Dinsdag 22 Oktober 2024

HotH toer Dag 4

 


Die plan was om 07:00 aan die gang te kom. Ons word geseën met 'n perfekte oggend. Nie 'n wolkie in die lug nie en geen teken van 'n bries nie. Die weer boorspelling het egter aangedui dat daar 'n 20-30 kpu wind van die ooste gaan waai. Dus reg van voor!


Ons kom 06:58 weg. Gedurende die eerste 15 kilometer klim ons van 110 meter na 440 meter. Daar is darem so 'n afdraend so elke hier en daar, maar meeste van die tyd klim ons. Behalwe een of twee stywe klimme, veral die laaste een, is meeste nie te erg nie. Die wêreld waardeur ons ry is weereens iets om te aanskou. Baie bees boere, maar dit is baie boomryk so min word van die beeste gesien. Bome net waar jy kyk en wanneer daar 'n opening is sien ons groen heuwels links en regs. Links eindig teen die berge, regs loop af N2 toe en van daar na die see. 


Net voor die hoogste punt van die laaste bult draai ons regs op 'n pad wat lyk na 'n "jeep track" of bosbou paadjie. 'n Entjie die pad af sien ons egter afstands merkers. Dit moes dus een of ander tyd 'n "belangrike" pad gewees het! Ons eers ry bo op die kontoer, met lieflike uitsigte en daal dan af tot waar ons by 'n goeie distriks pad aansluit. Nou nog 13 kilometer Riverdal toe. Na die aanvanklike op en af begin die pad langs die treinspoor loop, wat beteken dit is redelik gelyk. Die treinspoor, wat die hooflyn tussen Kaapstad en Port Elizabeth was, het natuurlik in totale ombruik verbal! Intussen het Hennie se agterste skokbreker opgepak, so hy ry nou op 'n "hardtail"! Na 35 kilometer en 3 uur kom ons in Riversdal aan. Ons stop by Nibbling Squirrel vir iets om te eet en te drink. 



Na 40 minute val ons weer in die pad. Die eerste 7 kilometer is op 'n ou teer pad en dan draai ons regs oor 'n grondpad wat ons oor die rante neem. Ons ry tussen koring en canola lande, wat is om ge-oes te word, deur. Dit moes 'n mooi gesig gewees het toe die canola in blom was! Ons kruis die Albertinia/Herbetsdale teerpad en dit is weer oor die rante! Die pad is goed maar die wind druk nou sterk en meesal reg van voor. Op 'n kol neem Garmin ons op 'n baie ondergeskikte pad maar na so 'n paar kilometer sluit ons aan by die pad waarmee ons Saterdagoggend begin het. Nou net 7 kilometer huis toe! Die eerste 6 is op die plato met die wind reg van voor. Ek sit my kop neer en trap so hard ek kan. Ek afdraend na ons bestemming wil net nie kom nie. Interessant hoe lank 6 kilometer kan raak wanneer die einde in sug is! Eindelik. Lekker bult af, om die draai en by ons bestemming. Hennie kla net oor die ongemak van die "hardtail" wat hy die afgelope 60 kilometer moes ontbeer!


Die dag word afgesluit met aandete saam met Kosie en Ryna. Daar word onder andere oor "diep" dinge gesels! Die kos is weer voortreflik. Ons kom eers na 22:00 daar weg. Dit is voorwaar 'n voorreg om saam met sulke mense te "kuier"!


So eindig die eerste House on the Hill toer. Dit was voorwaar 'n baie lekker ondervinding en dk gaan dit weer doen.


Statistiek vir die dag: 89.79 km; 7:31:10; meters geklim 1,311.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking