FC2026 Dag 16 Pearston na Vrygebruik
Na die lang dag kom 'n korter dag soos manna uit die hemel! Die afstand is net oor die 80 km en daar is geen ernstige uitdagings nie. Die stukkie deur die Koedoeskop wild reservaat is redelik tegnies met 'n paar kwaai "jeep track" klimme, maar die res is op redelike distriks paaie sonder enige ernstige klimme. Wat ons 'n bietjie vang is die vier kruisings van die rivier deur die reservaat. In die verlede was dit maklik want almal was droog, maar met al die onlangse reën is dit vanjaar heeltemal 'n ander storie. Al vier het water wat wissel van meer as 50 meter breed en knie diepte tot ander waar ons moet af klim en fietse deur stoot.
Die kruisings het toe 'n interessante nadraai. Ek het "sealskinz" sokkies aan. Hulle hou water uit wanneer mens deur water gaan so lank die water nie oor die bopunt kom nie. Indien dit gebeur, bly die water in die sokkie. Die gevolg is dat ek hulle uittrek voor ek deur die water gaan met skoene sonder sokkies. Daarna trek ek hulle weer aan en my voete bly droog. Ek maak toe so by eerste kruising. Toe ek dit by die tweede kruising weer doen, besluit Tilla, heeltemal te reg, dat dit een te veel vir haar is en ry aan. Ek besef darem ook dat dit belaglik is en ry tussen die laaste drie met skoene sonder sokkies en trek eers weer sokkies aan na laaste kruising. DIe gevolg is dat Tilla ver voor my is. Die roete tot by Vrygebruik is redelik maklik en sy is vol vertroue dat sy dit sal kry. Ek vind my weg uit die reservaat en ry rustig tot by Vrygebruik, wat presies is waar die gemerkte afstand dit aandui. My verbasing is groot toe ek daar kom en nie vir Tilla daar vind nie! Sy is gewoonlik baie goed met afstande en waar ons moet draai, maar het die Vrygebruik afdraai gemis en tot by Waterford gery. Sy kom toe haar fout agter en draai om. Sy sien toe vir my by Vrygebruik indraai maar registreer nie mooi nie en draai te vroeg. Gelukkig kom sy haar fout gou agter en kom so 10 minute na my by Vrygebruik aan. So leer mens!
Data vir die dag: tyd 9:00:52; afstand 89.69 km; klim 1,023 meters
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking