Dinsdag 16 Junie 2026

FC 2026 Dag 7 Vivu na Rhodes

 FC 2026 Dag 7


Daar is twee opsies tussen Vuvu en Rhodes. Lehana's of Macaballa. Lehana's verg ernstige berg klim met 'n fiets terwyl Macaballa geen berg klim verg nie maar ook 'n redelike rowwe seksie waar fietse gestoot moet word en dit is 20 km langer. Ek het albei al gedoen en verkies Macaballa. In 2019 het dit vir ny en Johan Ratcliff 'n uur minder geneem om die lang roete te doen. 


Ons kom 05:35 aan die gang. Ek was nie seker watter opsie ek vanjaar moes volg nie en voer die debat in my kop oppad na waar ons weg draai Lenaha's toe. Die wind waai en dit kan 'n ekstra probleem op Lenana's wees, dus besluit ek op Macaballa. Tilla besluit om saam met my te kom. Nog 'n verdere 8 km met die pad aan en dan draai ons regs. Die eerste 7 km verg weer die stoot van die fiets maar die helling is nie te kwaai nie. Die "pad" was jare gelede rybaar, maar die enigste "ry ding" wat nou daar kan op is 'n motorfiets, 'n fiets, 'n perd en 'n donkie! So half pad op kom ons af op 'n bakkie wat die pad aangedurf het en toe op sy kap in 'n donga beland het. 


Dit neem ons ongeveer 2 uur om die 7 km af te lê. Wanneer ons uit eindelik bo kom moet ons eers deur graslande ry voordat ons die "spoor" optel. Ons ry eers wes en dan moet ons op 'n punt suid draai om weer 'n spoor na die ou Phlisrust buite pos op te tel. Die spoor is goed en ons het nou 'n wind van agter. Verby die geboue en af na 'n plaas. Dele van die pad is rof en daar is so 'n paar ernstige  bult, gelukkig nie te lank nie.


Dan sluit ons aan by die Mt Flecher/Rhodes pad met 'n teken wat sê 37 km Rhodes toe. Nou het ons 'n 12 km klim met 600 meter se klim en 'n wind wat van voor "pomp"! Ons bene is redelik "pap" so dit gaan maar stadig! Dit neem my 3:06 om die 12 km af te lê! Net voor ons bo is sê ek vir Tilla om nie vir my te wag nie. Ek bestyg die kruin op my eie en die wind "loei"! 


Nadat mens oor die kruin is ry jy so 'n paar km bult af en dan kom daar 'n 3 km "killer" bult, veral op die tydstip van die dag! Teen die bopunt sien ek vir Tilla so 10 minute voor my. Sy is duidelik ook poot uit. Toe ek eindelik bo kom is sy weg! Die aftog raak 'n geval van oorlewing. Ek stop eers om weer 'n warm baadjie aan te trek, dan warmer handskoene en dan nog 'n baadjie. Dit alles werk net "gedeeltelik" en my hande raak so dood dat ek amper nie meer kan rem nie en ek is op 'n ernstige bult af! Ek hou 'n paar keer stil net om lewe in my hande te kry. Die laaste stukkie Rhodes toe is ook redelik op en af en dit neem my langer as waarvoor ek gehoop het. 


Na 11:34 en 78 km met 2,157 se klim kom ek 30 minute na Tilla in Rhodes san. Dit het vir my en Johan Ratcliff in 2019 nege uur geneem. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking