Maandag 21 Oktober 2024

HotH toer Dag 3



Ons albei het gisteraand vir die "Lamb shank" vir aandete geval. Uitstekende waarde! Ons het ook "breakfast packs" gekry en be-oog om 06:00 in die pad te val. Ek "draai" 'n bietjie en ons kom eers 06:12 aan die gang. 


Die 4 kilometer na die grootpad is 'n redelike klim, maar die gradiënt wissel meesal so tussen 3 en 4% met een of twee bultjies wat ny 8% gaan daar. Gelukkig net kortetjies. 1 kilometer pad af draai by Bosrivier links om die klimme Vanwyksdorp toe te vermy. Daar is wel 'n paar klimme maar nie naasteby so erg soos die op die pad Vanwyksdorp toe nie. Na mog 4 kilometer is dit weer regs langs die Grootrivier af en dan na nog 3 kilometer links op die R327 en oor die Grootrivier na Muiskraal. 


Die weer is eintlik baie lekker, maar dit lyk reënerig na die suid ooste en die wind waai ook vandaar. Die gevolg is dat dit op 24 kilometer begin reën. Ons het die res van dag, tot so 5 kilometer van ons eind bestemming heeltyd aan en af reën. Gelukkig is dit meer 'n gedrup, drup en nie deurdringende buie nie! Verder wissel die temperatuur so tussen 13 en 18 grade Celsius, dus nie te koud nie. 


Ons kom na 3:13:14 by Muiskraal aan. Soos gewoonlik stel die plek ons teleur! Ons koop elkeen 'n blinkie Coke en ek koop ook 'n sakkie gedroogte perskes. Ons val na 11 minute weer in die pad. 1.5 kilometer met die teerpad Ladismith toe en dan links op Brandrivierpad. Hierdie is weereens op en zf met 'n paar langes! Ek haal 65kpu teen een van die afdrandes. Op 70 kilometer draai ons links na Gysmanhoekpas. Toe ek en Mike in Junie hier was, was daar nog 'n verblykte boordie wat die maam aangedui het. Nou is daar met die pale oor! 


Ons stop vir "middagete" en ek eet die twee eiers wat in my "breakfast pack" was en twee gedroogte perskes. Na 8 minute rol die wiele weer. Dit is 3 kilometer tot by die begin van die Gysmanshoekpas se klim. Die klim is 400 meter oor 'n afstand van 3.7 kilometer. Dit neem my net minder as 'n uur om die klim te oormeester. Ons vorder vandag besonder goed en is heelwat vinniger as die vorige kere wat ek hier oor is. Anderkant af stop ons by die stroompie om ons waterbottels vol te maak. Die 7 kilometer af neem om maar versigtig want die pad is redelik rof. Ons verkyk onsself ook aan die lieflike natuur skoon om ons. 



Wanneer ons by die grootpad aansluit is dit regs en bult af huis toe! Daar is egter so 'n paar "knoppe" waar ons moet oor en 'n diep drif aan die begin van die laaste klim. Ons kan weer nie te vinnig bult af nie want daar is 'n paar skerp draai en die nat pad is glad! Op die reguit stukke haal ek 55 kpu! Daar is een kwaai klim van 1.85 kilometer met 93 meter se klim. Dan kom die laaste klim. 3.66 kilometer met 190 meter se klim. Dit neem my 42 minute om hierdie laaste struikelblok te oorwin. Nou is dit alles bult af tot by ons bestemming. Ek moet weer versigtig wees as gevolg van nattigheid op die pad en die Afdelingsraad werk aan die pas so daar is 'n paar konstruksie voertuie. 



Na 98.37 kilometer en 7:24:40 se ry met 1,883 meter se klim, kom ons ny ons betemming aan. Baie goeie tyd, veral indien omstandighede in ag geneem word. Wind van agter van kilometer 33 tot 70 het seker gehelp om dit te vermag. 




 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking