FC2026 Dag 10 Slaapkrantz na Moodenaarspoort
Die roete uit Slaapkrantz is 'n "riller". Daar is stories van mense wat in die donker daar weg is en so verdwaal het dat hulle later die dag terug by die huis was!
Ons besluit dus om later te begin sodat ons die moeilike gedeelte in daglig kan aandurf. Dit was 'n baie goeie besluit en ons kry die regte roete gou. Die plaaspad gaan oor na beespaadjies en ons moet ons fietse die berg uit dra. Dit is "energie dreinerend" en die neem ons 2 uur om die eerste 2,3 km af te lê. In die eerste 6 uur lê ons 19 km af. Dit is 'n geval van berg klim met 'n fiets. Soms dra ek hom en soms stoot ek. Ander kant af kry ons 'n redelike rybare pad wat seker 22 jaar gelede die berg af ge-"bull doze" is met groot "speed bumps". Tilla geniet haar gate uit oor die hobbels. Onder moet ons deur 'n spuit, wat ek ry terwyl die ander deur loop.
Dan so 'n entjie met die pad af en links by Lauterbron op. Dit is 'n plaaspad die berg op na lande op 'n plato. Deur die lande en die volgende berg op. Dit is weer 'n geval van berg op, oor heinings en wanneer ons bo kom, moet ons weer berg af met 'n pad wat omtrent nie eers meer bestaan nie! In die proses om my en my fiets die heuwel af te kry, val hy teen 'n klip en breek 'n stukkie van my rem handvatsel af. Daar is darem nog genoeg oor om hom te gebruik. Onder kry ons 'n plaaspad wat ons verby die verwaarlose plaashuis na die grootpad neem.
Ons ry Kiliaanpas en dan deur Rossouw en draai af Moordenaarspoort toe. Dit is net 14 km van Rossouw na Moordenaarspoort, maar die eerste klompie km is alles opdraend en aan die einde van die dag is dit "siel doodend". Wanneer ek eindeloik die laaste bult oorsteek is dit omtrent heelpad af tot by Moordenaarspoort. Ek kom net voor 18:00 daar aan.
Data vir die dag: tyd 11;26:59; afstand 59 km; klim 1,537 meters
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking