop. Die ander voordeel is dat ons nou in Oudtshoorn 'n draai kan maak vir lekker koffie! Daar is toevallig 'n fiets wedren by die Emporium met die gevolg dat daar kos stalletjies is en my vriend Johan Breunissen het ook 'n Beans About Coffee stalletjie om vir die lekker koffie te sorg. Ons loop ook vir Fred van Zyl en sy vrou daar raak! Die 53 km van De Rust tot by Oudtshoorn het ons 2:49 geneem en ons stop hier duur 38 minute.
Ons val weer in die pad en net oor die Olifantsrivier draai ons regs op die Bakenskraalpad. Al langs die rivier af tot by die R328. Dan regs vir so 1 km en dan weer links op 'n grondpad wat weereens in 'n baie goeie toestand is. Net voor De Hoop sluit ons by die ou R62 aan. Dit was oorspronklik 'n semenrpad, maar nou is dit teer. Met die wind van agter handhaaf ons 'n spoed van so om en by 30 kpu.
Na 10 kilometer draai ons links op 'n grondpad wat ons nader aan die Gamkaberg neem. Al teen die kant van die tot by die Hoogkraalpad, waar ons weer regs gaan. Na so 1 km kom ons by die Olifantsrivier wat hier die pad vol lê. Ons probeer deur ry maar toe die water my bobene bereik besef ek dat daar geen manier is waarop die e-fietse hier gaan deur kom nie. Ons is verplig om Calitsdorp Spa om te ry. By die Spa sien ons die waterskade. Die opdrifsels lê op die eerste verdieping van die gebou by die ingang!
Ons ry oor die laagwaterbrug na die Spa en Hasie en Johan ry vooruit en mis die Vanwyksdorp afdraai waar langs ek Calitsdorp toe wou ry. Teen die tyd wat ons hulle aandag kry, besluit ek dat ons maar met die pad moet aanhou tot by die R62 en dan daar langs Calitsdorp toe. Na 'n laaste klim is dit gelyk pad tot in die dorp met 'n laaste kort klim en dan langs Boplaas verby tot by Gasteria Grange waar ons oorbly.
Die pad was toe 'n bietjie langer as beplan, maar die wind van agter het gehelp om die kilos vinnig te laat verby gaan. 130 km en die vandag net 7:23 geneem.
So eindig nog 'n baie aangename Klein Karoo Toer!
Totale afstand 300.69 km; 24:32:32 totale ry tyd; 4,895 meter geklim.