Na 'n goeie kuier en lekker gesels, kom ek weer net voor 08:00 weg. Dit was eintlik 'n bietjies te laat, maar ek het nie verwag dat die dag so lank sou wees nie! Net voor ek ry, lig Bennie se gas my in dat die wind van voor gaan wees!
Die eerste 28 km verloop goed, met min wind en die pad meer af as op! Dan begin die wind! Aanvanklik redelik lig, maar hoe later hoe kwater. Verder neig die pad meesal op. Nie erenstig nie, maar net so dat dit moeilik is om 'n goeie gemiddelde spoed te handhaaf. Dit wissel so tussen 10-15 kpu. Na 30 km draai ek links op die Rietfontein pad. Aanvanklik is die pad baie goed, maar vanaf so 35 km raak die al slegter. Heel rybaar, maar baie klipperig. My water raak ook min en hier is nie veel lewe nie. Ek is lankal by Rietfontein verby en toe was water nie 'n probleem nie. Ek ry verby Boschfontein, maar die hek is gesluit! Op 78 km kry ek 'n huis wat duidelik baie onlangs voltooi is. Ek ry daar in maar daar is ook niemand nie. Daar is ook nie water in die krane nie. Gelukkig is daar 'n 5 liter waterbottel wat so kwart vol is. Ek maak my waterbottels vol en eet die padkos wat Aneen vir my ingepak het.
Die pad word al meer klipperig, so vordering is redelik stadig. Die wind druk ook heeltyd van vooraf. Na 88 km kom ek by die Winterhoek/Steytlerville pad en draar links Winterhoek toe. Nou is ek op die pad wat ek 2024 vanaf Marlu na Uniondale tydens BB2BB2 gery het. Dit is nou net skouer aan die wiel sit oppad Willowmore toe. Die pad is lank en die son sak. Volgens my berekening sal ek so tussen 19:00-20:00 in Willowmore aankom. Dit raak donker en net voor ek die R339 bereik, skakel ek my ligte aan. Ek ry nou al 10 uur 30 minute lank en daar is nog 17 km oor. Nog net een bult dan is dit meesal af Willowmore toe. Die voel soos 'n ewigheid om oor die kruin van daardie bult te kom en die pad tot by die N9 kry! Dan nog 4.5 km tot by Willows Gastehuis waar ek 19:22 arriveer. Ek bad gou en geniet 20:00 lekker groente sop en pasta. Daarna bed toe!
Dit was 'n lang dag! 11:24:20; 136.39 km met 1,560 meter se klim.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking