Vrydag 12 Junie 2026

FC 2026 Dag 4

 FC 2026 Dag 4


Die kos by Two Springs was uit die boonste rakke. Middag ete was die lekkerste sop met groente en vleis. Aandete was lasagne en 'n macaroni gereg. Almal was voor 20:00 in die bed!


Ons kom ooreen om 06:00 te begin. By die hek uit, 'n paar km die pad af en dan 10 km regs voor ons links draai, alles op grondpaaie. Ek trap 'n lang bult uit en voel heel goed. Remme werk ook mooi. Ons kruis ook die Kwazulu-Natal/Oos Kaap grens. Na 'n paar km draai ons regs en durf die volgende bult aan. Bo konsolideer ons, neem 'n paar fotos en ry oor die volgende nek, wat natuurlik ook 'n klim insluit. Alles darem rybaar. 


Anderkant af sing die wiele weer vir 'n paar km voor ons links draai op 'n voetpaadjie wat ons na 'n wattle bos neem. Die roete "zik-zak" deur die bos tot by 'n rivier waar ons droogvoet op klippe kan oorsteek. Nou is daar weer 'n lang "hike-a-bike" stuk op na 'n distrikspad. Intussen het die wind op gekom! Bo op die volgende bult is dit weer links en so 'n paar km die pad af neem ons 'n toelaatbare kort pad ba nog 'n "lone tree" wat ons op die rug van die plato hou. Dit neem ons deur na 'n vallei waar "hike-a-bike" weer die voorland is. Ons vorder maar stadig want ons is moeg en ons neig meesal "op" en dit op bees paadjies wat nie eintlik rybaar is nie. Die neem ons ongeveer 2 uur om die 7 km af te lĂȘ. Onder in die vallei is die wind stil, maar bonin die oopte "pomp" hy!


Bo sluit ons by 'n distrikspad aan wat, met 'n paar afdraaie, ons na Masakala sal neem, eers weer 'n kort paadjie bult af op 'n plaaslike voetpad wat so ongeveer 2 km uitsluit. Alhoewel hierdie 'n distrikspad is, is die oppervlak besonder rof. Self die plaaslike motors ry stadig, want alles skud. Ons gaan oor 'n vloedplein, waar 'n brug wat voorheen weg gespoel het, intussen reggemaak is. Dan anderkant die heuwel uit en bo regs. Masakala Guest House is 3 km die pad af.


Dag se data: 8:21:57; 69.67 km; 1,451 meters geklim

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking