Maandag 16 Maart 2026

Bloubergstrand na Bridgetown vir CBMC naweek

CBMC beplan ‘n Manne kamp by Bridgetown vanaf 13 -15 Maart 2026 en ek besluit om dit by te woon en om, as oefening, met my fiets daarheen te ry. Ek vertrek Vrydagoggend 13 Maart 09:10, na ons plaaslike CBMC byeenkoms, uit Bloubergstrand.

 

My beplande roete is oor Kalbaskraal, Malmesbury, ou Piketberg pad en dan af Bergrivier toe. Vanaf Blouberg tot by Malmesbury is dit meesal teer, maar dit is ‘n lekker stil pad en dit neem my 3:23:21 om die 59.9 km af te lê. Ek stop by ‘n garage om ‘n liter Coke te koop. Daarna stop ek ook by Seattle vir koffie en ‘n ietsie om te eet. Ek laat my bottle volmaak met koue water. Teen 13:00 val weer in die pad. 

 

Die res van my roete is alles grootpad. Op hierdie stadium staan die temperatuur op 37 grade Celsius. Ek loop ‘n dame, wat draf, langs die pad raak en vra, so in die verby gaan vir haar “ wie is die malste, ek of jy?”. Sy antwoord “ja Oom ek wonder self!”. Die pad oppervlakte is baie goed en hier is baie min verkeer. Die temperatuur is besig om te klim en binne 10 minute staan dit op 45! Op 82 km daar ek af na ‘n plaas om te kyk of ek hier nog water kan kry nie. Daar is nie veel lewe nie, maar ek kan darem die Coke bottle, waarvan ek alles al teen die tyd gedrink het, vol maak met “lou” water uit ‘n kraan. Die temperatuur styg tot in die hoë 40tigs en draai by 50! Nou bak ek behoorlik! Ek gooi van die water in die Coke bottle oor my kop om af te koel. Op 86 km draai ek regs af op ‘n pad wat my nader aan die rivier sal neem. Op 91 km kry ek weer ‘n plaashuis, waar daar die keer lewe is, en laat maak my waterbottel weer vol. Die temperatuur het nou na ‘n meer “aanvaarbare” 45 gedaal! Op 95.6 km sluit ek by die Gouda pad aan.

 

Intussen het my selfoon, wat ek vir navigasie gebruik, se battery na onder 20% gedaal. Ek koppel my batterypak sodat hy kan laai. Na so ‘n ruk se ry sien ek ‘n boodskap op my selfoon: “Moister has been detected”. Ek neem aan dat van die water wat ek oor my kop gegooi het ietwers iets moes laat nat word het. Die netto effek is dat die batterpak ophou om my selfoon te laai! Ook nie lank nie, toe is hy heeltemal dood! Nou sal ek maar op my Garmin moet terugval vir navigasie. Ek soek Bridetown maar kry dit nie op my Garmin. Gelukkig weet ek waar dit is en kan dit op die Garmin kaart identifiseer. Daar is nog so ongeveer 16 km oor. Op 106 km sluit ek by die teerpad, wat vanaf die N7 na Bridgetown loop, aan. Op 110 km hoor ek ‘n motor aankom en die ry al stadiger hoe nader hy kom. Ek weet toe sommer onmiddellik dat dit van die CBMC manne moet wees. Toe die motor langs my in trek, toe sien ek ek was reg. Ons gesels so in die ry en ek vra vir nog water. Hulle hou stil en gee my ‘n bottle koue water en ‘n bietjie ys. Dit is darem nog net 2 km tot by Bridgetown en dit is nou alles afdraend. 

 

Na 7:08 in die saal en 112 km kom ek net na 16:15 by my bestemming aan waar die temperatuur op 43 grade staan! Dit was voorwaar ‘n besondere ondervinding. Ek dink nie ek het al ooit so lank in sulke hoë tempertature fiets gery nie. Gedurende die naweek bly dit warm. Kobus Toua bied aan om my fiets op sy bakkie te laai en my huis toe te neem nadat die kamp tot ‘n einde gekom het. Na ‘n bietjie “groepsdruk” swig ek maar en aanvaar, met groot blydskap, die aanbod. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking