Donderdag 11 Junie 2026

FC 2026 Dag 2

 FC 2026 Dag 2


Ons beplan om 04:00 te begin. Gill en John Graaf ken die roete uit Allendale  en hulle sal ons help om sonder probleme die pad te vind. John het gisteraand genoem dat ons seker eers 04:30 sal weg kom. Ons kom eers 04:48 weg!! 


Die navigasie span kwyt hulle goed van hulle taak en kry ons deur die eerste paar "moeilike" kilometers. Daarna is ons op ons eie aangesien die Graafs baie stadig is. Matilda Uys sluit by my en Sara-Jane aan. Ek en Sara is die "stil tipe" maar Matilda is op die andercent van die "spektrum"! Daar word in die eerste uur meer gepraat as wat ek en Sara gister gepraat het! 


Sara ken die roete baie goed en is ons hoof "navigator". Sy kwyt haarself uitstekend met die taak en ons het die hele dag nêrens verkeerd gery nie. 


Na die aanvanklike rit uit Allendale kruis ons 'n groot pad en dan is dit deur plantasies tot in Donnybrook. Vandaar is dit weer deur 'n klomp plantasies tot ny Centacow, waar ons middag ete kry. Dit neem ons 4:55 om die 46 km af te lê, wat aantoon dat daar heelwat klimme was. Behalwe vir die eerste 6 km kon ons alles ry. Ete neem ons 33 minute. 


Nou lê die groot klimme vir die dag voor. Twee massiewe klimme in die volgende 48 km. Die pad uit Centacow is ook nie maklik nie. Dit is op en af met 'n gradiënt van tussen 12 en 15%. Die klimme is nie lank nie maar veel eisend! Na 6 km draai ons links vir die eerste groot klim. Dit is 4 km lank en groot gedeeltes is net te styl om te ry. Dit ons meer as 'n uur om tot by die water skeiding te kom. Die pad is goed dus is ry of stoot maklik. Anderkant af is lekker vinnig en ons gou weer in 'n bewoonde gebied. Soos gewoonlik is die pad nie gelyk nie!


Ons sluit by 'n groot pad aan en na 4 km draai ons links op 'n bees/voet paadjie af rivier toe. Die is ongeveer 50 meter breed en so kuit hoogte diep. Maklik om deur te stap. Daarna ry ons deur 'n bloekom plantasie tot op die volgende water skeiding. Hierdie klim is baie geleidelik en ons kan alles ry. Dan is dit weer anderkant tot by 'n distriks pad waar ons regs draai. 


Na 5.7 km draai ons links vir die volgende groot klim. Die aanvanklike klim is 2.7 km maar dit is 'n voetpad wat in onbruik verval het met die gevolg dat dit baie rof is. Dit neem 'n uur om die 2.7 km af te lê. Op daardie punt sluit 'n goeie pad aan en kan ons weer ry, behalwe vir die laaste 200 meters wat net te styl is! 


Nadat ons eindelik die bopunt bereik volg ons die kontoer vir die volgende kilometer of so. Dan draai ons af op 'n rowwe paadjie deur 'n wattle plantasie tot by die Ntsikeni Natuur Reservaat. 


Nou nog net 6.2 km oor, maar weereens is daar 'n angel in die "stert". Al hoewel ons die eerste gedeelte kan ry, begin die pad geleidelik klim. Weereens aanvanklik rybaar maar dan raak dit al styller oppad na 'n nek wat weer stoot tot gevolg het. Na die nek volg ons die kontoer lyn en kan na 'n ruk Ntsikeni Lodge se ligte sien. 


Na 13:08 en 96 km met 2,537 meter se klim kom ons by Ntsikeni aan. Alhoewel vandag 'n bietjie korter as gister was met 'n soortgelyke klim syfer, was vandag baie meer veeleisend omdat ons so baie moes stoot. Ek skat ons het tussen 5 en 6 ure fiets gestoot!


My plan was om, soos in die verlede, Masakala toe te ry, maar groepsdruk veroorsaak dat ons môre net tot by Two Springs gaan ry. Dit sal 'n bietjie her beplanning vir die res van na Rhodes tot gevolg hé. Ons gaan moontlik maar hiu by ou skedule en dus een dag langer neem.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking