Vrydag 03 Julie 2026

FC2026 Dag 22 Gamkaskloof na Sandrivier

 FC2026 Dag 22 Gamkaskloof na Sandrivier


Die oorsponklike plan was om tot by Anysberg te ry maar ons besluit om net tot by Sandrivier te ry want Gamkaskloof is verspoel en Anysberg gaan net te ver wees. Ons beplan ook so dat ons teen daglig by die kruising van die Gamkasrivier uitkom sodat ons kan sien hoe hoog die water is en dit sal net veiliger wees om in daglig die rivier oor te steek.


Die wiele begin 06:04 rol. Andrew Purnell begin saam met ons. Die vordering is maar stadig want die pad het heeltemal verspoel en is baie klipperig. Daar is ook heelwat strome wat ons moet oorsteek. Ons bereik die Gamkasrivier net na dagbreek. Dit lyk redelik en ek begin loop. Dit was 'n groot fout! Ek moes my selfoon en handskoene bo in my rugsak gesit het voordat ek begin het. Andrew trek sy fietsry klere uit en stap deur met skoene en in gewone broek, wat blyk 'n baie wyse besluit te wees. Half deur die rivier styg die water tot by my middel en my selfoon, wat in 'n sakkie is wat veronderstel is om waterdig te wees, is nou onder die water. Ek stoei ook met my fiets teen die stroom, wat veroorsaak dat my handskoene nat word. Die stroom is redelik sterk en ek vind dat die fiets aan my regterkant, waar die stroom vandaan kom, is. Hy moet eintlik links wees. Die gevolg is dat ek moet omdraai en agteruit moet loop! Die stroom is te sterk om die fiets om te ruil. Vordering is baie stadig. Wanneer ek op 'n punt kom waar die stroom nie so sterk is nie, draai ek om en kry my fiets aan stroom af se kant. Ek haal die anderkant sonder enige verdere probleme, maar nou is ek halflyf nat en dit is redelik koud. Ek haal my selfoon uit sy sakkie en sien dat hy darem nie te nat is nie en sit hom bo in my rugsak. Dan begin ek onmiddellik ry om ligaams hitte te probeer genereer. Die werk nie eintlik nie en ek stop om droeë klere aan te trek. Dit neem 'n rukkie en wanneer ek klaar is, is die ander twee weg! Nou maar aansukkel op my eie. Die grootste gedeelte van die pad is totaal onrybaar. Daar waar die pad was, is nou net gate en/of groot klippe. Na wat soos 'n ewigheid voel kom ek by die laaste bult voordat die Leer begin. Die is so styl dat dit net gestoot kan word en dit neem lank. Anderkant af kan ek die eerste deel ry dan is die pad weer chaos! Dit neem my 'n hele rukkie om tot aan die voet van die Leer te kom. Hier tref ek 'n groot verligte Tilla aan. Sy is so bly om my te sien, sy gee my sommer 'n druk! Sy was bang dat ek dalk teespoed opgetel het. Sy het intussen die ingange na die Leer verken en ons begin die groot tog.


Oor die Oshoekhangsrivier en agter die twee popelier bome deur na die begin van die Leer. Die Leer is ongeveer 1.7 km, jy klim 383 meter en dit neem ons 2:29 om tot bo te kom. Dit is bykans onmoontlik om te beskryf hoe moeilik dit is! Die "pad" is klipperig en baie styl. Die enigste manier om jou fiets daar op te kry is om hom op jou rug te tel en so te dra. Hy lê dan op jou rugsak wat help met gewigs verspreiding. Die probleem is dat daar ook bosse/klein boompies is en so elke nou en dan hak 'n wiel daaraan vas. Dan moet jou hom óf los ruk óf dwars draai om verby te kom. Ons bestyg die Leer rus-rus. Die Scoulars steek ons halfpad verby. Van die bopunt van die Leer na die Bos Luyskloof pad is 9.76 km. Die pad is gedeeltelik rybaar, maar daar is nook groot stukke wat net te rof en te styl is. Ek is verby moeg en Tilla gaan vooruit. Op die laaste bult wag sy vir my. Dit het my 2:34 geneem om die 9.76 km af te lê. Ek stel voor Tilla gaan op haar eie aan en ek sal agterna kom. Die stuk af na die groot het ook 'n paar rowwe gedeeltes en op 'n kol kry ek dit reg om net betyds te stop voordat ek val. So 'n ent af in die pad is 'n groot hek wat gewoonlik oop is, maar vandag is dit gesluit. Daar is geen manier om oor of om die hek te kom nie, maar Tilla is nie daar nie, so sy moes deurgekom het. Ek druk knoppies vir Bos Luyskloof, maar niks gebeur nie. 'n Ruk later sien ek iemand het 1234 in die sand anderkant die hek geskryf. Ek probeer dit en "voila", die hak gaan oop. Tilla vertel my later dat sy net besluit het om 1234 te probeer en toe dit werk skryf sy dit vir my in die sand! Van hier is dit 'n rustige ry Sandrivier toe met een lang klim wat darem rybaar is.


So kom nog 'n avontuurlustige dag tot 'n einde.


Data vir die dag: tyd 11:03:35; Afstand 39.86 km; klim 1,377 meter.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking