Woensdag 17 Junie 2026

FC 2026 Rhodes na Chesney Wold

 FC 2026 Dag 8 Rhodes na Chesney Wold


Die res van die groep gaan deur druk na Slaapkranz terwyl ek besluit om net tot by Chesney Wold te gaan, dus gaan ek 'n bietjie later begin en kom gevolglik 06:45 weg. 


Die temperatuur "hover" so net bo friespunt. Gelukkig is ek lekker warm aangetrek met leg warmers, termal langbroek, fietsrybroek en ligte reënbroek oor alles. Bo het ek termal top, fietsry hemp, warm top, my warmbaadjie en reënbaadjie oor alles. Soos dit warmer word trek ek die lae een vir een uit en stoor dit in 'n plastieksak wat ek op my rugsak vasmaak. 


Die pad uit Rhodes is heel rustig met so 'n paar klimme om die bene warm te maak en dan 'n groot klim na 14 km na die Bokspruit afdraai. Van hier is dit weer "voet in die hoek" vir 'n paar kilometers van afdraend. Daarna begin die "undulations" met 'n paar lekker klimme. Ek kan sien die pad was onlangs baie modderrig na die reën maar het nou al goed uitgedroog. Na 3 km is daar 'n furk en ek neem die regter vurk wat na Elloit gaan. Na nog 14 km kom ek by 'n T-aansluiting en draai links in Elloit se rigting. Nou volg 21 km in die Sterkspruit vallei af. Die pad is goed en die natuurskoon asemrowend. Daar is ook geen ernstige bulte tot net voor die Bottelnek afdraai nie. Ek ry lekker en die weer is perfek. Later van tyd begin daar 'n ligte briesie van agter stoot. Ek stop by 'n plaas en laat my waterbottel vol maak. 


Die bult voor die Bottelnek afdraai is 'n bielie, maar darem nie te lank nie. Aanvanklik daal ek nadat ek regs gedraai het en dan begin ek geleidelik klim tot by Bottelnek se groot klim. Dit is egter niks in vergelyking met wat ons gister ervaar het nie. Wanneer ek bo kom word ek beloon met 'n lieflike uitsig oor die Chesney Wold vallei. Die pad af is redelik en my verbasing is groot toe ek by Chesney Wold in trek en SJ en Tilla se fietse daar sien. Hulle albei voel nie te lekker nie en het besluit om hier halt te roep vir die dag. Dus is "Oupa en die twee rose" weer herenig! 


Data vir die dag: 8:29:34; 68.9 km; 1,521 meter se klim

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking