FC2026 Dag 18 Bucklands na Marlu
As gevolg van die vol Grootrivier, is die roete uit Bucklands na die begin van die Perdeberg klim varander. Dié word in 'n beskrywing, wat op die yskas geplak is, verduidelik. Ons neem dus 'n foto daarvan om te sien hoe ons moet ry. Ek stap ook na die begin om seker te maak waar ons moet afdraai. Ons plan was om vroeg genoeg te begin sodat ons teen dagbreek aan die begin van die klim kan wees.
Ons kom 05:58 weg. Die "nuwe" roete is 'n goed gebruikte pad. Die instruksies is ook baie duidelik. Ons kom egter op 'n punt waar daar 'n vurk in die pad is. Ons ry so 100 meter met regter vurk en besluit dan dit is verkeerd. Daar is geen verwysing na die vurk op die instruksies nie! Die linkerbeen lyk egter na die meer gebruikte een en die instruksies sê ons die "meer gebruikte" pad volg. So 'n entjie verder ry ons verby die "plukhok", waarna in die instruksies verwys word, dus is ons reg. 'n Rukkie later kom ons by die Trentyre teken waar die roete links draai. So 'n entjie verder is ons weer op die offisiële roete.
Die pad na die Ghe-Ghe hut het 'n paar baie styl stukke en kwaai afdraends. 200 meter anderkant die hut begin die groot klim! Hierdie klim is bykans onmoontlik om vir iemand wat dit nie gedoen het nie, te beskryf. Die roete is ook 'n stap roete en is baie goed gemerk met wit bordtjies wat aan bome hang. Dele is ontsettend styl en ek dra meesal my fiets. Tilla stoot meesal want sy het nog nooit haar fiets gedra nie. 'n Rukkie later kry sy dit reg om haar fiets vir 'n ent te dra. Ons klim letter die berg uit met ons fietse! Dit neem my 2:47 om die 3.1 van die begin van die klim tot by die Bucklands heining af te lê!
Van hier kan ons weer begin ry, maar die pad is redelik rof. Dit word al gaande beter totdat ons begin daal. Die afdraend is ontsettend klipperig en moeilik om te ry. Waar die klippe kleiner is, kry ek dit reg om te ry, maar daar word nog heelwat gestoot. Tilla is glad nie "be-indruk" met dié klim en die af nie. Wanneer ons onderkant kom is daar 'n redelike stroom wat gekruis moet word en dan is dit bult op na Hadley, waar ons 12:00 arriveer. 6 uur om 24 km af te lê!
'n Lekker middagete van heerlike sop en vars gebakte brood word deur Anine voor gesit. Ons is na 33 minute weer aan die gang.
Van Hadley na Marlu is 88 km en ek skat dat ons so tussen 19:00-20:00 daar sal aankom. Ons ry 'n goeie pas en is om en by 16:30 in Steytlerville. Dan die lang klim uit die dorp gevolg deur 'n goeie pad met min helling. Daar is heelwat modder kolle wat ons moet trotseer. Net voor ons links draai na Marlu toe, is daar skielik 'n droeë spruit met klippe wat onrybaar is aan die kant van die pad waar ek ry en ek is verplig om te stop. Ek kan egter nie my regter voet los kry nie en val onsermonieël om! Geen skade nie.
Die laaste 8 km Marlu toe het 'n paar styl ops en afs, wat ons sonder enige probleme agter die rug kry. Teen 19:30 trek ons by Marlu in waar ons guldelik deur Martin en Lucia ontvang word. Wasgoed word gedoen en aandete is heerlike sop gevolg deur rys en lekker bredie. Dan bed toe. Volgende dag is rustige dag en ons kom ooreen om 08:00 te begin.
Data vir die dag; tyd 13:45; afstand 112.4 km; klim 1,864 meter
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking