Saterdag 05 September 2026

KKT Sep 2026 Aanloop en dag 1


Ek en Mike Smit het besluit op 'n Klein Karoo Toer van 3-7 September. Danie en Johan Schoeman sê toe hulle is ook in. Mike tel heup probleme op en Hasie Lourens neem sy plek. Ons ry Donderdag 3 Sep Calitsdorp toe. Johan bederf ons net lekker steak en ons is almal teen 22:00 in droomland!


Daar is ooreengekom dat ons 08:00 sal begin. Ons gasheer is ook 'n fietsryer en hy ry die eerste 14 km saam met ons. Dit blyk ook dat hy 'n plaaslike toergids is en hy vertel ons baie, besonder interessante feite onderwyl ons so deur Groenvallei ry. Ons moet ook 'n paar stoompies, wat lekker sterk loop, oor steek.


By Kruisrivier draai ons links. Terwyl ek so in die pad af ry, sien ek 'n takkie so dik soos my pinkie van 'n bos wat oor die pad hang. Niks ernstig nie en ek ry oor hom. Die volgende oomblik vlieg ek vooroor en tref die pad met my gesig. Die takkie het afgebreek, tussen my speke ingekom en my voorwiel "gelock" wat tot gevolg gehad het dat ek toe vlieg. Gelukkig niks meer as 'n bloedneus, skrape op my gesig en 'n paar "chips" in my voortande, nie. Dit kon baie erger gewees het want dit het so vinnig gebeur ek het nie eers tyd gehad op my hande uit te steek nie! Klim weer op en ry aan! 


Na net neer as 5 uur kom ons by Kobus se Gat aan die voet van Swartbergpas. Hier is gelukkig 'n toergroep en hulle "noodhulp" man ontsmet al my "wonde" en plak pleisters op. Na 'n koppie koffie is ek en Hasie oppad. Danie, wat vandag met sy "e-bike" ry moet sy battery laai, so hy en Johan bly agter.


Die klim van Kobus se Gat tot bo is 12 km en ek skat dit sal ons so 2 uur neem. Daar is baie verkeer want Meiringspoort is nog gesluit. Die eerste 10 km se gradiënt wissel so tussen 4-12% en ons handhaaf 'n goeie pas. Die wind is ook nou van agter. Halfpad stop ek om 'n warmtop en handskoene aan te trek. Die temperatuur staan op 8.5 grade Celsius! Dit laaste kilometer raak net te styl en ek stoot. Na 1:52 is ek bo! Nou is dit 'n stukkie afdraend, 'n klein klim en dan afdraend tot by Yellow House in Prins Albert waar ons bly. Daar is 'n paar rowwe stukke maar oor die algemeen is die pad goed. Hasie sê hy ry stadig afdreandes en ek gaan vooruit. 


Van die laaste klim tot by Yellow House hoef ek nie te trap nie, behalwe vir die twee stroompies waar ek moet deur. 


Na 8:13 en 87 km trek ek by Yellow House in. Hasie kom so 15 minute later daar aan en die twee "e-bikes" so 'n halfuur later. Die dag word afgesluit net kekker "lamb shanks" en ons is 21:00 in die bed!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking