FC2026 Dag 20 Willowmore na Prins Albert
Die weervoorspelling wys ligte wind in die oggend, sterk oor die middag en lig laat middag. Ons besluit dus om 04:30 in die pad te val.
Ons kom 04:33 weg. Die eerste 17 km uit Willowmore is reguit wes met 'n aanvanklike klim en 'n paar lekker afdraendes daarna. Dan draai ons regs deur Leeukloof gevolg deur 'n 20 km stuk oppad na Strydomsvlei. Hierdie deel is van die lekkerste op die hele FC roete. Redelik gelyk met 'n paar klein ops en afs en 'n pad oppervlakte wat vir min teerpaaie terug sal staan! Daar is ook geen wind nie. Dan links af Vondeling se rigting en na 7 km weer regs. Hier begin die wind liggies stoot maar nie te erg nie. Tilla kry 'n papwiel en "bom" hom toe die pomp nie die ding wil doen nie. Nog so 'n paar links en regs draaie en dan is ons op die Minnieskraal pad. Intussen raak die wind al sterker.
Ons trek na 7:57 en 97.42 km by Rondavel in. Middag ete neem ons 27 minute en dan is ons weer oppad.
Die wind "pomp" nou lekker en die 66 km Ptins Albert toe gaan nie maklik wees nie. Eers 4 km tot by die Visgat hek en dan 9 km tot by die kruising van die N12. Oppad moet ons 'n hele paar "moeilike" modder poele trotseer. Net nadat ons deur die hek oorkant die N12 is, merk ek op dat daar heelwat speling in my "bottom bracket" (BB) is. Dit voorspel niks goeds nie. Op die stadium is daar nie enige probleem nie en ek probeer daarvan "vergeet". So 'n ent verder merk Tilla op dat my ketting olie moet want dit klink "rof". Ongelukkig is dit nie die ketting nie maar die BB. Als werk nog goed, maar dit klink so 'n bietjie na 'n "maalmasjien". Ek gooi ketting olie op en hoop vir die beste. Behalwe vir die "klank" wat van die BB af kom, werk alles nog goed. Ek sal egter daarna moet laat kyk. Daar is 'n fiets "mechanic" op Prins Albert en ek sal hom moet kry om daarna te kyk. Ek kry hom in die hande en hy sê hy sal my fiets 08:00 môre oggend kom optel.
Intussen "beur" ons voort teen 'n weste wind wat nie wil bedaar nie. Ek ry voor en Tilla sit in my "slipstream". Na wat soos 'n ewigheid voel, kom ons by die hek wat ons na die Prins Albert pad neem, aan. Nou is daar nog 25 km oor en ek onthou van my April "recci" dat dit nie 'n maklike 25 km is nie! Aanvanklik is die sinkplaat baie sleg, maar al gaande verbeter die pad. Hierdie stuk voel ook asof dit nie 'n einde het nie. Ons moet ook 'n paar sterk vloeiende strome oorsteek. Ons kry dit darem reg om deur almal te ry. Na wat weer soos 'n ewigheid voel, bestyg ons die laaste bult en 2 km verder is ons op Prins Albert se teer strate. Nou nog 3 km na Yellow House wat aan die suide kant van die dorp lê. Ons word by die ingang deur Joubert Lots ingewag en Petro kom groet ook. Nou gou stort, lekker eet en dan in die bed!
Data vir die dag: tyd 14:42; afstand 164.8 km; klim 1,106 meters
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking